Brief: Die slak in ons midde

As jong dogtertjie het ons soms by oupa se huis gaan kuier. Ek en my neefs het met elke kuiertjie wat ons saam was, ‘n resies gehou. Jy sien, om een of ander rede het oupa se tuin, besonder baie slakke gehad. Na ete, as die grootmense rustig gaan sit en gesels, het ons na die voortuin verskuif. Versigtig het ons tussen die plante rondgeloer, baie versigtig om nie oupa se blombeddingrandjies van skuinsgepakte stene te versteur nie.

Elkeen gewapen met ‘n slak wat ons geglo het vir Zola Budd ‘n ding of twee kon wys, het ons versit na die resiesbaan. Oupa se viervoetmuurtjie voor in die erf was net breed genoeg vir twee slakke om gemaklik langs mekaar te “hardloop”. Aan die anderkant van die muurtjie, op die sypaadjie was enorme groot akkerbome. In die koelte van hierdie bome, het ons reggemaak vir die aksie.

Soms het ouma se kombuis ‘n klein bietjie sout vermis, wat op ‘n geheimsinnige manier in my sak beland het. (‘n Mens moet darem voorbereid wees indien jou keuse jou gruwelik teleurstel).

So sit ek anderdag en besef, dat ek steeds daardie slak in ons hedendaagse politiek beleef. Dis die slak wat baie mense uitgekies het om hulle wenner te wees. Die ooreenkomste is merkwaardig.

Net soos die slak in oupa se tuin, los ons hedendaagse slak (kom ons noem hom zoem-zoem), ‘n slymstreep agter hom. ‘n Slymstreep van korrupsie en onderduimsheid. Van wanbestuur en wanhoop.

Zoem-zoem is ook net so vaal, kleurloos en grillerig lelik soos my slak van destyds. By nadere ondersoek het ek gevind dat die reuse-Afrika-slak so groot word, ongelooflike hoeveelhede kos te verorber (klink gevaarlik baie soos n regeringspartytjie) en dat hierdie slak voorplant teen n ongekende tempo van tot 400 eiers per broeisel. Dit gebeur verskeie kere per jaar. Herinner my gou weer, hoeveel kinders het ons president nou weer?

Uit die aard en natuur van die organisme, is ‘n slak baie baie stadig. Dit het my verder oortuig dat zoem-zoem ‘n ware slak is, want in die termyn 1999 tot 2005 toe hy adjunkpresident van hierdie land was, sowel as die afgelope 10 jaar wat hy as sogenaamde president optree, het nog baie min dinge gebeur. Baie min het verander, om die waarheid te sê, baie meer dinge het agteruitgegaan as vorentoe.

Soos ek voorheen genoem het, is daar soms minder wettige maniere gebruik, om te verseker dat ‘n sekere slak die resies sou wen. My neef het soms met ‘n stokkie aan die voelers van my slak geraak, wat gemaak het dat hy skrik en in sy dop kruip. Net so raak die EFF en ander opposisiepartye soms aan zoem-zoem se voelers wat maak dat hy op vlug slaan, in sy dop kruip en eers heelwat later verskyn. Dit veroorsaak egter ook dat belangrike sake nóg langer neem om afgehandel te word, as wat andersins die geval sou wees.

Soms het ek egter ‘n bietjie sout oor die pad van my neef se slakkie gestrooi. Sodra die slak en die sout se paaie gekruis het, het die slak se slymerige voet stadig begin opkrul en hy het ophou loop, totdat hy eindelik in ‘n verdroogte opgekrulde bolletjie op die muurtjie bly lê het. Soms het ons die slakkie dan van die muurtjie afgestamp, waar dit in die tuin beland het en mettertyd weer onbind het as voedingstof vir die vrugbare grond.

Die Afrikaners praat soms van iemand as: die sout van die aarde. Wel, ek sou bitter graag die dag wou beleef as so ‘n sout-van-die-aardeman sou opstaan en sy paaie sou kruis met zoem-zoem. Ek sou graag wou sien hoe dinge in ‘n eens produktiewe en vrugbare land terugkeer na hoe dit was. Ek sou graag wou sien hoe so man ‘n einde maak aan die slymstreeppolitiek in hierdie land, waar mense mekaar haat, uitmoor en planne beraam om mekaar te vernietig, net oor dit so voorgeskryf word deur ‘n korrupte president.

Vandag is ek dankbaar dat oupa nie meer kan sien tot watter slymerige slakspul die land verval het nie, maar meer as dit, is ek jammer dat hy nie saam sal kan juig wanneer die sout-van-die-aardemense weer opstaan nie.

— Audrey Bierman

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Johann Schutte

    Is jy teleurgesteld? Het jy hoop gehad? Het jy hoop vir verbetering?

    Die ongeveer 30% van die blanke bevolking vir wie dit reeds voor 1992 duidelik was dat die NSA sal eindig in `n borrelende slym gemors (om jou metafoor te gebruik) is nie teleurgesteld nie.

    Ons is waarskynlik beter af met zoemzoem as met sy opvolger.

    • Ou Transvaal

      KOLSKOOT!!

      • Johann Schutte

        Die slak was reeds teenwoordig in die pre-94 politiek.