Motors: Nuwe Tiguan in ‘n ander klas

Volkswagen se nuwe Tiguan is nie groter en langer as die vorige generasie nie, maar ook baie ruimer en heelwat meer verfynd.
Met die nuutste weergawe het Volkswagen vir seker ‘n nuwe hoogtemerk in hierdie segment daargestel.

Die motor vertoon in alle opsigte duurder en meer prima as wat hy regtig is. Natuurlik is die bougehalte en stowwe, asook die verpakking van die nuwe Tiguan ‘n reusestap vorentoe. Veral die R-Line-weergawes vertoon nog meer sportief en doelgerig. Die Tiguan is eintlik ‘n luikrug met ‘n vreeslike groot houding. Hy is wel langer en groter as ‘n Golf maar trek hom langs n Touareg en jy sal onmiddellik sien dat die nuwe Tiguan nie veel kleiner as die Touareg is nie.

So wie is die kompetisie? Wel die Toyota RAV4, Nissan Qashqai, Hyundai Tucson en Kia Sportage is almal direkte mededingers vir die Tiguan. Maar trek al hierdie motors langs mekaar en die Tiguan lyk eerder asof hy met ‘n Audi Q3, BMW X1 of Mercedes GLA moet meeding. Die motor vertoon net hoër op die leer as waar hy meeding. Die Tiguan lyk net reg in hul geselskap.

Enjins

Wat die kragbronne van die nuwe Tiguan betref, is daar drie enjins: die 1,4 TSi waarvan daar twee kraguitsette is, die 92Kw en ‘n effens hoër 110Kw, almal petroleenhede. Dan die 2.0TSi-petrol met 162 Kw, dieselfde krag as ‘n Golf GTi en dan die 2.0 TDi-diesel met 81Kw en 250Nm se wringkrag. Ek moet sê die 92KW voel effens pap veral op die Hoëveld, maar bygesê: dit is glad nie steurend nie en jy sal maklik met ‘n gesin of bagasie oor die weg kom. Die 110Kw-weergawes is slegs in outomaties beskikbaar. Slegs die 2.0 TSi is beskikbaar in vierwielaandrywing. Moenie ‘n fout maak nie: die Tiguan is glad nie ‘n rowwe veldryer nie, maar daardie vierwielaandrywing is eerder om al die krag eweredig na al die wiele te versend vir optimale greep. Ons toetsmotor is toegerus met die laerkrag- 1,4 TSi-eenheid en die R-line-pakket.

Agter die stuur

Die nuwe Tiguan het ‘n baie direkte stuur met ‘n effense hoër sitposisie as wat jy in ‘n Golf sou hê. Dit maak sigbaarheid heelwat beter. Kort oorhange voor en agter maak parkering baie gerieflik. Die motor voel agter die stuur heelwat groter as wat hy werklik is .Met ‘n lengte van 4,486m is die Tiguan byna 20 cm langer as ‘n Golf, 40mm breër en 20mm hoër. Die asafstand is ook 40mm langer as dié van ‘n Golf en die eintlike rede vir hierdie tipe voertuie is die grondvryhoogte. Met ‘n grondvryhoogte van 191mm teenoor n Golf se 142mm is dit waar die werklike verskil lê. Die sigbaarheid rondom die motor is baie goed en alle kontroles is presies waar ‘n mens dit verwag, Die knoppies en materiaal waaraan jy raak is van uitstaande gehalte.

Toerusting

Die Tiguan se bagasieruim

Soos in alle nuwe motors kan die opsionele-ekstralyste sommer vinnig die pryskaartjie astronomies laat groei, wees dus maar versigtig. Ons toetsmotor se standaardtoerusting is egter so goed dat dit eintlik nie nodig is om enige iets ekstra by te sit nie. Daar is 6 lugsakke, ABS-remme, remdrukverspreiding, voor en agterste misligte, agterste parkeersensors, LED-hoofligte met dagryligte, outomatiese ligte wat self na gelang van die lig buite aan- of afskakel. Dan nog elektries wegvoubare kantspieëls, outomatiese reënsensors om die ruitveërs aan en af te skakel. Bluetooth-koppeling en ‘n aanboordrekenaar wat brandstofverbruik, gemiddelde spoed en afstand met beskikbare petrol byhou. Daar is ‘n multikontrolestuurwiel met beheerknoppies vir die radio en togbeheer, outomatiese klimaatbeheer en allooiwiele. Voeg daarby ‘n elektroniese ewenaarslot vir daardie gladde padoppervlaktes. Dus, alles in ag genome, is die opsionele trukamera en panoramiese sondak, verhitte sitplekke en leerbekleedsel asook ‘n navigasiestelsel nie werklik nodig nie.

Ekonomie

Die 1.4 TSi met laer kraguitsette lewer 5,8l/100km met n uitlaatgassyfer van 139g/km. Dit beteken dat jy byna 950km ver sal kan ry voor jy sal moet brandstof ingooi. Nogal indrukwekkend vir ‘n groot gesinsmotor.

Gevolgtrekking

Instrumentepaneel van die Volkswagen Tiguan

Na ons mening het die nuwe VW Tiguan die merker heelwat verskuif en nou sal al die mededingers werklik weer moet gaan kyk om enigsins naby die Volksie te kom. Teen R443 000 is die 1.4 TSi Comfortline R-Line nie goedkoop nie, maar vergelyk hom met ‘n Tucson of Sportage of RAV4 dan sien jy gou-gou hierdie is nou ‘n motor wat so tussen die klompie en die die drie Duitsers diens doen. Hy bied meer ruimte met dieselfde gevoel van gehalte teen minder geld as selfs die Sportage en Tucson.

Volkswagen Tiguan 1.4 TSi Comfortline R-Line

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 38 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rifrug

    “Volkswagen se nuwe Tiguan is nie groter en langer as die vorige generasie nie, maar ook baie ruimer en heelwat meer verfynd.”

    – ‘Volkswagen se nuwe Tiguan is nie net groter en langer as die vorige generasie nie, maar ook baie ruimer en heelwat meer verfynd.’

    • Kalium_Chloraat

      Dink jy nie die “verfynd” moet eerder “verwyfd” lees nie?

      • Rifrug

        Volkwagen se voertuie is nog altyd vir my mooi … die twee wat ek besit is ‘n 1968 Kombi en ‘n 1978 Beetle, en ek hanteer hulle soos ou middeljarige dames.

  • Kalium_Chloraat

    1.4 cc Enjin in so ‘n lyf, ek dink die enjin sal onder stres wees. Ek hou daarvan om rygoed op te ry en hierdie enjin sal nie lank hou nie. Dan nog ‘n turbo ook, nee ek sal verbyhou.