Die minister van Finansies, Pravin Gordhan is deur president Jacob Zuma teruggeroep. Hy het opdrag gekry om onmiddellik sy oorsese beleggingsreis kort te knip.
Zuma se skielike opdrag dat Gordhan moet terugkeer van sy oorsese sakebesoek aan beleggers het daartoe gelei dat die rand Maandag met minstens 2 persent verswak het.
Daar word bespiegel dat ‘n kabinetskommeling op hande is. Die Nasionale Tesourie het bevestig dat Gordhan en sy span nie die president sal ignoreer nie.
Gordhan, sy adjunk, Mcebisi Jonas, en ‘n afvaardiging sake- en arbeidsleiers sou met voornemende beleggers in Amerika en Brittanje vergader het.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het ontken dat die president se besluit tydens die afgelope naweek se vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee bespreek is.
Die hofsaak tussen Gordhan en die Gupta-familie se Oakbay Investments sal intussen vandag in die Hooggeregshof in Pretoria begin.
Die Gupta-familie se maatskappy – Sahara Computers – het volgens berigte hofstukke ingedien waarin hulle eis dat Gordhan die hofsaak bywoon.
Zuma het vroeër as belanghebbende tot die saak toegetree. Hy het voorheen erken dat die Gupta’s sy vriende is, maar sê sy verhouding met hulle is nie onvanpas nie.
Gordhan vra die hof om te beslis dat hy nie kan inmeng by die besluit van die land se vier grootste banke, om die rekeninge van die Gupta sake-ondernemings, te sluit nie.
Die minister voer aan dat die Gupta’s hom herhaaldelik gevra het om in te gryp sodat hulle bankrekeninge heropen kan word.