UV verheug dat Afrikaans afgeskaf word

Deel op

Die Universiteit van die Vrystaat is hoogs in hul noppies dat Afrikaans ‘n skop in die tande gekry het met die eenparige uitspraak wat vanoggend in die Hoogste Hof van Appèl gelewer is.

Die aansoek deur AfriForum en Solidariteit vir die tersydestelling van die besluit deur die UV-raad om ’n nuwe taalbeleid te aanvaar, is van die hand gewys.

Die hof het dienooreenkomstig opdrag gegee dat AfriForum en Solidariteit die UV se regskoste betaal, wat die regskoste van twee advokate insluit. Dit is die tweede keer dat die twee aansoekers beveel is om die universiteit se regskoste te betaal.

Die UV verwelkom verder die besluit deur die volle regbank dat die Vrystaatse Hooggeregshof verlede jaar gefouteer het deur aan te dui dat die UV-raad ’n irrasionele besluit geneem het deur die nuwe taalbeleid op 11 Maart 2016 goed te keur.

“Vandag se besluit is ’n mylpaal in die geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat en dit beklemtoon die belangrikheid van die besluit wat verlede jaar deur die Raad geneem is. Die besluit gaan gepaard met ’n verantwoordelikheid omdat ons nou moet seker maak dat al ons studente deel van die globale gemeenskap van akademici kan word deur die nodige ondersteuning aan hulle te bied. Ons moet ook sorg dat ons personeel en studente die implikasies van die hof se besluit verstaan,” het prof. Nicky Morgan, waarnemende Visekanselier en Rektor van die UV, gesê.

Die resultaat van vandag se uitspraak is dat die UV mag voortgaan om die nuwe taalbeleid volgens die Implementeringsplan in werking te stel. Die nuwe beleid behels Engels as die primêre medium van onderrig, maar met die bekendstelling van ’n studiestelsel in Afrikaans en toenemend in Suid-Sotho om studente se leer in hulle eerste en tweede studiejaar te ondersteun.

Die beleid is sedert Januarie 2017 met eerstejaarstudente in drie fakulteite van stapel gestuur: Regsgeleerdheid, Gesondheidswetenskappe en Geesteswetenskappe. Die meerderheid studente in hierdie fakulteite het hulle voorkeur aangedui om in Engels onderrig te word. Die Afrikaans-Engels-beleid sal in 2017 vir die res van die fakulteite behou word en sal vanaf 2018 volgens ’n implementeringsplan uitgeskakel word.

Huidige geregistreerde studente sal hulle studies kan voltooi in die taal wat hulle met registrasie gekies het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.