‘n Man wat graanboere in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap glo uit R7,6 miljoen met graantransaksies verkul het, verskyn na verwagting vandag weer in die Odendaalsrus-landdroshof.
Gavin Stanley (46) is vroeër op borgtog van R50 000 vrygelaat.
S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, sê die beweerde bedrog het in 2013 plaasgevind. Vyf graanboere van die Noordwes, Vrystaat en Noord-Kaap is na bewering deur Stanley bedrieg.
Stanley het glo voorgegee dat hy ’n koper het wat bereid was om goeie pryse vir graan te betaal. Die boere het glo ooreengekom dat Stanley die graan kon oplaai, waarna hy na bewering verdwyn het.
Volgens die aanklagte teen hom het hy in al die gevalle boere op dieselfde wyse bedrieg.
Bron: OFM Nuus