Volgens die president van TLU SA, mnr Ben Marais, raak landbougrond, wat in Suid-Afrika alreeds ’n baie skaars kommoditeit is, al hoe skaarser. Dit kan grotendeels toegeskryf word aan die volgende:
* Die feit dat landbougrond toenemend deur gemeenskappe opgeëis word en daarna vir ander doeleindes benut word.
* Die gevolge van plaasmoorde wat lei tot boedelbereddering wat tydsgewys negatief op volgehoue produktiwiteit inwerk.
* Toenemende misdaad, veral diefstal, wat daartoe lei dat boere alternatiewe praktyke oorweeg.
* Stygende insetkostes wat die winsgewendheid van veral marginale boerderye uiters nadelig affekteer.
Mnr Marais het dit beklemtoon dat die produksie van voldoende en bekostigbare voedsel van aanvaarbare standaard al hoe belangriker word. Teen hierdie agtergrond sal die gevolge van die wêreldwye ekonomiese insinking en werksverliese in Suider-Afrika vernietigend wees indien daar nie optimaal van beskikbare landbougrond gebruik gemaak gaan word nie. Dit is in belang van hierdie land se inwoners dat die owerheid hiervan kennis moet neem en aksieplanne in werking stel om te verseker dat Suid-Afrika in staat sal wees om voldoende voedsel vir huishoudelike gebruik sowel as vir die buurlande waarin hongersnood toenemend ‘n realiteit word, te voorsien.