Nog ‘n brand breek naby Wellington uit

Deel op

Nog ‘n brand het in die Wes-Kaap in Bainskloofgebied naby Wellington uitgebreek.

Volgens die brandweerhoof van die Kaapse Wynlande, Ian Ross, het die brand weens ‘n sterk suidooste wind vinnig in die rigting van die Doolhof-gebied versprei.

Brandbestryders kon verhoed dat enige skade aan geboue aangerig is, maar diere moes na veiligheid geneem word.

Vyf-en-dertig brandbestrydingspanne is ontplooi, terwyl vliegtuie ook op gereedheidsgrondslag is.

Die brand wat sedert verlede week in die Du Toitskloofpas in die Boland woed is intussen so te sê geblus. Dit brand nog net hoog op in die berg.

Die bevelvoerder van die Wynland-brandweerdiens, Heinrich Louw sê die brande het bykans 1 500 hektaar plantegroei afgebrand. Hy wou egter nie bespiegel oor die moontlikheid van brandstigters nie.

Die Wes-Kaapse minister van Omgewingsake, Anton Bredell het ‘n waarskuwing uitgereik oor die risiko van brande aan die Weskus weens die hoë temperature in die gebied.

Bredell sê in ‘n verklaring daar is ‘n hoë risiko van veldbrande in die streek.

Hy sê die onlangse brande in die Skiereiland en die Wynland het uitgebreide skade aangerig. Bredell sê rampbestuurspanne monitor die situasie aan die Weskus.

Bewerings dat brande in en om Kaapstad opsetlik gestig is, wil nie gaan lê nie.

Talle bewerings en ooggetuieverslae van brandstigting wat in die sosiale media die ronde doen, versterk die vrae oor sowat twintig brande in en om Kaapstad, die Weskus en die Kaapse Wynland wat feitlik gelyktydig ontstaan het.

Grondgryp-aktiviste het die brandstigting geloof as ‘n manier om grond “terug te kry”.

Swart Eerste Grond Eerste (BLF) nasionale woordvoerder Lindsay Maasdorp, het met verwysing na die onlangse verwoestende brande in die Wes-Kaap, gesê dat, omdat wind en vuur Godgegewe elemente is, kan dit gesien word as ‘n vorm van geregtigheid vir swart mense.

Maasdorp het vroeër ‘n omstrede stelling gemaak op Facebook oor die brande en is beskuldig van aanhitsing van geweld teen wit plaaseienaars.

Die kêrel het al voorheen dreigemente teen wittes gemaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.