Onthou Majuba!

Deel op

Die Boere van die ZAR (Transvaal) het te Majuba op 27 Februarie 1881 ’n klinkende oorwinning oor die Britte in die laaste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog behaal.

Op 12 Februarie 1877 annekseer Groot-Brittanje die Zuid Afrikaansche Republiek tot ’n kolonie van Brittanje. Brittanje het daardeur nie bloot die Sandrivier Konvensie van 1854 waarin die ZAR se vryheid gewaarborg verbreek nie, maar ook die Boere se vryheidstrewe ernstig aangetas. Ongeveer drie jaar opper die Boere protes teen die Engelse bewind maar word aan hul eise nie gehoor gegee nie. Op 10 Desember 1880 vergader 10 000 Boere by Paardekraal (Krugersdorp) en die besluit word geneem om tot ’n gewapende vryheidstryd oor te gaan.

Britse garnisoene is regoor Transvaal deur Boeremagte beleër terwyl ’n Britse konvooi by die Slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 verslaan is. Die Boeremagte was bykans deurgaans in die minderheid en met meestal uitgediende wapentuig. ’n Deel van die burgers is aan die grens tussen Transvaal en Natal (destyds ’n Britse kolonie) geplaas om die opmars van die Britse Generaal George Colley wat die Britte in Transvaal weer moes ontset te stuit. Die onderskeie slae van Laingsnek (aan die suidelike hange van Majuba berg) asook Skuinshoogte het aan die begin van 1881 daarop gevolg. In beide veldslae het die Boeremagte as oorwinnaars uit die stryd getree, maar is die oorlog nie beslissend ten gunste van die Boere beklink nie.

Ten einde die Boeremagte te Laingsnek te omseil het Generaal Colley gedurende die nag van 26 Februarie 1881 met ongeveer 405 manskappe die berg Majuba vanuit Mount Prospect aan die suidekant bestyg. Weens die steilte en die nag was die bestyging van die berg uiters moeilik. Die Britse manskappe is op die kruin van die berg geplaas ten einde met die hoogte en ligging daarvan ’n strategiese oorwinning oor die Boere te kon behaal.

Die Boere het eers die oggend van 27 Februarie 1881 besef dat die Britse mag die berg bokant hul stellings beset het. Die Boere het egter nie gevlug nie maar onder aanvoering van Generaal Nicolaas Smit georganiseer en so gou doenlik die berg bestorm. Veldkornet Fanus Roos en sy manne het reguit op na Gordon’s Knoll beweeg. Kommandant Joachim Ferreira en sy manne het parallel met Roos aan sy westekant teen die berg opgeklim. Veldkornette Malan en Trichardt met hulle manne het parallel met Roos aan sy oostekant die berg bestyg. Die kruin is gevolglik vanuit drie rigtings deur die jonger Boere bestorm, terwyl burgers oor die ouderdom van 50 jaar oor ’n lang afstand vanaf die groot terras teen die berg met akkurate vuur die Britte op die kruin onder druk geplaas het. Generaal Smit se opdrag was dan ook dat elke Engelsman wat sy kop oor die kruin steek onder lood gesteek moes word.

Die Britse magte was magteloos teenoor die moordende vuur wat die Boere op hul losgelaat het en het konsternasie uitgebreek toe die jonger Boere bykans gelyk vanuit die ooste, noorde en weste die kruin bereik het. Generaal Colley het midde die geveg op die kruin gesneuwel. Die Britte het suidwaarts oor die kruin begin vlug, soms blindelings van vrees na hul dood. Die Britse verliese was groot: Van die 405 het net 118 ongeskonde oorgebly. Die 120 Skotte het die swaarste gely – slegs 24 kon van die Boere se koeëls ontsnap. Die Slag van Majuba was ’n reuse-terugslag en verleentheid vir Brittanje.

Ongeveer 350 Boere het aan die slag deelgeneem, waarvan slegs 2 gesterf het. Na afloop van die Slag is die ZAR en die Boerevolk se vryheid met ’n vredesverdrag aan die hange van die berg in O’Niell se kothuis onderteken weer herstel.

Bron: Majubatrust

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.