Brief: 22 April, ‘Uncle Angus’ en ‘n onseker tyd

Angus Buchan

Na aanleiding van die hewige debat oor “Uncle Angus” wat op sosiale media aan die gang is, kan ek nie verhelp om oor ‘n paar dinge te wonder nie. Dit is duidelik dat hierdie debat baie mense erg ontstel aan beide kante en intussen bloei daar seker weer vanaand ‘n boer ongesiens in die agtergrond.

Ek ken nie vir “Uncle Angus” nie. Ek is nie hier om ‘n oordeel te vel oor die man in die middel van die storm nie. Dit kom my nie toe nie. Hierdie is ‘n eerlike poging om objektief na die situasie rondom die saamtrek te kyk… Zoem-Zoem draai die bye terwyl ek my kop dieper in die bynes steek…

Die eerste vraag is hoekom duisende mense 100km, 400km, 1000km sal ry om na die saamtrek te kom? Daar was al baie sulke aksies deur ander mense, maar niemand kon so baie mense trek nie. Kom die mense omdat dit “Uncle Angus” is? Hoekom is dit nie goed genoeg vir duisende mense om daardie dag in jou huis of gemeenskap of plaaslike kerk te bid nie, maar eerder daar waar “Uncle Angus” is? Baie mense reken hy is ‘n ware man van God, maar as dit die argument is, beteken dit indirek dat jou plaaslike geestelike leier nie ‘n man van God is nie? Of is “Uncle Angus” ‘n beter/groter man van God? Is daar trappe van vergelyking? Wat maak “Uncle Angus” beter as die geestelike leier in jou gemeenskap?

Die tweede vraag is of gebed meer kragtig is in ‘n groep? Ek neem aan al die mense wat soontoe gaan, bid by hulle huise ook? Met ander woorde daar is nie meer mense wat gaan bid daardie dag as die vorige dag of die dag daarna nie. Hulle gaan nou net saam op een plek bid. Maak dit ‘n verskil? As gebed kragtiger is in groot groepe, hoekom is die Bybelse opdrag dan om in jou binnekamer te gaan bid?

Die derde vraag is: wat verwag die mense van die 23ste April? Moenie ‘n fout maak om te dink ek dink nie God is in staat om in te gryp en wonders te laat gebeur nie. Ek is oortuig dat Hy op Sy tyd ingryp en uitkoms gee, maar ek kan nie verhelp om te wonder of die mense dink die 23ste April gaan beter wees nie. Indien ons almal oortuig is dat dit die geval is, dat dinge die 23ste April gaan beter wees, hoekom dan so lank wag? Hoekom dan nog ‘n maand se plaasmoorde, verkragtings en ander gruwelike dade laat gebeur? As ons regtig oortuig is dat so aksie dinge kan verander, dan moet ons mos haas maak daarmee?

Op 22 April 1994 was Suid Afrika besig om reg te maak om die ou vlag te stryk, verkiesing te hou en die nuwe Suid-Afrika te betree. Elders in Afrika gebeur die volgende:

April 22, 1994: More than 7,000 Tutsi are murdered at Gatwaro-Kibuye stadium. Interahamwe and members of the army assassinate the sub-prefect of Butare Zéphanie Nyilinkwaya and 14 members of his family. At Sovu convent, 6,500 people are killed with guns, machetes and clubs. A further 500 are trapped in a garage and burnt to death, using petrol supplied by nuns.

(https://inyurabwenge.wordpress.com/2014/10/06/the-real-rwanda-untold-story/)

Nou voor jy van jou stoel afval en aanneem ek maak die afleiding dat die saamtrek aangeval gaan word, haal net eers diep asem. Dit is nie die punt wat ek wil maak nie.

DIe punt wat ek wil maak, is dat terwyl een groep met een idee sit, daar ander groepe is met ander idees. Gevaarlike agendas is besig om kop uit te steek. Lelike, bose dinge is aan die broei en ons gaan heel moontlik nog onbeskryflike boosheid sien en ervaar in ons leeftyd. Gaan ‘n dag van gebed dit kan omdraai? Ek is dalk liggelowig of te realisties, maar ek reken die kanse is goed dat daar ‘n boer aangeval sal word na die 22ste April. Ek reken dat daar ‘n lewe geneem sal word in hierdie land na die 22ste April. Ek reken dat die opwinding rondom die byeenkoms vir baie mense van korte duur sal wees as hulle Maandag die koerant optel en sien wat gaan aan in die land…

Is dit dan “Uncle Angus” se skuld? Het ons dan nie ver genoeg gery vir die saamtrek nie? Het ons dan nie hard genoeg gebid nie? Is ons geloof te klein?

Nee.

Ek is van mening dat ons mense op soek is na ‘n “quick-fix”. Ek dink ons mense sien “Uncle Angus” se saamtrek in baie dieselfde lig as wat ‘n boemelaar ‘n loterykaartjie sien. Dit is ‘n kans. As dit werk, dan het ons vrede in die land op 23 April 2017. Dan is daar nie meer boosheid oor nie en ons almal lewe lekker en verdien baie geld en gaan hou vakansies by die see.

Want dan hoef ons nie ons weë te verander nie.

Kom ons maak ‘n Boere-som. As 1 miljoen mense die geld wat hulle sou bestee om na “Uncle Angus” te gaan luister (diesel, koeldrank, padkos, donasie, ens) vat en dit aan ‘n volksorganisasie skenk dan praat ons van R100 miljoen Rand wat skielik aangewend kan word vir die verligting van armoede onder ons mense, beveiliging van plase, werkskepping… Met R100 miljoen bou ons ‘n volkstaat! Maar op Saterdag 22 April gaan daar moonlik ‘n miljoen mense wees wat R100 meer diesel gaan uitry, ‘n koeldrank vir die pad koop, dalk tolgeld betaal en die werklikheid is dat daar moontlik R100 miljoen na besighede soos SANRAL, brandstofmaatskappye, Coke, Wimpy en dies meer sal gaan…

Maar wat is die ander kant van die argument?

Ons mense is vuisvoos en verwilderd en hier is iemand wat aan hulle hoop bied. Hier is iemand wat die verbeelding aangryp en ten minste iets doen. “Uncle Angus” is die naaste aan ‘n leiersfiguur wat daar bestaan vir baie mense. Hier is ‘n man van God wat ten minste iets probeer, so hoekom pla dit ander mense? Wat het dit met enige iemand anders te maak as ek saam met duisende mense wil saambid vir die land?

Kom ons wees nou maar eerlik- ons is maar lekker suurgat oor die storie. Meeste van ons is al langer as twee dekades besig om te baklei vir die volk en een en elke leier betrokke in die stryd ken die gevoel om voor ‘n saal met 20 mense te staan. Hier kom ‘n Engelsman verby en hy trek honderde duisende van ons mense op een dag saam…

Ons is die moer in vir ons eie mense wat met soveel passie en vuur iemand wat nie eers deel van ons volk is nie, ondersteun. Ons is die moer in want hy praat nie eers ons taal nie, maar mense bid saam met hom terwyl ons eie verootmoedigingsaksies geïgnoreer word. Ons is die moer in omdat ons mense hande vol geld in sy bakke gooi, terwyl hulle nie R50 het vir ons aksies om boere te beveilig op plase nie. Ons is die moer in omdat hy al weer vir die land se probleme bid terwyl ons volk soveel nood het en gebed nodig het. Ons is die moer in omdat ons nie weet van enige fondse wat hy al ooit beskikbaar gemaak het vir ons kultuur, taal, voortbestaan nie…

Ons is diep die moer in, maar eintlik nie vir “Uncle Angus” nie… Ons is die moer in vir ons eie mense. Dit voel soos verraad wanneer ons volk elke hand op die ploeg so bitter nodig het om te oorleef en dan ry duisende mense verby om saam met ‘n Engelsman vir die reënboognasie te bid… Ons is bitter oor die tyd, moeite en geld wat ons eie mense so maklik opoffer vir so ‘n saamtrek, maar dan nie R50 het vir ons eie Godgegewe volk nie…

Ons moet daaroor kom. Dit is nie vir ons om “Uncle Angus” en sy volgelinge te oordeel nie. Laat hy die Woord verkondig op sy eie terme, in sy eie taal en op sy eie manier… Dit maak ons tog niks. Laat die mense wat eerder hulle tyd, energie en geld op hom as in ons volk beststee dit doen. Laat ons wat nog altyd baklei het vir ons mense uit ons eie sakke en voor sale met 20 mense in, aanhou om dit te doen, want dit is op ons harte gelê, nie op syne nie.

Dalk net een laaste uitdaging aan die mense wat wel “Uncle Angus” toe gaan. Ek daag julle uit om ná die 23ste April R100 te skenk vir elke boer wat vermoor word op sy plaas aan die volksorganisasie van jou keuse. Dit is een ding om saam met “Uncle Angus” te gaan bid, maar dit is iets anders om regtig betrokke te raak by jou eie mense se toekoms. Dit is maklik om vir die dag of die naweek deur te skiet Bloemfontein toe, maar dit is moeite om in die aand na werk jou gemeenskapsvergadering by te woon. Myns insiens kan ‘n volk nie oorleef as daardie volk nie bereid is om te werk aan die oorlewing nie. As daar nie dade is nie, wat moet ons Vader dan seën?

In goeie sportmansgees belowe ek dan dat as daar in die ses maande na 22 April nie ‘n enkele boer of volksgenoot vermoor word nie, dat ek al “Uncle Angus” se boeke, DVD’s en CD’s sal koop en persoonlik by sy volgende saamtrek sal wees…

Is mos net “fair” of hoe “Uncle Angus”?

— J. S. van der Merwe

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.