Agt mense, meestal polisiebeamptes, verskyn na verwagting vandag weer in die Bloemfonteinse landdroshof weens bedrog en korrupsie van meer as R5 miljoen.
Altesaam 150 vervalste eise is glo in ‘n tydperk van 20 maande aan polisiebeamptes in Bloemfontein uitbetaal.
‘n Finansiële klerk, Mpho Selesho, het glo die fiktiewe eise ontvang en goedgekeur. Daarvoor het sy glo meer as R1,8 miljoen verdien. ‘n Sakeman, Jack Tladi van Woodland Hills in Bloemfontein, het glo ook van die geld ontvang.
Die polisiebeamptes sluit in vier konstabels van die taktiese reaksie-eenheid in Bloemfontein – Mokate Madumisa, Moratoe Motsoeneng, Klaas Sereco en Patrick Sedio. Litaba Dodo en Jacob Mokhethi is luitenant-kolonels wat onderskeidelik in die departement van sigbare polisiëring en openbare orde werk.
Almal is vroeër op borgtog van R5 000 elk uitgelaat. Hulle staan tereg op meer as 270 aanklagte van vervalsing, bedrog, korrupsie en geldwassery.
Die aanklagte spruit uit beweerde vals eise wat tussen Januarie 2015 en September 2016 vir kos- en verblyfvoorskotte ingedien is.
Bron: OFM Nuus