Amateur-antropoloë en opposisiepolitiek

ImageIn hierdie rubriek reageer ek op die debat oor die opposisie-politiek wat na aanleiding van Jan-Jan Joubert se artikel in die Johannesburgse dagblad Beeld ontstaan het. Ten eerste word gehandel met die “antropologiese” perspektief op die ANC as ‘n Afrika-beweging wat nie vir adversatiewe politiek vatbaar is nie. In die tweede plaas word die posisie van die opposisie behandel teen die agtergrond van die strukturele probleem wat deur Suid-Afrika se sentralistiese grondwet teweeg gebring is.

Die ANC

In die beste tradisie van adversatiewe politiek en in gemaklike geselskap met enige Engelse of Amerikaanse hofpraktisyn het Bulelani Ngcuka se regsverteenwoordiger, advokaat Morame met aggressiewe en vyandige kruisverhoor korte mette met Mac Maharaj en Mo Shaik voor die Hefer-kommissie gemaak.

Die Hefer-kommissie self bied ‘n sprekende aanskouingsles van hoe Thabo Mbeki hoogs doeltreffend en met die minimum van kritiek wat hy vir homself op die hals haal, sy opponente binne die ANC uitoorlê. Dit bied ‘n handboekgeval van doeltreffende politieke (en militêre) strategie, van hoe om met die minste moontlike energie-besteding en risiko jou opponent te elimineer. (Onthou dit gaan eintlik oor Jacob Zuma, wat, soos beplan, ná Hefer behoorlik aan Ngcuka – een van Mbeki se vertrouelinge – uitgelewer sal wees.)

Oor die afgelope dekade het die ANC met Mbeki aan die voorpunt sy Kommunistiese Party- en Cosatu- bondgenote onder andere deur ‘n mengsel van openbare vernedering en private afknouery gedissiplineer en behoorlik onder die duim van die party gebring. Die twee liggame – blote skadu’s van wat hulle eens was – het as gevolg daarvan grootliks hulle politieke relevansie verloor.

Die ANC het in 1994 die IVP met ‘n ooreenkoms onder andere oor beloofde federalisme, groter magte vir die Zoeloe-koningshuis, ens., tot deelname aan die verkiesing oorreed. Die IVP en Mangosuthu Buthelezi by name is op velerlei wyses daarna deur die ANC-leierskap verneder. Buthelezi, onder die bedreiging van hernieude geweld in Kwazulu-Natal, in die aangesig van aggressiewe adversatiewe politiek in Kwazulu-Natal onder die leierskap van Mbele, en ten spyte van die feit dat die federalisme-oorenkoms verbreek is, het in weerwil van sy klaarblyklike onvermoë om ‘n beduidende invloed op die breë gang van die politiek uit te oefen, het geen keuse nie as om steeds deel van die regering te bly.

Die NNP het ‘n ooreenkoms met die ANC bereik, wat aldus die NNP moes help om beter vir die minderhede te beding. Adriaan van Niekerk, taalombudsman van die party, moes toekyk hoe die verengelsingsbeleid in die openbare sektor onder die aanvoering van die ANC onverpoos voortgaan, ondanks aanhoudende klagtes daaroor. Van die voldoening aan die belange van die minderhede wat die NNP deur sy ooreenkoms sou bewerkstellig het, kom duidelik niks tereg nie.

Die Vryheidsfront het op die vooraand van die 1994-verkising ‘n ooreenkoms met die ANC bereik, wat in beginsel die deur vir ‘n volkstaat oopmaak. Die grondwet is te dien effekte gewysig. Elke keer as die Vryheidsfront met die regering praat, bevestig laasgenoemde by navraag dat die ooreenkoms wat na die volkstaat moet lei, steeds van krag is. Toe Orania se munisipale status twee jaar gelede ter sprake gekom het, het die regering die kwessie vermy en moes dit met hoë koste vir Orania (en die Vryheidsfront) in die hof verder gevoer word. Orania is steeds sonder munisipale status en die regering vermy dit om hierdie by uitnemend politieke kwessie in die gees van die ooreenkoms wat hy met die Vryheidsfront het, te hanteer.

Solidariteit het aanvanklik by monde van die voorsitter van die parlementêre arbeidskomitee, Salie Manie, gunstige seine van die ANC gekry oor die beoogde gelykheidsakkoord. Sedertdien hou die ANC Solidariteit nou reeds bykans twee jaar aan ‘n lyntjie oor die saak. Ons is tans net so ver weg van ‘n gelykheidsakkoord as toe die gedagte die eerste keer genoem is,

Hierdie voorbeelde (en nog ander kan genoem word) dui oorweldigend daarop dat ons in die ANC ‘n politieke beweging het met ‘n deurtrapte vermoë om sy doelwitte te bereik en om in die proses sy opponente met afdreiging, intimidasie, delegitimering, koöptasie, misleiding, onbepaalde uitstel van die hantering van vraagstukke, verontagsaming van ooreenkomste ens. te neutraliseer.

In hierdie opsigte onderskei die ANC hom nie as ‘n tipiese Afrika-beweging, of Westerse beweging of Kommunistiese beweging of regse of linkse beweging nie. Hy plaas hom bloot in die kategorie van tipiese politieke beweging wat soos die talle ander oor die eeue heen in Afrika, Europa, of waar ook al die vermoë om mag te maksimaliseer en opponente te neutraliseer, verfyn het.

Laat ons dus tog maar gerus die amateur-antropologie laat vaar dat ons eintlik die ANC as ‘n besonderse Afrika-verskynsel moet hanteer en dus noodwendig in terme van ‘n anti-konflikmodel versigtig en deurlopend vriendelik moet benader. Die ANC se rekord van politiek beoefen demonstreer duidelik dat daar geen rede is om die ANC as ‘n beweging van swartes te tipeer nie, maar juis as by uitstek as ‘n beweging wat stewig onderlê is in die logika en die strategie van magsmaksimalisering. Onderliggend aan die antropologiese kategorieë wat die afgelope paar dae die rondte gedoen het, is boonop ‘n verbysterend onrealistiese aanname dat die ANC in tradisionalistiese Afrikaterme vertolk moet word. ‘n Meer ongegronde lees van die ANC is nouliks denkbaar. Die ANC is ‘n tipies modernistiese beweging, wat hom bowendien konsekwent van Westerse denkbeelde bedien het. Die Freedom Charter is ‘n tipies Westerse dokument waarin die waardes van die moderne Westerse liberale staat omhels is. Die ANC het hom daarna in die grondwetlike onderhandelings met al die wesenskenmerke van die liberale staat vereenselwig: ‘n grondwet met fundamentele regte, ‘n konstitusionele hof, sekularisme, skeiding tussen kerk en staat, ens. Trouens, die ANC is waarskynlik in vele opsigte sterker met Westerse denkbeelde vereenselwig as sommige van die Westerlinge self wat die ANC Afrikanisties lees. In dié verband is dit noodsaaklik om daarop te let dat die gedagte van Afro-nasionalisme self (in terme waarvan ek die ANC vertolk) nié tradisionalisties nie, maar juis modernisties is aangesien dit ‘n nasionalistiese politieke denkbeeld verteenwoordig, soortgelyk aan die nasionalismes van negentiende-eeuse en twintigste-eeuse Europa wat rasioneel bedink is.

Die opposisie en die wentelbaan-verskynsel van eenparty-dominasie

Die opposisiepolitiek bevind sigself klaarblyklik toenemend in ‘n krisis. Bowendien word die krisis al hoe meer as sodanig beleef. Waar Peet Kruger byvoorbeeld drie jaar gelede bykans leedvermakerig gevra het watter haas vriend Tony uit die hoed gaan pluk om die ANC te troef, het Jan-Jan Joubert, ofskoon daar natuurlik van hom verskil kan word, sekere van die onderliggende probleme van die opposisiepolitiek en van die gevare wat dit vir demokrasie in Suid-Afrika inhou, aangespreek.

Die onderliggende probleem van die opposisie in Suid-Afrika is struktureel van aard. Meer spesifiek behels dit ‘n grondwetlike probleem wat al hoe duideliker voelbaar raak in die toenemende krisis van die opposisie. Dis ‘n saak wat trouens al herhaalde kere deur myself en ander opgehaal is. Juis daarom vind ek dit jammer dat deelnemers aan die debat na aanleiding van Joubert se artikel hulle geredelik tot oppervlakkighede gewend het soos om Tony Leon van arrogansie te beskuldig, of die DA van opportunisme ens. ens. Dit mag inderdaad so wees dat Leon arrogant is en dat die DA nie vry van opportunisme is nie. Dit sou egter ‘n heel maklike taak wees om in soortgelyke persoonlike terme ander partye en hulle leiers van arrogansie, opportunisme, geïntimideerdheid, oppervlakkigheid, kruiperigheid, ruggraatloosheid ens. ens te beskuldig. Die DA het nie ‘n patent op dié soort dinge nie. Dis egter nie ter sake nie.

Wat wel ter sake is, is dat Suid-Afrika ‘n sentralistiese grondwet het, en dat die ANC weens die rasseaard van ons politiek en met die swart steun waarop hy kan reken, van beheer oor dié magsentrum verseker is. Ál die opposisie-partye én die ANC deel dit tans met mekaar dat hulle òf nie die strukturele posisie as ‘n probleem beskou nie, òf verkies om dit nie aan te spreek nie, hetsy omdat hulle nie weet hóé nie, hetsy te lugtig is om dit te doen omdat die ANC dalk sal aanstoot neem en die toegang tot die president as gevolg daarvan in gevaar gestel sal word.

Die DA is weliswaar histories federaal gesind en het in die afgelope tyd weer enkele kere federale geluide gemaak. Tog sien die party skynaar nie die sentralistiese situasie as ‘n baie ernstige probleem nie en meen dat dit mettertyd genoeg steun sal kan monster om die ANC te verslaan. Die DA beskou die Suid-Afrikaanse politiek dus as basies bipolêr met die ANC as die een pool teenoor die DA (en moontlike bondgenote) as die ander pool. Aangesien hy homself as die teenpool van die ANC en as ‘n potensieel alternatiewe regering beskou, is sy optrede uitgesproke en selfstandig. Met die ANC as sy teenpool gee hy min om wat die ANC van hom dink. Trouens, wat die ANC en die regering van hom dink is nie vir hom ‘n faktor nie. Hy is per slot van sake ‘n selfstandige pool. (In dié opsig is die DA se optrede in pas met die optrede van sy voorgangers teenoor die Nasionale Party gedurende die vorige bedeling, asook soortgelyk aan die optrede van die groot Duitse, Britse of Franse partye teenoor mekaar. Let op dat die optrede nie bepaal word deur die vraag of die stelsel oor ‘n Westminster- of ‘n proporsionele aard beskik nie. Die optrede van die partye is in beginsel bedingend en mededingend.)

Die NNP en die VF Plus ens. het egter aanvaar dat die ANC se oorheersing van die politieke orde gekom het om te bly en beskou hulself derhalwe nie as selfstandige pole binne ‘n bipolêre of ‘n multipolêre politieke orde nie. Hulle beskou die politiek dus as unipolêr anders as die DA se bipolêre siening. Dienooreenkomstig word die verhouding met die blywende magsentrum – die ANC – as van deurslaggewende belang gesien. Dit word as ‘n nodelose oefening beskou om met die ANC mee te ding omdat sodanige mededinging per slot van sake nie die uitwerking kan hê om die ANC as enigste (dominante) pool van die politieke orde te ontsetel nie. Maar nog veel meer as dit, is dit bowendien uiters riskant om met die ANC te beding omdat die ANC kan aanstoot neem en alle moontlikhede om iets te bewerkstellig tot die voordeel van die belange wat die partye graag wil dien daarmee in gevaar gestel word. Die verhouding met die ANC kán derhalwe nie mededingend met dié wees nie omdat die partye net heeltemal te swak in vergelyking met die ANC is. Bowendien durf dit ook nie bedingend wees nie omdat dit die vriendelike verhouding in gevaar stel op grond waarvan die belange wat daardie partye verteenwoordig, bepleit word.

Die sentrale verskil tussen die DA en die gemelde opposisie-partye is dus dan die locus van oriëntasie. Die DA is sy eie oriëntasie-locus. Hy wentel as’t ware rondom homself want hy voorsien dat hy moontlik nog kan regeer. (Hoe realisties dit is, is natuurlik ‘n ander saak.)

Die ander partye se oriëntasie-locus is die ANC, want hulle sien die ANC as die permanente regeerder en gevolglik bepaal die ANC hoe hierdie partye hulle hulself moet oriënteer, naamlik in die gunstigste moontlike verhouding met die ANC om op ‘n vriendelike wyse die ANC om ‘n gunstige kopknik te mag vra. Hierdie partye oriënteer hulleself in ‘n wentelbaan rondom die ANC-sentrum. Dit beteken nie dal hulle die ANC ondersteun nie, maar wel dit hulle van die ANC afhanklik is en hulle eie posisie in terme van die ANC se verwagte reaksies inrig.

Laasgenoemde partye bevind hulle in ‘n dilemma in die volste sin van die woord. Hulle het moontlik strategiese doelwitte wat hulle graag wil bevorder. Dit kan hulle egter nie doen nie omdat dit hulle in spanning met die ANC kan bring en hul noodsaaklike nabye verhouding met die ANC kan bedreig. Hulle word dus in ‘n keuse ingedwing om óf hulle eintlike doelwitte te laat vaar, óf die noodsaaklike verhouding met die ANC op te offer. As hulle die strategiese doelwit ‘n hoë profiel gee, is die noue verhouding met die ANC daarmee heen en kan hulle hoegenaamd niks bepleit nie. Aan die ander kant, beteken die aanknoop en kultivering van die noue verhouding met die ANC, wat noodsaaklik is om minstens iets te bepleit, dat die strategiese doelwitte daarmee heen is. Dit leef moontlik as vae en swak geartikuleerde sentimente voort maar verskyn nie meer op die politieke agenda nie.

Die noodsaaklik noue verhouding met die ANC het tegelyk ‘n regstreekse uitwerking op die verhouding jeens die aspirerende teenpool, naamlik die DA. Die ANC het ‘n hewige renons in die DA, nie omdat die ANC so ‘n Afrika-organisasie is nie, maar omdat hy met afsku vervul is teen diegene wat hom voortdurend aanval. Dit word natuurlik vererger deur die feit dat die ANC as die prima morele agent plaaslik en in die buiteland lank daaraan gewoond was om op die hande gedra te word en geensins daarvan hou om voor stok gekry te word nie. Diegene wat dus naby die ANC wil bly en oortuig is dat hulle die oor van die president moet hê, moet gevolglik hulle bona fides bewys, deur die ANC se afkeur in die DA te deel en te artikuleer. Gevolglik vind ons toenemend die verskynsel dat die nie-DA-opposisiepartye in hulle afkeur in die DA verenig is en saamstem oor die DA se beweerde arrogansie, kritieklewering ter wille van kritiek, opportunisme en dat die DA met al hierdie dinge tog niks regkry nie. Eersgenoemde aantygings is soos reeds gesê irrelevant. Laasgenoemde dat die DA niks regkry nie, (behalwe natuurlik om ‘n eenpartystaat te verhoed) is moontlik grootliks korrek. Dit doen egter nie afbreuk aan die feit dat die nie-DA-opposisiepartye op hierdie manier onbedoeld saam met die ANC teen die DA verenig, in plaas van wat die DA graag sou wou hê, naamlik dat die opposisie teen die regering moet verenig. Die effek van hierdie vereniging téén die DA in omstandighede waar ons reeds ‘n sterk eenpartydominante stelsel het, is dat die konsep van opposisie as sodanig verdag gemaak word met die gevolg dat die bestaande eenparty-oorheersing slegs verder verskans word.

Wanneer die posisie van die opposisiepolitiek aan die bod kom, is dit noodsaaklik dat ons die onderliggende strukturele oorsake van die krisis van die opposisie, die penarie vir minderhede en die gevaarligte vir demokrasie blootlê. Die bylê van die probleem is natuurlik ‘n taak en ‘n half (om die minste te sê.) Maar laat ons minstens ooreenkom om nie agteruit te boer met oppervlakkige persoonlike beskuldigings en verdagte “volkekunde” nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.