Gustav Venter misken die HNP

Deel op

U skryfstyl laat mens wonder of u doelbewus daarop uit is om reaksie te ontlok.  Hierdie kort antwoord is egter nie daarop gebaseer nie, maar slegs om u bewus te maak van die feit dat u groter skade as Max du Preez kan aanrig aan die Afrikanervolk, ’n volk waarvan u vermoedelik ’n lid is.

Deel op

Dit is duidelik dat u die optrede van ’n sogenaamde boerseun, ‘Mad Max’, soos u hom tereg noem, nie goedkeur nie.  Dit is derhalwe noodsaaklik om sulke sake aan die lig te bring, selfs al neem dit u 7 240 woorde om die “pratende Max” aan te kla oor hoe hy sy woorde “rangskik en uitmarsjeer in ’n enkellinie”.

Wat u moontlik nie begryp nie, is dat u skrywe getuig van ’n gebrek aan politieke insig. U tirade oor die “verstokte wit NP, die mees verstokte organisasie in die geskiedenis van verstokte grotbewonerorganisasies”, mag dalk korrek wees aangesien daardie “verstokte” organisasie deur sy eie toedoen ’n verdiende dood gesterf het. Oor die KP, die AWB en die Volksfront sal die geskiedenis ook oordeel.

U stelling oor die HNP word egter met die minagting wat dit verdien, verwerp. Miskien behoort u eerder waardering te hê vir ’n party wat na 38 jaar steeds bestaan en in daardie tydperk alles in sy vermoë gedoen het om die verraad van die NP aan die kaak te stel en die huidige onwettige regime aan te val oor elke moontlike saak. En terloops, die HNP is springlewendig en beleef tans ’n ongekende groei en vooruitgang.  Ek wil u dus aanraai om u eerder te vergewis van die feite voordat u weer so ’n ondeurdagte stelling maak.  U stelling “maar wie onthou nou die HNP (die Ha en Pee)”, getuig nie net van u swak oordeel en insig nie, maar aan ’n tekort aan kennis van huidige gebeure rondom u.

Dit is duidelik dat u nie met die huidige politieke gebeure tred hou wanneer u  laat blyk dat u nie bewus daarvan is dat Afrikaners tans in hierdie land probeer om hande te vat ter eendragtige verset teen ons vyande nie.  Indien u dit wel besef, is u tans besig met doelbewuste kwaadstigting tussen volksgenote, en sal u uiteindelik daaroor moet rekenskap gee.

U beskuldig Max van die misbruik van “die magtige wapen”, sy pen.  U moet nie nog groter skade met dieselfde wapen aan die Afrikanervolk aanrig nie.uslugi-poligraf.comФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.