Kaapse fietstoer waai weg, opbrengste na plakkers

Deel op

Die bekende Kaapstad-fietswedren het weggewaai in stormsterk windtoestande, vir die eerste keer in 40 jaar.

Sondag was die organiseerders gedwing om die remme van die kolossale Argus-wedren aan te slaan, slegs minute voor ‘n see van 35 000 fietsryers in die afgesperde strate van die Kaapse Skiereiland sou meeding.

Stormsterk winde naby aan 100 km het fietse weggewaai by die Kaapstadse Burgersentrum waar die wedren sou begin.

Die Kaapse Dokter het dit byna onmoontlik vir tweewielruiters gemaak om in die saal te bly. Maar dreigemente van geweld deur plakkers en rookinaseming was ander faktore wat die organiseerders die handdoek laat ingooi het.

Die dreigemente van gewelddadige protes en die risiko van die gevolge van die verwoestende brand in die plakkerskamp by Houtbaai, het ook fietsryers lugtig gehad.

Wedrendirekteur Dave Bellairs het aan die Cape Argus gesê. “Ek dink nie dis ‘n krisis nie, want natuurlik is die wind nie iets wat ons kan beheer nie.

Bellairs het gesê hy hoop die reputasie van die wedren sal nie skade ly as gevolg van die kansellasie nie. “Die oorgrote meerderheid van die fietsryers het die besluit om te kanselleer ondersteun.”

Praag het met ‘n pa en dogter gesels van Johannesburg wat vir die eerste keer sou deelneem en hulle was baie teleurgesteld oor die besluit, ook omdat die organiseerders nie gebeurlikheidsplanne in plek gehad het nie.

Die opbrengste van die wedren gaan glo aan die plakkers geskenk word. Bellairs het gesê die beplanning vir die 2018 wedloop sal Maandag begin.

Intussen moes Kaapstad noodskuiling beskikbaar stel vir die 15 000 plakkers wat geraak word deur ‘n verwoestende brand wat Saterdag in Imizamo Yethu, Houtbaai 3 500 huise in puin gelê het, het die Stad Kaapstad gesê.

Rampbestuur se woordvoerder Charlotte Powell het gesê die departement is in noue samewerking met ander stadsdienste en nie-regeringsorganisasies om die kwessie aan te spreek.

Die brand het uitgebreek kort ná middernag Saterdag, en plakkers het gevlug met hul besittings uit die smal stegies tussen die sinkhuise na die veiligheid van die omgewing se teerpaaie.

Twee plakkers is dood in die brand. Intussen het ‘n span van 30 brandbestryders gereageer op ‘n vuur teen die berghange langs Ocean Viewrylaan op Seinheuwel Sondagmiddag. Vuur en reddingsdienste woordvoerder Tracey Whittaker het gesê vyf brandweerwaens en vyf watertenkers is gestuur.

Die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie.

In Durban is alle strande gesluit nadat uiterse weersomstandighede daartoe gelei het dat drie mense beseer is.

Reuse branders wat breek oor die promenade by Noordstrand, het ondernemings gedwing om te sluit. Die hoof van eThekwini-munisipaliteit se parke-afdeling, Thembinkosi Ngcobo, sê twee van die mense is op die toneel behandel terwyl ‘n derde na die hospitaal geneem is.

Hy sê sommige van die restaurante moes die naweek sluit. Ngcobo sê die situasie word gemonitor.

Die meeste strande is steeds gesluit vir opruimingswerk na wat beskryf word as ‘n “mini-tsoenami” wat die kus getref het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.