Zuma storm Londense bankiers met sy horings laag

Deel op

President Jacob Zuma het laat gisteraand ‘n kabinetskommeling aangekondig in weerwil van dreigemente van sy teenstanders om dit nie te waag nie.

Zuma se teenstanders is kennelik bereid om die land se ekonomie en die waarde van die rand op te offer, om beheer oor die party terug te kry en daarmee sommer tegelyk hulself in die voet te skiet deur die waarde van die Suid-Afrikaanse geldeenheid af te praat.

Die Rand het met vyf persent verswak nadat Gordhan afgedank en die minister van Binnelandse Sake Malusi Gigaba in sy plek aangestel is.

Sfiso Buthelezi is as adjunk-minister aangestel. Die rand het tot R13.45 teruggesak voordat dit effens herstel het. Anne Fruhauf, vise-president by New York-gebaseerde risiko adviseur Teneo Intelligence sê: “Die skuif het ‘n massiewe teenreaksie van die anti-Zuma-faksie uitgelok.”

Moody’s, die kredietgraderingsagentskap, het Suid-Afrika se status voorheen op twee vlakke bo rommel gestel, met ‘n negatiewe uitkyk. Hulle sal binnekort op 7 April, ‘n hersiening van die land se kredietwaardigheid publiseer.

Vyf ministers is deur Zuma afgedank en tien nuwe ministers en adjunkministers is aangestel. Nie een van die ministers wat in die pad gesteek is was na-aan die president nie.

Omstrede ministers soos die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini en die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi is behou. Muthambi is egter verskuif en is nou die minister van die staatsdiens.

Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party moet nou besluit of hy sy dreigement gaan deurvoer om al sy lede uit die kabinet te onttrek nadat Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas as minister en adjunk-minister van finansies afgedank is.

Die SAKP-lede in die kabinet is die minister van Hoër Onderwys, Blade Nsimande, die adjunkminister van Openbare Werke, Jeremy Cronin, die minister van sport, Thulas Nxesi, die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies en die minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel.

Die Parlement het bevestig dat die DA ‘n versoek ingedien het dat ‘n mosie van wantroue in President Jacob Zuma ingestel word.

Die twee grootste opposisiepartye, die Demokratiese Alliansie en die EFF, het aansoek gedoen om mosies van wantroue teen Zuma te bring.

Die woordvoerder van die Parlement sê die Nasionale Vergadering sal dit oorweeg en binnekort daarop reageer. Die DA-leier, Mmusi Maimane, het die mosie ingedien en sê dit is in reaksie op Zuma se kabinetskuiwe en die besluit om Gordhan en Jonas uit die tesourie te verwyder.

Dit is die eerste mosie van wantroue wat Maimane vanjaar indien. Hy het ook verlede jaar in Maart ‘n mosie van wantroue in Zuma ingedien ná die afdanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene, die vorige jaar.

Daarbenewens het Maimane verlede November ‘n soortgelyke mosie ingedien. Nie een van die mosies was egter suksesvol nie.

“Dit word as ‘n oop aanval op die Tesourie beskou om diegene wat teen korrupsie is, met mense lojaal aan Zuma te vervang om die Zuma-faksie te help wen in Desember,” sê Peter Attard Montalto, ‘n ekonoom by Nomura International Plc in Londen. “Dit is ‘n aanval op die instelling van die nasionale tesourie en as sodanig sal dit verskeie kredietafgraderings aktiveer.”

Gigaba, die nuwe minister van finansies, het by die Departement van Binnelandse Sake ‘n paar omstrede besluite geneem, soos meer onlangs inspeksies om seker te maak Suid-Afrikaanse besighede voldoen aan die vereiste om ‘n minimum van 60 persent Suid-Afrikaanse burgers in diens te hê.

Gerugte wil hê dat Gigaba die goedkeuring vir die Guptas se aankoop van die Habib-bank sal deurvoer, iets wat Gordhan nie wou doen nie.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die staatskapingsverslag van die Openbare Beskermer as een van die redes aangevoer vir hoekom hulle nie goedkeuring vir die aankoop van ‘n bank aan ‘n Gupta-gekoppelde maatskappy wou verleen nie.

Die maatskappy, Vardospan, het die hooggeregshof genader in Pretoria om die Reserwebank en Bank Registrateur te dwing om sy aansoek goed te keur. Die Reserwebank se advokaat Gilbert Marcus sê Vardospan het misluk om die “kompleksiteit” van die goedkeuringsproses te waardeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.