Die polisie sê hulle het gebiede wat die ergste deur aanvalle op buitelanders en hulle sake-ondernemings geraak is, as prioriteitsgebiede geoormerk.
Rosettenville in Johannesburg en Pretoria in die Tshwane Metro het die ergste onder die vlaag gewelddadige aanvalle op buitelanders se winkels in die townships deurgeloop.
In Pretoria-Wes is hoofsaaklik Nigeriërs aangeval en van dwelmhandel, mensehandel en prostitusie beskuldig.
Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, sê die polisie sal voortgaan om die situasie in die betrokke gebiede te monitor.
Die ministers in die Justisie-, Misdaadvoorkomings- en Veiligheidsgroepering, sê die regering het gewaarsku teen sake-ondernemings wat buitelanders sonder dokumente in diens neem as ‘n manier om goedkoop arbeid te bekom.
Die regering sê sulke optrede deur sakelui skep spanning tussen plaaslike inwoners en buitelanders.
Die Minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê planne is gereed om inspeksies te doen.
Gigaba sê buitelanders sonder dokumente wat in die land opgespoor word, sal na hulle lande van herkoms teruggestuur word.
Hy sê tydens die vorige geldjaar is net meer as 33 000 mense gerepatrieer wat ‘n redelike duur proses is om uit te voer.