Karel Combrinck: Ommer as ‘n brommer – die storie van Leon Wessels

Leon Wessels

“Elke keer wanneer ek De Klerk se 1990 toespraak lees, klop my hart van opwinding. ” So skryf Leon Wessels in sy boek Vereeniging; die onvoltooide vrede. En dan beskryf hy diegene wat die toespraak anders ervaar, as “brommers”.

Nou het die woord “brommer” natuurlik meer as een betekenis. Die een betekenis is klakous of morpot en die ander een is dié wat op Leon Wessels betrekking het.

Pas skakel ek vir die eerste keer na ‘n lang tyd my motorradio aan en daar is ‘n bruikbare-idioot-Afrikaanse-omroeper juis besig om met Leon Wessels ‘n “onderhoud” te voer. In die onderhoud spoel Wessels sy kieste uit oor wat alles in die aanloop tot die 1994-oorgawe “agter die skerms” gebeur het. (Die Kreole in Mauritius het juis ‘n uitdrukking: praat net sodat sy mond nie moet stink nie). Ons weet tog almal van beter as om te dink dat daar op die ANC-spreekbuis iets ewewigtigs oor ‘n onderwerp soos hierdie te wagte kan wees.

Die joernalis het dus sy vrae mooi gekies om mnr Wessels in staat te stel om FW de Klerk se oorgawepolitiek ten gunste van die ANC in die mees gunstige lig te plaas en mnr Wessels se betoog het ongeveer soos volg verloop:

Pas voor die referendum het de Klerk tot die, vir hom, bloedstollende ontdekking gekom dat die Nasionale Party waarskynlik ‘n tussenverkiesing wat in daardie stadium op hande was, sou verloor en dat dit die doodsklok vir sy oorgawepolitiek sou beteken. In sy paniek oor hierdie, vir hom, katastrofiese vooruitsig, het FW de Klerk, na “samesprekings met sy kabinet” besluit dat as hulle ‘n kans wou staan om hulle “hervormingsbeleid” deur te voer, hulle so spoedig moontlik ‘n referendum sou moes hou in die hoop dat hulle sodoende genoeg steun sou kon verkry om hulle planne tot uitvoering te bring. En daar werk dit toe.

Die mees verstommende van hierdie relaas is miskien dat Wessels sy eie binnegoed so blootlê. Is dit uit linkse vermetelheid? Of dink hy dalk ons almal wat na hom luister is naïef genoeg om te dink hy is maar net “eerlik”? Is dit miskien omdat hy weet dat die meeste Afrikaners teen hierdie tyd reeds so ontmoedig en suf en verslae is dat hulle maar gedweë na enigiets sal luister al is dit dan ook komende van een van FW de Klerk se mees weersinwekkende agterrryers? En dan is dit natuurlik ook so dat daar op die SABC-radio nie veel anders is om na te luister nie.

Die Afrikaanse SABC-joernalis sou natuurlik aan mnr Wessels kon vra, “maar mnr Wessels, as julle dan so bang was dat julle ‘n tussenverkiesing sou verloor, wat het julle dan laat dink dat julle ‘n referendum sou kon wen? Is dit omdat julle geweet het dat die verwysingsraamwerk vir ‘n referendum anders is as vir ‘n normale verkiesing en dat julle die verwysingsraamwerk vir die referendum sou kon plooi en bekonkel om die stemmers om die bos te lei en so u doel te kan bereik ?” In ‘n verkiesing stem die kiesers vir ‘n kandidaat, in ‘n referendum spreek hulle ‘n mening uit oor ‘n beginsel, of so moet dit wees.

Wessels gee hoog op oor die reuseprestasie van die Nasionale Party dat hulle ‘n eenheidstaat met een sentrale regering tot stand kon bring. Maar hy verduidelik nie, en die bruikbare-idiootjoernalis vra hom ook nie, wat nou eintlik die voordeel van ‘n eenheidstaat sou wees behalwe dat dit voldoen het aan die begeertes van die ANC en dus ook van die NP. Duidelik sou ‘n beter en meer logiese oplossing vir alle Suid-Afrikaners, wit en swart, gewees het om die land te verdeel in onafhanklike, selfbeskikkende volkstate. Die onverdeelde Suid-Afrika onder ‘n ANC-bewind wat mnr Wessels as ‘n seëning beskou, is ‘n gedrog wat duidelik besig is om op ‘n ramp af te stuur. Dis net ANC-idealiste en sterrekykers soos mnr Wessels wat dit nie kan insien nie.

En dan maak mnr Wessels die asembenemende opmerking dat Dawie de Villiers die deurslaggewende stukrag agter die skerms was wat FW de Klerk tot sy ruggraatlose en skandelike oorgawe beweeg het, ” iets waarvoor de Villiers nooit die erkenning, eer en waardering gekry het wat hy verdien het nie”!!! Dit was vir hulle ‘n ‘n eer om ons land aan die ANC present te gee! Dis om van te stik. Hoe siek en verwronge kan mense word?

Leon Wessels is een van daardie politieke vlieë wat sy lewe slyt op soek na ‘n bol om op te sit : Oud Rapportryer, oud Broederbonder, oud NP Volksraadslid, oud Voortrekker, oud Minister en nou Direkteur van die Sentrum vir Menseregte, met wat dit alles impliseer ten opsigte van wat links en beklekkerig en anti-Afrikaans is – so op die patroon van die ou brommer indoena RF Botha wat selfs op sy oudag nog probeer het om ‘n baantjie in die ANC los te slaan as beloning vir sy bydrae tot die oorgawe. Die grootste en mees onwelriekende bol wat hulle kon kry en waaraan hulle klou vir lewe en dood, is die groot bol van Afrikanerverraaiers en daarop sit hulle nog steeds.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.