Absa sê hy sal met die Mededingingstribunaal saamwerk nadat die Mededingingskommissie besluit het om ‘n saak van samespanning tussen 17 banke na die tribunaal te verwys vir verdere stappe.
Drie plaaslike banke: Absa, Investec en Standard Bank, was na bewering by die samespanning betrokke.
Die Kommissie het prysvasstelling van buitelandse geldeenhede teenoor die rand ondersoek.
Die Kommissie wil hê die Tribunaal moet die banke dwing om ‘n administratiewe boete gelykstaande aan tien persent van die jaarlikse omset te betaal.
Die Mededingingskommissie sê intussen die onetiese handel strek sover terug as 2007 en het ‘n negatiewe impak op die vertoning van die rand gehad.
‘n Woordvoerder van die kommissie, Thembinkosi Bonakele, sê dit is nog te vroeg om te sê wat die gevolge vir beleggers inhou.
Sy sê die samespanning is egter nie verrassende nuus nie, aangesien dit op ‘n internasionale ondersoek volg en verskeie Europese banke reeds daarvoor beboet is.
Sy sê die impak wat dit spesifiek op die rand gehad het kan egter wel vir sommige mense as ‘n skok kom. Die rand het intussen tot R12.94 teenoor die dollar verstewig – sy sterkste lopie in bykans twee jaar.