Black Sash vra dat Grondwethof toesig hou oor Sassa-uitbetalings

Deel op

Die Grondwethof sal vandag die drukgroep die Black Sash (BS) se aansoek aanhoor om die ANC van ‘n yslike verleentheid te red.

Die BS eis dat die hof se rol as toesighouer oor die uitbetaling van maatskaplike toelaes, waarskynlik deur Cash Paymaster Services, heringestel word.

Dit volg nadat die Hof in 2012 beslis het dat Sassa se besluit om die tender aan CPS toe te ken, grondwetlik ongeldig was.

Die kontrak van vyf jaar, wat op 31 Maart verstryk, is ondanks die beslissing gehandhaaf, hangende die verkryging van ‘n nuwe verskaffer.

Sassa het die Hof egter twee jaar gelede ingelig dat hy vanaf 1 April vanjaar self die toelaes gaan uitbetaal. Op grond hiervan het die hof sy toesighoudende jurisdiksie nagekom.

Sassa het egter intussen te kenne gegee dat hy nie self die toelaes kan uitbetaal nie en genoodsaak is om ‘n nuwe kontrak met CPS aan te gaan om te verseker dat 17-miljoen mense wel oor sewentien dae hul toelaes ontvang.

Lede van die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge het ‘n beroep gedoen vir ‘n volledige Parlementêre ondersoek na die maatskaplike toelae-krisis.

Dit volg nadat die minister van Finansies, Pravin Gordhan, dié week voor die komitee verskyn het oor die Tesourie se rol in die oplossing van die krisis.

Gordhan het gesê die Tesourie is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om te verseker dat staatsgeld behoorlik aangewend word en daar rekenskap van gegee word.

Lede van Skoor het hulle tevredenheid met sy voorstelle te kenne gegee, maar gesê dit is duidelik dat die saak verder ondersoek moet word.

‘n Blitsdebat oor die kwessie is Dinsdagmiddag gehou waar daar opnuut ‘n beroep gedoen is vir die Minister Bathabile Dlamini se bedanking.

Dlamini het tydens die blitsdebat teen die opposisie uitgevaar. Sy het na hulle verwys as doemprofete en hulle daarvan beskuldig dat verwarring onder die begunstigdes gesaai word.

Volgens Dlamini wou die opposisiepartye hulleself as morele verlossers uitbeeld, terwyl hulle eintlik die krisis wou vererger.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.