‘n Boek om nie mis te loop nie

Deel op

ImageNou onlangs lees ek dat die universiteit van Cambridge 'n Imperiale Bal wil hou, maar dat daar allerweë sterk teenkanting by die instelling self teen so 'n geleentheid is, ook vanweë die feit dat die Britte, in hul vervloeë uitbreidingsdrang, weinig het om op trots te wees sedert hulle die eerste konsentrasiekampe ontwerp het wat tot die dood van duisende Boerevroue en kinders gelei het.

Deel op

'n Publikasie wat hierdie toedrag weereens onderstreep, is die heruitgawe van Songs of the Veld and other poems deur Sederberg Uitgewers. 'n Lieflike, keurige band vol verrassings.

In die voorwoord skryf die veelvereerde en vermaarde kultuurkroniekspesialis, Marthinus van Bart, dat dit nie net berede Transvalers en Vrystaters was wat die grootste koloniale mag die stryd aangesê het nie, maar ook vroue, kinders, gewone Kaapse burgers. Deur lydelike verset het hulle opgestaan teen die onreg van Britse hebsug. Van Bart herinner die leser trouens aan die monument by Laborie wat juis ter ere van hierdie stille ondersteuning opgerig is.

Die pragtige gedigte in die bundel vervat, opgedra aan "alle rebelle van die verlede, hede en toekoms", vertel die verhaal van daardie verset buite die grense van Suid-Afrika ten tye van die Vryheidsoorlog. So lui die laaste reëls op p.92 van die gedig Here, not there, the tragedy:

'Tis here – midst boasted liberty!

Here in free England's callous air –

Where ne'er is heard a repentant prayer;

[…]

Here lies the tragedy – not there.

Voorts is daar hartroerende titels soos The souls of the children en The lost children uit die pen van verskeie onbekende digters. Bertrand Shadwell, die Amerikaanse vryheidsdigter, se vers oor De Wet dra dieselfde heldeverering as wat onlangs vir de la Rey onder Afrikaners opgewel het. Shadwell, waaraan 'n hele afdeling gewy word, het nie alleen oor die Anglo-Boereoorlog gedig nie, maar ook oor die Filippynse onafhanklikheidsoorlog (1896-1902) waarin hy Amerika van oorlogsmisdade aankla.

Sy treffende slotreëls van De Wet lui soos volg:

Who strikes by night, when the moon is set?

And the dead make answer, "De Wet – De Wet".

Die faksimilee-uitgawe bied 'n dieper insig in die gebeure rondom en tydsgewrig waarin die vryheidstryd gevoer is. Behalwe die grys-en-sepia sjarme van die faksimilee – die gedigte is gebundel nadat dit in die Britse tydskrif The New Age verskyn het – en die sorg waarmee die boek gemaak is, is dit 'n fassinerende verhaal wat 'n unieke blik bied in hoe die politieke spel dikwels verloop.

Interessant sal lesers dit ook vind om C. Louis Leipoldt se eerste gepubliseerde gedig in die bundel aan te tref. Leipoldt het, soos vele ander bydraers, uit vrees vir vervolging en die doodstraf, anoniem gedurende die oorlog van Mei 1900 tot 7 Oktober 1901 verslag gelewer waarin hy die rol van ondermeer vroue intellektuele belig het. Die berigte het ook onlangs in boekvorm verskyn, saamgestel deur Wium van Zyl onder die titel Hierdie land van leuens.

Songs of the Veld is 'n tweetalige boek om nie mis te loop nie. Benewens die aanhaling van Gaius Julius Civilis, is daar die aangrypende frase uit Also sprach Zarathustra van Nietzsche:

Van alle geskrifte het ek net

dít lief wat in bloed geskryf is.

Skryf in bloed:

en jy sal ontdek

dat bloed gees is.

гольфы девочки 8 летЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.