Twee polisiebeamptes en ‘n voormalige polisiebeampte is vanmiddag in ‘n skietvoorval in Kimberley se middestad dood.
Polisiewoordvoerder Mohale Ramatseba sê ‘n voormalige polisiebeampte het by die polisie se provinsiale kantoor, waar sy vrou werksaam is, opgedaag. Hy wou haar na bewering aanrand, en het later uit die kantoor gehardloop, in sy motor gespring en weggejaag.
Polisiebeamptes het hom agternagesit.
By ‘n verkeerslig voor ABSA-bank het hy uit die motor geklim en op die polisiebeamptes losgebrand. ‘n Oor-en-weer-skietery het gevolg.
Ramatseba sê die oud-polisieman het drie beamptes gewond. Een van hulle is op die toneel dood. Die ander twee is hospitaal toe geneem, waar een van hulle aan sy wonde beswyk het.
Die oud-polisieman is ook doodgeskiet.
Bron: OFM Nuus