Karel Combrinck: Die beloofde land 1

Jerusalem vandag

Lesers van hierdie artikel mag dit nuttig vind om ‘n kaart of atlas van die antieke wêreld byderhand te hou.

Gerieflikheidshalwe ‘n paar sleuteldatums (almal V.C.) :

  • 2000-1850: Benaderde tyd van die lewe van Abraham en die uittog uit Mesopotamië.
  • 1200-1300: Benaderde datum van uittog uit Egipte (Exodus).
  • 1600-722: Kanaän, insluitend Israel (genoem Palestina), onder beheer van Egipte.
  • 930: Verdeling van die Israelitiese koninkryk.

Bogenoemde datums is beramings gemaak op grond van Bybelse verhale.

Die volgende is datums uit Assiriese, Babiloniese en Egiptiese geskiedenis:

  • 1205: Die naam Israel verskyn vir die eerste keer in die geskiedenis op ‘n suil van Farao Merenptah.
  • 722: Israel oorrompel deur Assiriërs, einde van die Israelitiese volk.
  • 700-640: Koninkryk van Juda onder toesig van Assiriese ryk .
  • 640: Benaderde datum van beëindiging van Assiriese ryk. Babiloniërs word dominant.
  • 597-581: Babiloniërs neem Juda in, verwoes die Tempel en voer die Joodse elite weg na Babilon.
  • 539-538: Babiloniërs verslaan deur Persiërs. Einde van ballingskap. Sommige Jode keer terug na Juda.
  • 539-332: Juda onder Persiese regering.
  • 533: Griekse periode begin na verowerings van Alexander die Grote.

In ‘n vorige artikel (Israel quo vadis?) het ons dit gehad oor enkele geopolitieke aspekte van die moderne staat Israel. In die verbygaan het ons melding gemaak van die Bybelse regverdiging vir die skepping van Israel in 1948. In die huidige stuk wil ons verder ondersoek instel na hierdie Bybelse regverdiging.

Aangesien die artikel besonder lank geword het, (dis ‘n ontsaglike onderwerp en toe ek begin, kon ek nie ophou nie), het ek besluit om dit in twee dele le voor te lê, Beloofde land I en Beloofde Land II.

Daar is ‘n argument wat lui dat Israel volkeregtelike erkenning geniet en daarom ‘n staat in die volle sin van die woord is. Die volkeregtelike aanspraak van die Afrikaners op Suid-Afrika was minstens net so sterk as dié van die Jode op Israel, maar vir dekades was die volkeregtelike legitimiteit van die Afrikanerbeheerde Suid-Afrikaanse staat stelselmatig ondermyn totdat die Afrikaners uiteindelik die aftog geblaas het. Die deurslaggewende verskil met Israel was dat die Afrikanerregering nie die rugsteun van die magtigste land ter wêreld gehad het om hulle legitimiteit te waarborg nie.

Wat betref die staat van Israel, is die volkeregtelike erkenning natuurlik alles behalwe eenstemmig. Daarby span die volkeregtelike argument die kar voor die perde : Voordat daar sprake van volkeregtelike erkenning kon wees, moes daar reeds iets gewees het wat die volkeregtelike erkenning voorafgegaan het en daardie « iets » is die Outestamentiese verhaal.

Die eerste vraag is dan of die Outestamentiese Bybel hoegenaamd as basis kan dien vir grondeise in die twintigste eeu. Indien wel, kan ‘n duisternis volkies en stammetjies uit die Ou Testament dan ook aanspraak maak op grondgebied vandag: die Ammoniete, die Amelekiete, die Hittite, die Amoriete, die Aramese , die Edomiete, die Moabiete, die Filistyne (waarskynklik die voorouers van vandag se Palestyne), die Hewiete en selfs die Egiptenare wat die land Israel geregeer het vir veel langer as die Israeliete self.

Aangesien die moderne staat van Israel nou eenmaal ‘n feit is ten spyte van die kunsmatige manier waarop dit ontstaan het en waarop dit in stand gehou word, kom ons kyk dan maar na die Bybelse regverdiging vir dié feit.

Die hoofbron van ons kennis omtrent die vroeë geskiedenis van die Israeliete en Jode is die Ou Testament, m.a.w. ‘n boek wat deur Jode vir Jode geskryf is. Die Ou Testament is ‘n boek met sy eie interne logika wat nie noodwendig met die geskiedkundige werklikhede tred hou nie. Tot met Herodotus en selfs daarna was dit normale praktyk dat volkere hulle geskiedenis in die vorm van mites en legendes uitgedruk het. Dink maar aan die verhaal van Romulus en Remus om die oorsprong van Rome te verklaar. Die Outestamentiese geskiedenis is hierop geen uitsondering nie. Niemand sal egter vandag droom om die Ilias en Odusseus as geskiedenis te beskou nie.

In ‘n ondersoek soos hierdie lyk dit asof daar drie benaderings kan wees :

a) Die Bybel en dan meer spesifiek die Ou Testament, is ‘n versameling fabels en mites waaraan nie veel waarde te heg is nie en daarmee uit en gedaan, b) Die Ou testament is ‘n Goddellik geïnspireerde teks waarvan elke woord letterlik en histories waar is,vanaf die tydstip waarop Eva gemaak is uit ‘n ribbebeen van Adam tot by Daniël in die leeukuil en c) Die Ou Testament is gedeeltelik mite en gedeeltelik geskiedenis. Waar daar geen argeologiese of ander buite-skriftuurlike gegewens bestaan nie, is die Bybelse weergawe dus die beste gesag wat ons het.

Elkeen is uiteraard geregtig om te besluit watter van hierdie benaderings hy verkies, maar vir doeleindes van hierdie artikel lyk laasgenoemde benadering na die verstandigste : Die Ou Testament is geskiedenis, mite en propagande deurmekaar gestrengel en die probleem bly om deurgaans te kan onderskei tussen wat geskiedenis is en wat nie. Die verhaal van Noag se ark byvoorbeeld of Jona in die maag van die vis kan tog nie geskiedenis wees nie.

‘n Nota oor benamings kan van nut wees aangesien dit tot heelwat verwarring lei:

Kanaän en Palestina

Die oudste benaming aan ons bekend vir die landstreek wat ons vandag ken as Israel, was Kanaän. Dis duidelik dat die naam Kanaän ‘n Outestamentiese en d.w.s. Joodse oorsprong het. Volgens ‘n bepaalde tradisie is die naam Kanaän afgelei van die seun van Gam met dieselfde naam. Die figuur Kanaän was dus die kleinseun van Noag.

Vir baie eeue was die gedeelte van die land wat deur die Israeliete bewoon was ‘n Egiptiese kolonie en die Egiptenare het na die gebied verwys as Palestina. Mettertyd het die naam Israel posgevat en later ook Juda . Na die Joodse opstand van Bar Kochba teen die Romeine in 135 NC het Keiser Hadrianus die land Juda herdoop na Palestina en die naam het behoue gebly tot met die skepping van die moderne staat Israel in 1948. Daar is geen verwysing in die Bybel, Ou of Nuwe Testament na Palestina nie en Palestina is dus nie ‘n Bybelse benaming nie. Dit is egter die naam waaronder die land oor duisende jare bekend was. Die Arabiese bevolking van die huidige Israel verwys natuurlik nog steeds na Palestina.

Israeliete en Jode

Daar word vir die eerste keer in die geskiedenis melding gemaak van ‘n land soos Israel op ‘n suil wat in 1208 V.C. deur Farao Merneptah ( ‘n seun van Ramses II) in die tempel van Karnak in Egipte aangebring is. Vanaf daardie datum kan dus met min of meer sekerheid gepraat word van ‘n Israelitiese volk. Maar wat was die posisie voor 1208 ?

In die boek Exodus word meesal gepraat van die “kinders van Israel” (Jakob) of net van “Die volk”. Israel was die nuwe naam wat aan Jakob gegee was nadat hy met ‘n engel geworstel het. Breedweg kan ons sê dat met Israeliete aanvanklik bedoel was diebiologiese afstammelinge van Jakob en later, na die verdeling van die koninkryk, die bevolking van die Noordelike koninkryk.

Vir eeue lank het die Israeliete of hulle voorgangers in die vorm van losstaande stamme en gemeenskappe verspreid oor die Noordelike deel van Kanaän gewoon en rondgeswerf. Moderne navorsers is dit eens dat wat ons die Israeliete noem, eeue lank bloot ‘n Kanaänitiese stam onder ander Kanaänitiese stamme was, dat daar geensins van ‘n volk sprake was nie, dat hulle dieselfde godsdienste (Baälaanbidding ens.) beoefen het en dat selfs hulle taal, Hebreeus, ‘n Kanaänitiese dialek was. Oor ‘n baie lang tydperk het een of meer van hierdie stamme dominant begin word en na hullleself begin verwys as Israeliete.

Om sake verder te bemoeilkik was hierdie “kinders van Israel”, d.w.s. die stamme wat afkomstig sou wees van die aartsvader Jakob, hoegenaamd nie samehorig nie, maar inteendeel vyandig teenoor mekaar en het selfs met mekaar oorlog gevoer. Dit is dus onduidelik watter een van hierdie stamme nou eintlik Israeliete sou word. Net een ? Almal saam ? Geeneen ? Objektief gesien kan die Israeliete beskryf word as ‘n Semitiese stam wat die Noordelike en sentrale gedeelte van die huidige Israel bewoon het met Samaria as hoofstad en daar is geen aanduiding van enige kontinuïteit vanaf Abraham, Isak en Jakob tot by die Israeliete van 1208 nie, behalwe miskien ‘n mitologiese een.

In 930 V.C. is die koninkryk van Israel verdeel in die twee koninkryke van Israel en Judea toe tien stamme besluit het om ‘n afsonderlike koninkryk in die Noorde van die landstreek te vestig met Jeroboam as koning en hoofstad Samaria. Twee stamme onder Rehoboam, die seun van Salomo, as koning, het hulle koninkryk in die Suide behou met die hoofstad Jerusalem en met die naam Judea, so genoem na Juda, die vierde seun van Jakob. Die inwoners van Judea het mettertyd bekend gestaan as Jode .

Na die vernietiging van die Israelitiese hoofstad, Samaria, deur die Assiriërs teen in 722 V.C. het die inwoners van Israel in groot getalle gevlug na die suidelike hoofstad, Jerusalem. Die volk van Israel het dus met die verowering van Samaria deur die Assiriërs, opgehou om te bestaan byna soos die Afrikanervolk in 1994 ook opgehou het om te bestaan. Daar is ook sprake dat van die Israeliete na die verowering deur die Assiriërs dwarsoor die hele Assiriese ryk verspreid geraak het wat die oorsprong uitmaak van die “tien verlore stamme van Israel”. Kardinaal vir ons ondersoek is egter dat vanaf 722 .V.C. tot 1948, d.w.s. vir ‘n periode van bykans 2700 jaar daar nie iets soos Israel of ‘n Israelitiese volk bestaan het nie. Na die val van Samaria maak die Outestamentiese geskrifte bloot melding van Judea, die suidelike koninkryk wat met die Romeinse verowering in 70 A.D. ook verdwyn het.

Dit is te betwyfel of Israel (Palestina, Kanaän) gedurende die eeue voor 722 V.C. ooit werklik vry was van Egiptiese oorheersing. Die suil van Farao Merenpta vier in 1208 juis weer ‘n militêre oorwinning oor Israel wat op die een of ander manier Egiptiese belange bedreig het. Die inwoners van die suidelike koninkryk, Judea, het sedert die splitsing van 930 ‘n min of meer onafhanklike bestaan onder Assiriese toesig gevoer totdat die Egiptenare in die sewende eeu V.C. nogmaals hul heerskappy oor die gebied gevesig het. In 597 V.C. het die Babiloniese verowering plaasgevind en na die terugkeer uit ballingskp is Judea geregeer deur die Persiërs. Dit beteken dat die Uitverkore Volk oor ‘n tydperk van sê 4000 jaar in totaal nie veel langer nie as 200 jaar in beheer was van ‘n klein gedeeltetjie van die Beloofde Land, Kanaän.

Nuwe navorsing

Veel nuwe inligting oor die Bybelse geskiedenis het in onlangse tye tot ons beskikking gekom deur veral die navorsing van die argeoloë, Professore Israel Finkelstein en Neil Silberman (geen risiko van anti-Semitisme hier nie!), wat oortuigend betoog dat om die geskiedenis te probeer bepaal deur eers na die Bybelse verhaal te kyk en dan argeologiese bewysstukke daarvoor te probeer vind, onbegonne en agterstevoor is. Meer wetenskaplik is om eers die argeologiese gegewens te ontleed en dan te kyk of die Bybelse weergawe daarmee steek hou.

Die twee Joodse argeoloë kom op grond van navorsing met behulp van Koolstof 14 en ander laboratoriumtoetse tot die gevolgtrekking dat min van die gegewens in die Ou Testament histories verantwoord is en dat bykans die volledige inhoud op skrif gestel is eeue nadat die gebeure plaasgevind het waarna die geskrifte verwys. Proff. Finkelstein en Silberman meen ook dat die gebeure wat in die geskrifte beskryf word, moontlik gladnie te make het met werklike historiese gebeurtenisse nie, maar gerig was daarop om die volk van Israel moreel te versterk en te bemoedig in die aangesig van gevare en dreigemente ten tye van die op skrifstelling van die tekste. So was die verhaal van die uittog uit Egipte waarskynlik bedoel as vertroosting van die Jode in Babiloniese ballingskap.

Die navorsing van Proff Finkelstein en Silberman dui ook daarop dat die Volk Israel hoegenaamd nie sedert Abraham ens. ‘n monoteïstiese geloof “een God”) aangehang het nie en dat monoteïsme in die laat agtste en sewende eeu V.C. vir die eerste keer as’t ware op die Jode afgedwing is. In die Outestamentiese boeke I en II Konings word duidelik uitgespel dat die Israeliete en Jode tot in ‘n laat stadium van hulle geskiedenis afgodediens beoefen het.

Daar is ook sienswyses van geleerdes dat die kronologie van die Ou Testament so kompleks en verwarrend is dat dit vrugteloos is om dit met argeologiese bevindings in verband te probeer bring. Die skrywers van die Ou Testament het byvoorbeeld die manier gehad om gebeurtenisse wat honderde jare uitmekaar plaasgevind het in een vertelling saam te voeg en dan nog verder met ongeskiedkundige elemente aan te vul, wat ‘n wetenskaplike studie daarvan bykans onmoontlik maak.

Die belofte

Volgens Joodse geskrifte soos vervat in die Ou Testament is landstreke sedert die vroegste geskiedenis (omtreeks 2000 V.C ?) aan Abraham en sy nasate “belowe”. Die datum 2000 – 1850V.C. is min of meer die tydperk waarin Abraham gelewe het en ook die tydstip waarop sy pa besluit het om die stam waaraan hulle behoort het uit Ur van die Chaldeërs, nl. ‘n Suidelike provinsie van Mesopotamië, (vandag Irak), weg te lei in die rigting van die “Beloofde land”, Kanaän.

Die belofte wat aan Abraham en aan sy nasate gemaak is dat hulle die land Kanaän sou beërwe, loop soos ‘n goue draad deur die geskrifte van die Ou Testament. (Kyk bv. Gen 12 : 7,Gen13:15, gen15:18, Deuteronomium 1:17 en 21). Wat is egter die oorsprong van hierdie tradisie en hoe is dit oorgedra ? Mondeling ? Was daar hoenaamd so’n tradisie ? Daar bestaan geen bevestigende dokumente hieromtrent, Outestamenties of andersins nie.

Die vroegste poging om die Joodse geskiedenis te kodifiseer en op skrif te stel, was toe ‘n aantal rabbis in die tyd van Koning Josia teen die einde van die sewende eeu V.C. die teks van ‘n ou boek, moontlik Deuteronomium, in die tempel “ontdek” het. (Kyk II Konings 22 : 10 – 13). Die boek Deuteronomium was ook die eerste vasberade poging om die monoteïstiese geloof in Judea te vestig. Dit was dus die eerste keer in die geskiedenis dat van Yahwe, of Jehova, sprake was. In die praktyk het afgodediens onder die Jode nog verder voortgeduur totdat Koning Josia met geweld ‘n definitiewe einde daaraan gemaak het.

Oor die kwessie van die belofte aan Abraham kan nog die volgende vrae gevra word :

a) Het die belofte in die eerste plek letterlik plaasgevind ? b) Indien wel, in water vorm is dit gemaak ? Deur ‘n Engel in ‘n droom meegedeel soos dikwels die geval is wanneer ‘n meer rasionele verklaring ontbreek ? c) Is die belofte moontlik na ‘n duisend jaar verkeerd verstaan of verkeerd vertolk of dalk doelbewus versin?

Vroegste dokumente

Gedurende die ballingskap in Babilonië ‘van 587 tot 538 V.C.) en na die terugkeer uit ballingskap, is verdere pogings deur priesters en skrifgeleerdes aangewend om ou tekste en oorlewerings in versamelings boeke byeen te bring . So dateer die versameling van die vyf boeke van die Pentateug, die eerste vyf hoofstukke van die Ou Testament, (Génesis, Exodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) wat die Joodse Wet of Torah, uitmaak, uit daardie eeu. Dit beteken dat tussen die belofte aan Abraham en die eerste herkenbare versamelings Bybelboeke meer as ‘n duisend jaar verloop het. Belangrik is ook dat van hierdie oorspronklike manuskripte niks oorgebly het nie. Die verdere opskrifstelling van die Ou Testament het nogmaals geskied op grond van mondelikse oorlewerings, herskrywing en rekonstruksies van fragmente en brokke geskrifte, eers in Grieks en daarna Latyn . Inderdaad is die eerste volledige uitgawe van die Joodse Bybel (Ou Testament) in 1482 gepubliseer kort na die ontwerp van die eerste drukpers deur Johannes Gutenberg.

Die vyf boeke van die Pentateuch is geen deurlopende soomlose komposisie nie, maar ‘n kompilasie van uiteenlopende bronne wat ontstaan het op verkillende histories stadiums en omstandighede elke me sy eie godsdienstige en politieke sienswyses. Dit behoort duidelik te wees dat die historiese waarde van hierdie geskrifte vir sover hulle betrekking gehad het op die geskiedenis van Abraham en die belofte aan hom gemaak, op wankelmoedige bene staan.

Die verhaal van Abraham Isak en Jakob, die uittog uit Sumerië, die uittog uit Egipte en die migrasie na Kanaän word in hierdie “ontdekte” en ander laat dokumente beskryf. Dis egter met geen sekerheid bekend of daar hoegenaamd vroeëre geskrifte was waarop hierdie latere dokumente gebaseer was nie en die geskiedkundige outentisiteit daarvan is ten beste onder verdenking. Daar bestaan geen argeologiese of ander historiese bewyse van hierdie gebeurtenisse nie en daar is geen aanduidings, buite die Ou Testament om, van die bestaan van Abraham, Isak en Jakob of van die uittog uit Mesopotamië nie. Daar bestaan ook geen dergelike getuienis van die teenwoordigheid van Jode in Egipte, van die Exodus uit Egipte of van die omswerwinge van die Israeliete in Kanaän na die Exodus nie en dit sluit die andersins baie volledige Egiptiese rekords in.

Die uittog en vlug uit Egipte na Israel kom terloops vreemd voor in die lig daarvan dat Egipte in die periode toe die Exodus sou plaasgevind het in beheer van Israel was en dat die uittog van die Israeliete dus op ‘n sprong uit die braaipan in die vuur sou neerkom.

Nietmenin vorm hierdie dokumente die ruggraat van die Joode geskiedenis, al is dit net omdat min ander bronne bestaan en verdien hulle dus wel ons aandag.

Lees gerus ook die tweede aflewering “Beloofde land II” wat sal volg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Vicky

    Hier sien ons weer die probleme wat Christenskap op ons mense gehoop het. Die blanke ras behoort niks met hierdie deel van die wereld te doen he nie. Die geskiedenis van die blankes ras le buite die Midde-Ooste.

    • Maus

      Ek verskil bietjie met jou. Ons Europese tale is verwant aan Indo-Aries and Iranees. Iran is in die Midde Ooste. Ek glo daardie werelde was wit soos Europa, maar met tyd is dit oorspoel met die dekadensie en die donkeres.. soos met Europa nou ook gebeur. Ons voorouers het van daar gevlug. Wat ons tans ondervind het voorheen gebeur.

      • Vicky

        Bly jy luister ook Red Ice.

  • Maus

    Baie interesant. Net een ding.. “533: Griekse periode begin na verowerings van Alexander die Grote.” Alexander het geleef van 356 tot 323 BC.. Hy het Persie eers in 330 BC verower. Is dit nie toe wanneer die Persiese ryk deur die Griekse vervang is nie? ‘n Ander opmerking is dat die professore Finkel en Koljander dalk nie ‘n vooroordeel teen die Judah twee-stamme ryk het nie (hulle is immers Jode), maar dit is nie noodwendig so vir die noordelike 10-stamme ryk van Israel nie. Hulle beweer bv. dat daar nooit ‘n vereengde 12-stamme ryk was nie soos die Bybel van praat nie.

    • Karel Combrinck

      My datum is natuurlik verkeerd. Daar sal seker nog ander foute ook wees. Dankie vir die regstelling.

      • Maus

        Jy’s welkom. Sien uit na jou volgende een.

  • Ou Transvaal

    Karel ek sien altyd uit na jou artikels , goed nagevors en oordink , maar die Joodse siening is al bewys as twyfelagtig met die grootste respek gese.
    Wat as DIE israeliete by ander name bekend gestaan het soos Khumri, Omri , Eber,Schitiers, Grieke, Kelte en Eber ?
    Wat as daar proseliete van die Edomiete gemaak is , wat later die Sanhedrin oorheers het soos in die tyd van die Messiah .
    Wat as die Jode geen genetiese erfenis het met vroee Israel nie, soos deur die Jewish encyclopedia verhaal?
    Wat as daar in die Kaukasiese gebergte plekke soos die Pas van Israel is of daar ‘n bergtop met die naam Sions berg is?
    Hoekom het die sendingsreise ALTYD na Europa geneig?
    Hoekom is net ‘n sekere mense se regstelsel gebaseer op die Tien Gebooie?
    Wat van die verskille tussen die Talmud ,Mishna ,Babeloniese Kaballa en die Jerusalem Kaballa?
    Selfs die benaming Jood kan nie verteenwoordigend van al twaalf stamme wees nie (hulle se immers hulle is dan vernoem na Juda) Kyk meer in die rigting van die Askenatiese en Khazarse Jode..
    Hoekom moet ons altyd heerlikheid afstaan??

    • Kalium_Chloraat

      Die sendingopdrag is uitsluitlik na Israel net soos die Wet.

  • Dankie vir hierdie voorlegging. Die geskiedenis van volkere is voorwaar interessant, met inagneming van vooroordeel en die ontsaglike biblioteek van beskikbare historiese bronne, waarby seker geen mens in volledige of objektiewe perspektief sou kon uitkom nie. Koolstofdatering werk glo goed op hout, maar nie so goed op ander materiale nie. Interessant egter is tog dat nuwe en volhardende navorsing oor volke, tale, nasies en stamme en hulle migrasiepatrone nou nuwe wendings neem soos die COI of Commonwealth of Israel inisiatief. Nou wonder ek, sou die land Israel bereid wees om 3 miljoen blanke Afrikaners in ‘n super-kibbutz te hervestig, mits ons nou almal die Sabbat en Bybelse Feeste hou en ophou baklei onder mekaar? Maar wat ek nog nie onder volksgenote kon bepaal nie, is van water “Israel” is die blanke Boere-Afrikaner?

  • Rifrug

    ” … die Hittite …” – Volgens die 1933 Standaardvertaling sowel as die 1983 Verdwaling is die spelling van dié bevolkingsgroep se naam ‘Hetiete’.

    Dankie vir die artikel, Karel.

    Van die onderwerp af … Weet iemand iets meer oor wat met praag.org en roodt.org gebeur het, of gaan gebeur?