Leon Lemmer: Jaap Steyn se ‘Afrikanerjoernaal’

Teen die einde van verlede jaar het daar ‘n uitsonderlike publikasie verskyn, JC Steyn se Afrikanerjoernaal: ‘n Vervolgverhaal in 365 episodes (Pretoria: FAK, 2016, 414p, R297). Die boek is, soos in die geval van Steyn se vorige werk, Ons gaan ‘n taal maak (2014), op dik glanspapier gedruk, wat die boek swaar maak, maar die formaat is kleiner en die boek is gevolglik makliker hanteerbaar. Soos dit deesdae met monografieë oor Afrikaans gaan, sou hierdie werk nie sonder subsidies van die Verwoerd Trust, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Hiemstra Trust verskyn het nie.

Die teks bestaan uit 365 inskrywings, een vir elke dag van die jaar. ‘n Mens sou hulle soos Uit die beek kon lees, ‘n stukkie ter stigting per dag. Ek het ‘n maand se inskrywings op ‘n slag gelees omdat elke maand ‘n onderwerp het wat aan die begin aangekondig word. Die volgorde is min of meer chronologies. Die fokus is op “die hartroerende en meesleurende storie” (p 17) van Afrikaners en Afrikaans in historiese konteks. Aan die begin van elke hoofstuk of maand is daar swart en wit foto’s. Aan die einde van die teks is daar ‘n foto van Nelson Mandela as president met sy adjunkpresidente, Thabo Mbeki en FW de Klerk, wat by die lesers tuisbring in watter troostelose situasie ons ons sedert 1994 bevind. Die boek word met ‘n bibliografie en ‘n onbevredigende (bv hoogs onvolledige) naam- en saakregister afgesluit.

Daar is sekerlik baie min mense soos Jaap Steyn wat die deursettingsvermoë, toewyding en liefde vir Afrikaners en Afrikaans het om ‘n projek soos hierdie aan te pak en só suksesvol deur te voer. Die “dagstukkies” is aanvanklik vir publikasie op die FAK-webwerf geskryf. Dit is ook hier op die PRAAG-webblad beskikbaar. Daarna is besluit om hulle in boekvorm te publiseer. Die bladspieëls sou esteties meer bevredigend gewees het as die teks aangepas is sodat elke inskrywing op ‘n enkele aparte bladsy kon verskyn. Maar dit is ‘n onderhoudende teks wat die moeite werd is om van voor tot agter te lees. Die boek word tereg “‘n eietydse erfenisskat” genoem (17).

Ek vestig vervolgens die aandag op ‘n aantal van die sake wat in die boek geopper word. Ten einde die lengte van my teks te beperk, veronderstel ek dat lesers ‘n mate van kennis oor ons geskiedenis het. Let veral op hoe lank voor 1948 en hoe dikwels skeiding as dié oplossing vir die rassevraagstuk voorgehou is en hoe baie kere gewaarsku is dat die afskaffing van apartheid tot die ondergang van die blankes kan lei.

In die eerste hoofstuk val dit op hoe onbetroubaar Herry en sy mede-Khoi was en hoe onlonend die Kaapse halfwegstasie aanvanklik vir die HOIK was. ‘n Klein groepie Europeërs het in uiters moeilike omstandighede pionierswerk verrig, waarvoor daar deesdae glad te min waardering in veral nie-Westerse geledere is. As daar maar in 1717 ag geslaan is op Dominique de Chavonnes se ernstige pleidooi vir eerder wit immigrante as swart slawe (42-43) sou die blankes vandag demografies in ‘n gunstiger situasie gewees het. “Khoi-Afrikaans het in die 18de eeu ‘n moedertaal van die Khoi geword. Hierdie taal het anders gelyk as die [blanke] veeboere se taal wat nie die Khoi-onderbou gehad het nie” (49).

Na aanleiding van HW Claassens se boek, Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806, skryf Steyn:

“Dit is ‘n fabel dat dit eintlik die Oosterse slawe was wat die Kapenaars geleer het om kos met speserye voor te berei … Die slawe was nie ‘n homogene groep nie. Hulle het uit armoedige streke gekom en vir baie was kook met speserye onbekend. Van die geregte wat aan die slawe toegedig is, soos bobotie, was nie ‘n Oosterse dis nie. Wat wel by die slawe ontstaan het, is die Oosterse name soos kerrie, bladjang, sambal en sosaties. Dié woorde is egter gebruik vir ander kosse as dié uit die slawe se lande van herkoms” (53).

Die revolusionêre gees in Europese lande, bv Frankryk, het teen die einde van die 18de eeu ook aan die Kaap weerklank gevind, bv “dat die volk die reg besit om sy owerheid self aan te wys en hom desnoods weer van sy mag te onthef as omstandighede dit noodsaak” (61). “In 1776 het die Britse kolonies in Noord-Amerika hulle vry van die Britse gesag verklaar en ‘n oorlog teen Engeland begin. Frankryk het in 1779 ‘n bondgenoot van die Amerikaanse kolonies geword” (62). “Die grensboere het waarskynlik geredeneer dat as ander volke die reg het om van onpopulêre regerings ontslae te raak soos in Frankryk gebeur het [1789], ook hulle daardie reg het” (65). Dit lyk nie asof die plaaslike blankes en veral die Afrikaners in 2017 steeds in beduidende en realistiese mate hierdie elementêre reg behou het nie.

“Wit veeboere het gekla omdat swartes hul vee laat wei op grond wat hulle in besit geneem het. Goewerneur Joachim van Plettenberg, wat in 1778 op sy reis deur die kolonie by die oosgrens aangekom het, het gemeen om die moeilikheid uit die weg te ruim deur ‘n duidelike grens tussen die twee groepe vas te stel. Hy was die eerste bewindhebber wat gebiedskeiding gesien het as oplossing vir wrywing tussen wit en swart. Die swartes wou egter nie die gebied wes van die Visrivier verlaat nie. In 1779 het Xhosas veewagters van die boere vermoor en troppe beeste geroof” (64). Voorvalle soos hierdie het aan die grensboere getoon dat Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) se idee van die “edele barbaar” nie (algemeen) geldig was nie (65). Rassesegregasie kan onteenseglik ‘n manier wees om rassekonflik te verminder. Insgelyks kan gedwonge rasse-integrasie ongetwyfeld ‘n manier wees om rasseharmonie te versteur.

Volgens John Barrow, wie se boek, Travels into the interior of South Africa, in 1801 en 1804 in twee dele verskyn het, “was die Afrikaners almal lui, dom, onsedelik, wreed, oneerlik en lafhartig … Sy negatiewe bewerings is weerlê deur twee ander Europese reisigers, MHK Lichtenstein en WBE Paravicini di Capelli. Baie Afrikaners het in die 20ste eeu van die vorige eeu gepraat as die ‘eeu van onreg’ van die Britte teen die Afrikaners. Met Barrow begin die groot Britse lasterkampanje teen die Afrikaner wat tot in die 20ste eeu voortgesit is” (68).

Na die eerste Britse besetting in 1795 het lady Anne Barnard (1750-1825, aan die Kaap 1797-1802) “help verseker dat die sosiale lewe van die Afrikaner, wat voorheen sterk onder Franse invloed gestaan het, ‘n Engelse karakter kry. Lady Anne het in 1798 met genoegdoening geskryf dat die Engelse offisiere ‘at a great rate’ trou met die ‘Dutch vrows’. Tog was daar ook ander Engelse wat die ‘Dutch’ met minagting behandel het, meld sy in ‘n brief in 1797. Volgens ‘n memorandum wat in 1801 opgestel is, was daar vier groepe Afrikaners. Hulle was die Britsgesindes of ‘Anglomanne’, ten tweede die aanhangers van die Huis van Oranje [prins Willem V van Oranje het van Nederland na Engeland gevlug], wat met die Britsgesindes saamgewerk het, maar nie hul landgenote vervolg het nie, in die derde plek die ‘gemodereerde partij’ wat aan Nederland getrou wou bly en ongetwyfeld die meerderheid Afrikaners omvat het, en ten slotte ‘n groep wat onder die invloed van die heersende Franse revolusionêre denkbeelde was” (70-71). Frankryk was toe in beheer van ‘n deel van Nederland.

Die Graaff-Reinetters het hulle teen die Britse bewind verset en wou nie ‘n eed van getrouheid aan die Britse koning afê nie. Hulle het gehoop dat hulle hulp van die Nederlandse Bataafse Republiek sou kry (70, 71) en “planne beraam om in die naam van ‘Het Algemeen Volkstem’ ‘de Colonie weer tot sig te neemen'” (71). “Die skip wat hulp sou bring, Het Haasje, is in Saldanhabaai deur die Engelse gevang en die troepe moes hulle oorgee” (70). In 1802 is die vrede van Amiens gesluit, wat bepaal het “dat die Kaap teruggaan na ‘die Bataafse Republiek'” (73).

Reeds in 1707 het Hendrik Biebouw in Stellenbosch gesê: “Ik … ben een Africaander” (39). “Die Kompanjie het gemeen dat ‘n [druk]pers aan die Kaap ‘n instrument van revolusie kon word … Johannes Henricus Redelinghuijs (1756-1802) … het homself ‘n ‘Afrikaan’ genoem en die Kaap as sy ‘vaderland’ beskou … In Nederlandse koerante het hy die Kapenaars teen die Engelse gewaarsku en ‘n beroep op hulle gedoen om deur middel van ‘n revolusie ‘n volksregering tot stand te bring” (72).

Op 23 Desember 1802 het kommissaris-generaal Jacob Abraham de Mist en generaal Jan Willem Janssens as amptenare van die Bataafse Republiek in Kaapstad aangekom. “Op 31 Desember het die Britse goewerneur, genl-maj F Dundas, ‘n proklamasie uitgevaardig dat almal wat die eed van trou aan die Britse koning afgelê het, daarvan ontslaan sou wees” (73). “Nadat Janssens met die vraagstukke aan die grens kennis gemaak het, het hy besef dat die verhouding tussen wit en swart kon baat vind by die beperking van kontak tussen die twee groepe. Hy het bepaal dat geen wit mens ‘n swarte in sy diens mag neem nie, onder meer omdat verskille tussen individue tot algemene twiste kon lei. Janssens het ‘n klein klompie soldate onder kapt L Alberti by Algoabaai gelaat om die vrede aan die grens te probeer handhaaf. Alberti het later in ‘n boek geskryf dat daar twee grondbeginsels vir rus en welvaart is: dat die swartes binne hulle grense bly en dat alle omgang tussen wit en swart mense beëindig moes word” (74).

Na Janssens se terugkeer na Kaapstad het De Mist “eers noord- en daarna ooswaarts gereis. Op die reis kon De Mist tot ander insigte oor die Kaapse samelewing kom. Sowel De Mist as Janssens was voorheen sterk onder die invloed van die leerstellings van Rousseau oor die ‘edele barbaar’. De Mist het toegegee dat hy te maklik geglo het aan John Barrow en die Fransman L Degrandpére wat die grensboere so ongunstig beskryf het. Toe De Mist in 1803 self die toestand aan die grens kon waarneem, het hy geskryf hy kon nooit vermoed dat skrywers soos dié twee ‘enkel uit nationale nijd’ soveel lasterlike onwaarhede kon verkondig nie” (74).

In 1803 het die oorlog tussen Engeland en Frankryk (en dus ook sy bondgenoot die Bataafse Republiek) weer uitgebreek. In 1806 het die tweede Britse besetting van die Kaap begin (79). “Hoewel die Afrikaanstaliges die een of ander vorm van Afrikaans gepraat het, was hul kultuurtaal Nederlands of Hollands, soos dit indertyd genoem is. ‘n Soort ‘diglossie’ het bestaan – die volk het een taal [proto-Afrikaans] gebruik as omgangstaal, dus vir ‘lae funksies’, en ‘n verwante taalvorm [Hollands] as kultuurtaal, vir ‘hoë funksies’ soos die onderwys en die godsdiens” (80).

Vroeg in die 19de eeu het reste van Khoi-stamme, bekend as die Oorlams, die huidige Namibië binnegetrek. “Hul trek was deel van ‘n algemene beweging van die Khoi om so ver moontlik van die wit mense af weg te kom” (84). Die eerste Britse goewerneur, graaf Caledon, het gelas dat iedere Khoi ‘n pas moet dra. Op sy versoek het Richard Collins ‘n verslag opgestel. “Algehele skeiding tussen wit en swart het hy as die enigste oplossing vir die grensmoeilikheid beskou” (85).

‘n Rondgaande hof het in 1812/13 bewerings van onder andere die sendelinge J Read en JT van der Kemp ondersoek waarvolgens “Afrikaners moorde op Khoi pleeg … geen enkele moord op Khoi [is] bewys nie” (85). Van die sendingstasie Bethelsdorp sê die regters dat “luiheid en ledigheid en derhalwe morsigheid en smerigheid daar opgroei tot perfeksie” (86).

Met die koms van die Britse setlaars in 1820 was lord Charles Somerset met verlof. Hy het die waarnemende goewerneur, sir Rufane Dunkin, “gevra om die Engelse, Skotte en Iere apart te plaas” (87). Die Britte het klaarblyklik naas rasseskeiding ook etniese skeiding voorgestaan. (Ek onderskei tussen ras, bv blank, en etnisiteit, bv Afrikaner.) Byvoorbeeld, in 1860/61: “Die Engelse van die ooste het Afrikaner-oorheersing deur die Wes-Kaap gevrees en wou van die weste afskei” (125). Maar daar was ook hierdie verskynsel: “Op die platteland het al hoe meer Britse setlaars Afrikaans begin leer” (93). Die half-Switserse, half-Engelse Louis Henri Meurant, maar gebore Kapenaar, het in Afrikaans oor onder meer die moontlike afskeiding van die Oos-Kaap geskryf. “Mense soos Meurant het Afrikaners onbedoeld en onbewus gereed gemaak vir ‘n Afrikaanse taalbeweging om van die volkstaal ‘n kultuurtaal te maak en weerstand te bied teen die verengelsing van die gemeenskap” (126-127). Die skeiding van die Oos- en Wes-Kaap het eers baie later onder die ANC-regering werklikheid geword.

Andries Stockenström het in 1825 in Graaff-Reinet aan twee Britse sendelinge en ‘n Britse setlaar gesê: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het” (94). Daar was “‘n ondraaglike gebrek aan sekuriteit” (94). Steyn verwys in hierdie konteks heel gepas na Rudolf Dreyer, die hoofkarakter in FA Venter se roman, Geknelde land (1960), wat sê: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie” (94). Steyn voeg skuins by: “Hy gebruik die destydse neutrale k-woord vir swarte” (94). Enkele bladsye later noem Steyn: “Hans de Lange het ‘n mak bobbejaan gehad wat volgens oorlewering selfs kon toulei!” (97).

Veral Skotse predikante is ingevoer om Afrikaners te verengels. Hulle is vooraf “na Nederland gestuur om die taal te leer” (87). “Die Afrikanerbevolking was tien keer so groot as die Engelse deel” (91) maar Kaapstad het “lank voor 1850 al hoe meer ‘n Engelse stad en al hoe minder ‘n Hollands-Afrikaanse stad geword … Baie Afrikaners het die Anglikaanse kerk besoek en was in Engelse skole” (89). Die Morawiese Sendinggenootskap op Genadendal het egter die “druk van die Kaapse regering weerstaan om die sendingskool te verengels” (128). “By sendingstasies, selfs noord van die Oranjerivier, was Khoi-Afrikaans die omgangstaal, al het die sendelinge dit nie altyd gebruik nie, want sommige het hulle van Hollands bedien” (129). ANE Changuion skryf dat “Nederlands geen kans het om [die] volkstaal van die Afrikaner te word nie” (90), onder meer vanweë die groot verskille tussen (geskrewe) Nederlands en (gesproke) Afrikaans. “Hy noem vier skakerings van Kaapse Nederlands teen 1840: suiwer Nederlands, die Hoog-Hollands van Kaapse burgerkringe, die Platkaaps van ander wit mense en die Platkaaps van die Khoi en ander bruin mense” (90).

Tydens die Groot Trek was die lewensverlies weens gewelddadige aanvalle deur swartes skrikwekkend. “Die meeste trekkers wat in vyandelikhede dood is, se waens was in klein groepies uitgespan en nie in ‘n laer saamgetrek nie” (98). Maar deesdae moet Afrikaners dikwels smalend aanhoor dat ons nie ter selfbeskerming laer mag trek nie. Van die Afrikanerkenmerke wat vroeg opgemerk is, is “dwarstrekkery en onderlinge vyandskap” (78). Om suksesvol te wees, “moes daar ‘n Afrikaner opstaan met die nodige leiersgawes om hulle te verenig en na ‘n bepaalde bestemming te lei” (106). ‘n Ander negatiewe kenmerk is dat Afrikaners op swaar hande-arbeid neergesien het. GD Scholtz noem dit “waarskynlik die grootste skadukant van die Afrikaanse volkslewe” (165). Orania werk tans hierdie persepsie teë deur ‘n toonbeeld van volkseie arbeid te wees. President MT Steyn het ‘n ambagskool “‘n tempel van edele arbeid genoem” (166).

Lank voor die Anglo-Boere-oorlog was daar al hanskakies. Voordat Natal in 1843 deur die Britte geannekseer is, is Josias Cloete daarheen gestuur. Hy het “aan die Zoeloes die reg gegee om beeste en perde van die trekkers af te neem en teen betaling na hom te bring” (119). Reeds “van 1842 af het die trekkers Natal begin verlaat” (119). Dit is in hierdie situasie dat Susanna Smit gesê het dat die vroue eerder kaalvoet oor die Drakensberg sal loop as om hulle onder die Britse vlag te berus.

“Die vordering van Engels in die Kaapse kerk was ‘n natuurlike gevolg van die verengelsing van die onderwys, veral vanaf 1865” (187). MER[othmann] noem dat “Afrikaanse meisies … veral weens die onderwys en die aansien van Engels graag dié taal onder mekaar gepraat” het; nie die seuns nie (129). “Sy skryf ook dat goeie ouers na goeie onderwys vir hul kinders gesoek het wat loopbane toeganklik sou maak. En daarvoor was Engels onmisbaar” (129). Hierdie argument moet ons steeds aanhoor. “Name is verengels … ‘n Vrou wou haar seuntjie Sydney doop. ‘Sit nie? Mag hy dan nie sit nie?’ Die vrou het die naam maar gelos. Ouers en kinders, of kinders onderling, het van 1875 af in die Kaapkolonie toenemend in Engels met mekaar gekorrespondeer. Afrikaners het in gesprekke al meer Engelse uitdrukkings oorgeneem” (129). Tans is die situasie dalk veel erger. Kyk gerus hoeveel Afrikaans daar op die studentewebwerf Bonfiire Stellenbosch is.

“Onderwysers het Afrikaanse kinders probeer skaam maak vir hulle voorouers” (130). Deesdae is daar bv Afrikaanse dosente wat dieselfde doen. Daar is dikwels geen goeie woord vir die destydse blanke politieke bewind, Afrikaners of Afrikaans nie. In 1935 het MER geskryf:

“Ons het in Transvaal geleer wat dit beteken om ‘n Afrikaanse volk te wees, ‘n suiwer Afrikaanse volk. So sal ons seker nie weer kan wees nie, maar wie dit gevoel het, kan dit nooit vergeet nie” (168).

SJ du Toit, later ‘n leidende lid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), het in 1874 oor verengelsing aan Afrikaners geskryf: “Vreemdelinge neem u plek in, en – u swyg … U het gebou, vreemdelinge neem u plek in … sonder taal, geen nasie. Daarom Afrikaners, hou u land, u volk, en u taal in ere!” (139). Johannes Brill het gesê dat Afrikaans “die ware landstaal van Suid-Afrika” is (139). In die manifes van die GRA, gestig op 14 Augustus 1875, staan: “Want as jy een volk syn taal afneem, dan maak jy hom tot een doofstomme; jy ontneem hom die wysheid van syn voorvaders … daar is mar één moedertaal, die taal van ons hart” (142).

Die Patriot, die eerste koerant in Afrikaans, is van 1876 tot 1904 gepubliseer. Frans Lion Cachet het “geskryf dat dit ‘bitter smartelik’ was dat hy bly moes voel oor die blad se einde” (182), onder meer omdat SJ du Toit later pro-Brits en anti-Afrikaner gesind was. Du Toit het “Engeland openlik aangespoor om oorlog teen Transvaal te verklaar” (193). Dit is soos Afrikaners later oor die ondergang van die Nasionale Party gevoel het, wat in die jare negentig soos handomkeer verander het en in die ANC opgeneem is. Oorspronklik was die NP bedoel “as die Afrikaner se politieke wapen om sy taal, kultuur, tradisies en nasionale identiteit te handhaaf” (276). Teen die einde het niks van hierdie oogmerke oorgebly nie. “Die Nasionale Party het ‘n eerlose dood gesterf” (400).

Na die ontdekking van diamante en goud het Cecil Rhodes deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid geword. Een van sy biograwe het geskryf: “Only one race, so it seemed to him, approached God’s ideal type, his own Anglo-Saxon race; God’s purpose then was to make the Anglo-Saxon race predominant, and the best way to help on God’s work and fulfil His purpose in the world was to contribute to the predominance of the Anglo-Saxon race and so bring nearer the reign of justice, liberty and peace” (147). ANC-leiers kom deesdae met soortgelyke vergesogte metafisiese uitsprake oor swartes en die ANC.

Onze Jan Hofmeyr “was nie ten gunste van Afrikaans nie, maar het in sy koerant [De Zuid-Afrikaan] ‘n kampvegter geword vir ‘n kultuurtrots by Kaapse Afrikaners en die behoud van Hollands in die kerk en skool. Ten dele was dit ‘n reaksie op die GRA se publikasies en sy strewe na die erkenning van Afrikaans” (149). “‘n Groot nasionalis was Hofmeyr nooit, maar hy was volksbewus genoeg om die Transvalers aan te spoor tot lydelike verset as ‘n manier waarop hulle hul Britse heersers kon uitput” (150). In 1899 het Hofmeyr “verklaar dat hy liewer ‘n verenigde Suid-Afrika onder Britse as onder republikeinse bestuur verkies” (190). In “1882 is Hollands naas Engels vir die parlement erken … later het Hofmeyr erken dat die ‘hooggeroemde’ taalgelykheid van die Kolonie eintlik nie ‘n feit was nie, maar fiksie. Hoewel Hofmeyr nie anti-Afrikaans was nie, was hy die Afrikaanse beweging nie goedgesind nie. Hy het gemeen dat dit tot verbrokkeling van kragte en mislukking van die taalstryd sou lei” (154). In 1893 is ‘n taalmonument vir Hollands op Burgerdorp onthul uit erkenning van Hollands as parlementstaal (177).

Marie Koopmans-De Wet (1834-1906) se huis in Kaapstad het as die “Strandstraatse salon” bekend gestaan en is as “‘n voorportaal van die Afrikanerbond” van Hofmeyr beskou (177). Die kasteel in Kaapstad is in daardie tyd “‘n hele paar keer met sloping of skending bedreig … Vir baie mense was dit die bakermat van die Afrikaanse beskawing” (177). Onlangs is vier demografies onverteenwoordigende beeldhouwerke, dus net van swartes, in die kasteel onthul. Dit lyk nie asof die kasteel deur die ANC-regering as die bakermat van Afrikanerbeskawing eerbiedig word nie.

Ek vind dit interessant dat toe president Paul Kruger met die Pruisiese vors Bismarck gesels het, geen tolk nodig was nie. Bismarck het agtergekom dat sy kennis van Platduits* voldoende was om te volg wat Kruger sê (155). In 1883 het Paul Kruger in Londen “vir sir Hercules Robinson, Britse Hoë Kommissaris, voor die bors gegryp … nadat dié aan lord Derby, minister van kolonies, gesê het dat Kruger lieg! Derby en Robinson het Kruger toe om verskoning gevra” (155). Hierdie voorval herinner aan Tertius Delport se reaksie toe FW de Klerk se beloofde magsdeling geblyk het eintlik algehele magsoorgawe te wees. Delport vertel: “Ek het toe na FW se kantoor gestap en aan sy deur geklop. Toe hy oopmaak, het ek hom aan sy baadjielapelle gegryp en uitgeroep: ‘Wat het jy aangevang? Jy het die land weggegee. Jy het kinders laat onderhandel. Wat ons nou het, is nie magsdeling nie; dit is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor'” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 424). Anders as die genoemde twee Britte het De Klerk nie verskoning gevra nie; hy spog eerder oor wat hy met sy katastrofiese onderhandelings bereik het. [* Die rol van Platduits in die ontstaan van Afrikaans word myns insiens onderskat. Platduits was “in die 16de eeu die handelstaal van Europa … waarin die Hansestede vanaf Rusland tot Engeland en vanaf Swede tot Duitsland transaksies gesluit het” (Ernst Kotzé, Kaaps in fokus, reds Frank Hendricks en Charlyn Dyers, Stellenbosch: Sun Media, 2016, 145p, R225, p 39.]

Generaal Christiaan de Wet het in 1897 gesê “dat die verwaarlosing van ‘n taal die onafhanklikheid van ‘n nasie ondermyn” (182). DC Hesseling het hom in dieselfde jaar “heel profeties oor Nederlands in Suid-Afrika uitgelaat. Hy het gesê dat hy dit nie as moontlik beskou dat ‘n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur ‘n kloof van twee eeue van die spreektaal geskei is, ooit die voertuig kan word van ‘n nasionale letterkunde nie – iets wat die enigste bolwerk is teen die mag van Engels wat al hoe meer veld win” (182). In 1908 het DF Malan die volgende oproep gedoen:

“Verhef die Afrikaanse taal tot skryftaal, maak dit die draer van ons kultuur, ons geskiedenis, ons nasionale ideale, en u verhef daarmee ook die volk wat dit praat. Hou egter die volkstaal op die voet van ‘n half beskaafde provinsiale dialek, en u hou daarmee ook die volk op die peil van ‘n half beskaafde ongeletterde volksklas” (287).

In die aanloop tot die Anglo-Boere-oorlog is generaal sir William Butler in 1898 as opperbevelhebber van die Britse troepe na Suid-Afrika gestuur. Hy het “sy verbasing uitgespreek oor die wyse waarop die Engelse pers alles wat ‘Dutch’ was, beskimp en belaster” het (188). Alfred Milner, die goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, “was gretig om die oorlog gou te laat begin. Hy het die lot van die uitlanders voorgehou as betreurenswaardig onder ‘die drukkende en verrotte bestuur van ‘n koppige en agterlike ou Boerepresident [Kruger] met sy kliek'” (189). Volgens president MT Steyn van die Vrystaat was “die uitlandergriewe … net ‘n dekmantel om die republieke, waar die Afrikanergees lewend gehou word, uit te wis en die Afrikanervolk te vernietig” (190). Milner wou die Boere verslaan “and ultimately getting rid of them as a separate, exclusive caste” (215). Sy strategie was “to admit Dutch until the Anglicizing process is consummated” (216). Die ANC volg ‘n soortgelyke strategie ten koste van Afrikaans.

President Steyn het in die Vrystaatse volksraad verklaar: “Ek sê egter nou met ‘n vry gewete en openlik voor die volk: ek verloor liewers die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit te behou deur oneer of ontrou. Ek weet wat dit vir twee swakke republieke is om te stry teen die magtigste ryk wat die wêreld ooit geken het, maar ek weet dat indien dit tot oorlog mag kom, ons nie stry vir die stemreg nie, maar vir die bestaan van die Afrikanervolk” (190). Vergelyk hierdie gesindheid met die mandaadlose magsoorgawe aan die ANC deur FW de Klerk en sy groepie meelopers.

Olive Schreiner het in 1899 haar lesers in Engeland gewaarsku “dat Brittanje met sy oormag dalk wel die Afrikaner kon verpletter, maar dat as ‘n paar van hulle die gruwele van die oorlog oorleef, geweld nooit die liefde vir vryheid in hul harte sal kan uitdoof nie” (191). Toe die oorlog ‘n voldonge feit word, het Paul Kruger geprewel: “Red toch uw volk uit zijn verdriet” (Psalm 108, vers 8). Daarna was dit, in die woorde van generaal Ben Viljoen, “God en die Mauser” (192). “Die Britte was beroepsoldate” (194) terwyl “party burgers … eerder boere as Boere” was (193).

Winston Churchill “was gekant teen die metodes wat die Britte teen die einde van die oorlog gebruik het [bv verskroeide aarde en konsentrasiekampe] en het in ‘n brief aan Milner verwys na die barbaarsheid daarvan” (197). Toe Pretoria later in die oorlog in die hande van die Britte val en hulle intog in die stad deur die inwoners verwelkom is, het die Boerespioen JJ Naudé opgemerk: “Hoeveel van die lafhartige vis-nog-graatagtige ellendelinge tel ons soms onder die naam Afrikaner!” (205). “NP van Wyk Louw skryf daar was goeie argumente vir en teen die oorlogsverklaring. Maar ‘as ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse [eerder: Afrikaner-] volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees. Maar uit die trots van die driejarige stryd teen ‘n wêreldmag is ‘n nuwe Afrikaanse [Afrikaner-] nasionalisme gebore wat nie langer te keer was nie” (207).

Myns insiens hoef daar by Afrikaners nie danig skaamte oor apartheid te wees nie. Wie in oortreffende mate skaam behoort te wees, is diegene wat in die jare negentig en daarna roemloos oorgegee het. Vergelyk dit met wat die Nederlandse digter, Albert Verwey (1865-1937), oor die Boere gesê het: “‘n Ander en beter mensesoort het opgestaan, ‘n beter volk as ons stry in Suid-Afrika vir sy bestaan” (211). Louwrens Penning het graag daarop aanspraak gemaak dat die Boerevolk “een loot van de Oud-Nederlandse stam” was (212). “Afrikaans was die spreektaal op kommando” (215). Die vyand het na Afrikaans as bv die “ox-waggon vernacular” verwys (224). “Maar hoe nuttig die kennis van Afrikaans tog was, blyk daaruit dat Milner dit kort ná sy aankoms geleer het” (224).

Generaal Louis Botha het president Steyn “die siel van die vryheidstryd” genoem (212). Anders as deesdae is “verraad en ontrou” destyds ten sterkste afgekeur (213). “Wapenneerlêers, of hensoppers, en veral Boere wat in diens van die Britte was, national scouts of joiners, het groot bitterheid veroorsaak” (220). Hulle word “verloopte Afrikaners” genoem (220); ‘n spesie wat steeds in ons midde is. “Ná die oorlog was die joiners sosiale uitgeworpenes en hul dade is dekades lank onthou” (220). Deesdae is verloopte Afrikaners in die voorste gestoeltes en word hulle ingevolge ubuntu, versoening, transformasie, nasiebou, handevat, ens, as moreel voortreflik voorgehou.

In 1901 het die Transvaalse generaal Jan Smuts “aan die Vrystaat laat weet dis beter om die oorlog te laat ophou en oor vyftien of twintig jaar die stryd te hervat. [President] Steyn was, in sy eie woorde, ‘diep verontwaardig en bitter teleurgesteld.’ Hy het op 15 Mei die Transvaalse bewering verwerp dat die regering en die offisiere die oorlog sou voortsit, maar dat die volk sou oorgee. In die Vrystaat kon die regering en die offisiere oorgee, maar die volk sou dit nie doen nie. Dit sou ‘n ramp vir ons nasionale bestaan wees indien die Vrystaat wat sy goed en bloed maar ook sy vryheid vir Transvaal opgeoffer het, in die steek gelaat word. Dit sou die einde meebring van alle vertroue of Afrikanersamewerking. Aan Smuts het Steyn geskryf dat hy nie saamstem dat die volk ná oorgawe weer in opstand sal kom nie. ‘Indien ons ons onafhanklikheid wil behou, moet ons veg tot die bittere einde, want as daar eenmaal vrede is, sal die burgers nie weer oorlog wil maak nie.’ As die republieke die Kaapse rebelle in die steek laat, sal dit die nekslag vir die Afrikanervolk wees” (223).

“Die oorlog het dus nie net Vrystaters en Transvalers geraak nie, maar ook Kaapse Afrikaners. So het die oorlog een van die kragtigste faktore geword om die eenheidsgevoel onder Afrikaners in alle dele van die land te versterk en ‘n gees van nasionalisme aan te wakker” (226). Die Afrikanervroue het bankvas agter die Boere gestaan, al het ruim ‘n kwart van die konsentrasiekampbevolking omgekom (219). Die Britte het gedink of gehoop dat die vroue sou moedverloor, wat Paul Kruger laat opmerk het: “Dit is merkwaardig hoe weinig die Engelse die innerlike wese van ons volk ken” (219).

Gideon Scheepers is in 1902 by Graaff-Reinet deur die Britte tereggestel omdat hy gewapende swartes in Britse diens laat teregstel het. Scheepers het geskryf: “Doch wy Afrikaners zullen onder de Engelsman nooit recht zien … Hoe de vyand ook moge juigen, het Afrikaner Volk zal leven en niet sterven!” (227). “Die swart elite het Brittanje gesteun,” maar vir ‘n swart joernalis, John Tengo Jabavu, was dit “moreel onregverdigbaar om die republieke te vernietig om Britse heerskappy te vestig” (230). “David Lloyd George het beweer dat daar tot 30 000 gewapende gekleurdes in Britse militêre diens was – meer as die aantal bittereinder-Boere in Mei 1902. Ná die oolog het die Britte meer as 50 000 vuurwapens van swartes in Transvaal gekonfiskeer” (230).

“Die Kaapse bruin mense was in die oorlog van die vurigste ondersteuners van die Britte … Die Britte het in Maart 1901 vier Afrikanerburgerlikes op grond van valse getuienis van bruin mense tereggestel” (229). Is daar al ooit uit bruin geledere verskoning hiervoor gevra? “Die historikus CFJ Muller sê dat die ‘oorgrote meerderheid’ van die Stellenbosse bruin mense Britsgesind was, maar die Afrikanerintelligentsia, -boere, -studente en -dorpsbewoners daar Boergesind” (229). Dat die politieke klimaat daar toe heeltemal anders as tans was, blyk daaruit dat die raad van die Victoria-kollege (die voorganger van die Universiteit Stellenbosch) “die kollegesaal geweier het vir ‘n konsert om geld vir siek en gewonde Britse soldate te in” (228).

Generaal JBM Hertzog het in 1902 “daarop gewys dat die grondwette van die twee republieke nie aan die regerings die reg gee om aan die onafhanklikheid te torring nie. Net die volk kon die regerings magtig om die onafhanklikheid prys te gee” (234). Sou die blanke kiesers nie ook oor hierdie reg in die 1990’s beskik het nie? Hulle het immers nooit tot magsoorgawe ingestem nie. President Steyn het gesê: “Die volk moet nie in so ‘n toestand gebring word dat hy sy selfrespek verloor en in ‘n posisie beland waarin hy hom verneder sal voel in die oë van die Britte nie” (234). Maar het die De Klerk-onderhandelings die blankes nie heeltemal onverdiend juis in so ‘n hoogs vernederende posisie laat beland nie? Lord Kitchener het probeer om die Boere te sus met die opmerking: “Dit is onmoontlik dat ‘n volk wat gestry het soos die Boere sy selfrespek kan verloor” (234). Maar die blankes het nie in die jare negentig gestry nie. Die veiligheidsmagte (weermag en polisie) is deur FW de Klerk grootliks geneutraliseer. Die huidige geslag blankes hoef nie noodwendig hulle selfrespek te verloor nie, maar hulle behoort beslis nie respek te hê vir diegene wat hulle (grootliks) uit hulle toekoms verneuk het nie.

Tydens die vredesonderhandelings het Milner te kenne gegee: “Ek wil slegs een taal in Suid-Afrika hê.” Hierop het Hertzog geantwoord: “Ek ook!” (236). Hierdie onderhandelings met Brittanje het nie in die kruipend toegeeflike gees plaasgevind wat kenmerkend van die NP se onderhandeling met die ANC was nie. Jan Smuts het die erns van die onderhandelings besef; dat die onderhandelaars ‘n dure verantwoordelikheid het teenoor diegene wat hulle verteenwoordig: “Ons verteenwoordig die bloed en trane van ‘n ganse volk” (237). Daar was geen welwillende kameraadskap met die vyand soos in die onlangse jare negentig nie. Onmiddellik nadat die Vrede van Vereeniging onderteken is, het FW Reitz, die Transvaalse staatssekretaris, “na ‘n hoek geloop en in trane uitgebars” (238). Smuts het aan Emily Hobhouse geskryf: “I sometimes ask myself whether South Africa will rise again” (241). In 1906 het Smuts geskryf dat hy teen stemreg vir swartes is. “When I consider the political future of the natives … I must say that I look into shadows and darkness” (271). Daardie donkerte sak sedert 1994 met mening op die blankes toe. Teen die einde van sy politieke loopbaan het Smuts rassesegregasie verwerp “omdat die stroom swartes na die nywerhede nie gestuit kon word nie” (342).

Tydens die Nasionale Konvensie, wat in 1908 ‘n grondwet vir ‘n Unie van Suid-Afrika moes opstel, het die Afrikaners vasgestaan. Oud-president Steyn het gesê: “Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ‘n onderdanige posisie sal gaan plaas nie” (267). In vergelyking hiermee, hoe anders en diep bedenklik was die benadering van die NP-onderhandelaars nie tov Afrikaners en Afrikaans nie. Dit laat ‘n mens aan Louis Leipoldt se Oom Gert dink: “Jy wil die storie van ons sterfte hoor” (272), of: “Ons het ons nasie in die see gesink; ons het geen land meer nie” (273). In 1912 het Hertzog “gesê dat ‘die Afrikaner’ nie deur vreemdelinge regeer moet word nie. Die Afrikaners, en dit sluit Engelssprekendes in wat in die land gewortel is, moet baas wees in die politiek, die onderwys en administrasie” (275-276). Smuts het in 1917 gesê “dat [rasse]skeiding nodig is om te verhinder dat ons ‘ondergaan in die welsand’ van Afrika soos ander beskawings wat eenmaal in Afrika gebloei het en waarvan net ruïnes oor is” (316).

Na die oorlog het JD Kestell geskryf: “Die Afrikaner-sin en -gees bestaan nog … Die Afrikanervolk bly ‘n onuitdelgbare element” (243), maar “vir die Afrikaners het dit ‘n vreemde land geword” (244). Byvoorbeeld: “Daar was dikwels niemand op spoorwegstasies en treine en in pos-, magistraats- en ander kantore wat Afrikaners in hul eie taal kon bedien nie … Openbare kennisgewings op stasies en elders was net in Engels, soms ook ‘n Afrikataal, maar selde in Hollands” (244-245). Herken lesers ons huidige situasie? Smuts het na-oorlogs getransformeer en praat nou van “konsiliasie” en hy het daarby ‘n nuwe siening: “Ons moet vergeet en vergewe, nie alleen ons eie mense nie [bv die joiners] – hulle allereers – maar ook die Engelse” (248). In sy laaste boodskap skryf Paul Kruger in 1904: “Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel, geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat tans terneer lê” (253).

By die na-oorlogse Afrikaners is “die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te behou. Taal het deel geword van die identiteit van die Afrikaner. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword” (256). “Die standaardtaal wat langsamerhand ontwikkel is, is gegrond op Oosgrensafrikaans” (264); daardie soort Afrikaans wat tydens en na die Groot Trek oor die hele Suid-Afrika versprei is. “Die sprekers van Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans [die twee ander hoofvariëteite van Afrikaans] was oor die algemeen pro-Brits en die Afrikaners in die Kaapkolonie dikwels sterk anti-Brits. Die belangrikste bruin leier van dié tyd en die dekades daarna was Abdullah Abdurahman, wat bitter anti-Afrikaner en sonder doekies omdraai teen Afrikaans was” (264-265). Jakes Gerwel se houding was: “Óns het nie die Boere-oorlog geveg nie en ons hoef dit nie voort te sit nie” (265). Jaap Steyn skryf: “Dit was verstaanbaar dat Afrikaners die standaardisering van Afrikaans aangepak het sonder om kulturele leiers van ander skynbaar vyandiggesinde Afrikaanse groepe te raadpleeg” (265).

Volgens GD Scholtz het Afrikaners na die oorlog een van drie koerse ingeslaan. “Die eerste koers was dié van die Afrikanernasionaliste. Hulle het hulle met moeite aan die veroweraar onderwerp, wou slegs Afrikaners wees, wou getrou bly aan hul taal, kultuur, tradisies en godsdiens, en was bereid om die stryd vir die behoud daarvan aan te knoop. [Sonder enige sweem van onderwerping of berusting, verwoord dit ook my koers in die nuwe Suid-Afrika.] ‘n Tweede koers was dié van mense wat bereid was om hulle aan anglisasie te onderwerp en geestelik heeltemal Brits geword het [die neo-hanskakies]. Die derde koers is gegaan deur mense wat hulle onderwerp het aan omstandighede wat na hul mening nie verander kon word nie. Hulle het die beste van die saak probeer maak en het so min as moontlik ‘n stryd aangeknoop [deesdae die polities korrekte godswater-oor-godsakker-brigade] (266).

In Johannes van Melle se roman, Bart Nel (1936), word die hoofkarakter ‘n voorbeeld van die Afrikanernasionalis wat alles verloor maar sy siel behou het. “Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie … My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy” (288).

Naas die term “taalgetrouheid” (256) gebruik Jaap Steyn ook die term “volksgetrouheid” (326). Hy haal NP van Wyk Louw aan (woorde wat my as Afrikaner in my verset teen die ANC inspireer): “dat ons nie kon gebuig word / soos hul geweld dit wou” (320) en “As jy ‘n trotse volk verkneg, / word ópstand teen die reg sy reg” (329). In 1942 skryf Van Wyk Louw oor nasionale Afrikaners: “Nasionaal sal vir my beteken iemand wat Afr[ikaans] in sy huis, in die opvoeding van sy kinders, in sy skryftaal en oral bly” (336). Heelwat later sê hy oor die toekoms van Afrikaans: “Oor wat ons taal sál word, of oor wat ván hom sal word, kan ons … nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange” (354).

Volgens die Sauer-kommissie, wat deur die NP aangestel is en in 1947 verslag gedoen het, was “daar net twee rigtings in Suid-Afrika … dié van apartheid en gelykstelling. Laasgenoemde moet lei tot die vernietiging van die wit mense as selfstandige en selfregerende nasie. Gelykstelling sal op die duur vir die wittes nasionale selfmoord en vir die ander groepe vernietiging van hul eie identiteit meebring. Apartheid beskerm en beveilig elke ras se karakter en toekoms binne sy eie gebied en gun aan elke ras in sy eie tuiste volle geleenthede om te ontwikkel; apartheid verseker aan almal ‘die onvervreembare reg van selfhandhawing en selfbeskikking'” (342). Daardie “onvervreembare reg” is sedertdien van die blankes weggeneem en selfs die katastrofiese “gelykstelling” bestaan nie; vir blankes het dit agterstelling geword, insluitende die “agterstelling van Afrikaans” (343, 349). In ‘n 1954-hoofartikel in Die Burger staan: “Suid-Afrika kan alleen Suid-Afrika bly as hy deur alles heen trou bly aan sy taal en die Afrikaanse poësie … en dit as die siel van die volk erken” (352).

Volgens Hendrik Verwoerd gee taalregte erkenning aan die menswaardigheid van mense. “Wat is meer verbonde met die waardigheid van ‘n mens as dat hy sy moedertaal erken kry en ten opsigte daarvan nie verdruk voel nie?” (357). “Taal en nasiewees is nóú met mekaar verbonde. Elke keer wanneer ‘n veroweraar die selfstandigheid van ‘n volk wou wegneem, het hy hom toegelê op die ontneming van die taal van ‘n volk” (357). In 1960 het Verwoerd verklaar dat die regering en leiers “soos mure van graniet moet staan omdat die voortbestaan van die volk op die spel staan” (357). ‘n Skrale drie dekades later was hierdie graniet kwalik spookasem.

In 1975 is die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl onthul (371). Skaars 15 jaar later is begin om ‘n bedeling te skep waarin Afrikaans drasties aan status sou inboet en 10 ander tale (veral Engels) aan status sou wen. In 1991 was Engels die enigste onderhandelingstaal by Kodesa (385). Voor dit is geredeneer: “Liewer agt swart tuislande as een swart tuisland – die hele Suid-Afrika” (373). In 1969 het Die Beeld in ‘n hoofartikel geskryf dis “‘n ‘alte lekker geloof’ om te verkondig dat skeiding nie so noodsaaklik is vir die sukses van die skeidingsbeleid nie” (373). Terreurveldtogte is deur die ANC/UDF en die PAC gevoer. “Van die veiligheidsmagte is verwag dat hulle steeds streng binne die raamwerk van die wet optree. Vir revolusionêres het dié beperking nie gegeld nie. Die veiligheidsmagte moes dus sien hoe die revolusionêre bewegings na willekeur organiseer en hul teenstanders intimideer of doodmaak” (380). Bevrydingsteoloë het hierdie dubbele standaarde geregtigheid genoem.

FW de Klerk het, na bewering “sonder bedreiging of verdrukking van die minderheidsgroepe,” in 1990 ‘n “kwantumsprong” of “paradigmaverskuiwing” aangekondig (385). Die voorsitter van die Afrikaner-Broederbond,* Pieter de Lange, het reeds in 1992 beweer dat “magsoorgawe” ‘n “gesuiwerde” staanplek aan wit mense sal gee. “Al sê die politici ook wat, blankes moet aanvaar dat hul magsprysgawe permanent sal wees” (386). “Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: ‘Hulle het oor alles ingegee!'” (386). Was De Klerk se sprong in landsbelang? Suid-Afrika was in 1975 die 18de grootste ekonomie in die wêreld en die 15de grootste handelsland. Dertig jaar later was hy onderskeidelik 28ste en 37ste (363). [* Die Afrikaner-Broederbond was eintlik ‘n parodie op Hofmeyr se Afrikanerbond.]

Hennie Aucamp het geskryf: “Wie die siel van ‘n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ‘n man se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself” (387). Nelson Mandela het in sy volle valsheid “verskeie kere versekerings aan Afrikaners gegee dat Afrikaans nie afgeskaal gaan word nie … Afrikaans het niks te vrees in die nuwe Suid-Afrika nie” (388). Maar: “‘n Gevolg van transformasie is ‘n ingrypende inkorting van die funksies van Afrikaans” (390). Daarteenoor word Engels as die “taal van versoening” voorgehou (394). ‘n “Politiek van vergelding” (393) is aan die orde van die dag, gemik teen blankes in die algemeen en veral teen Afrikaners en Afrikaans. Heel gepas word DJ Opperman se woorde aangehaal: “Ons is geroepe om ‘n groot afspraak / met die dood te maak” (393) – tensy ons weerstand bied.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Dankie Leon Lemmer vir ‘n goeie ressensie. Die Hanskakieplaag wat steeds onder die Volk teenwoordig is soos ‘n anti-biotieka weerstandige virus bly vir my kommerwekkend. Nie dat die kerk dit ooit probeer anspreek of doodpreek het nie. Ek begryp nie waarom manne wie uitverkoop is aan ‘n Engelse en VSA okulte organisasie ter wille van geld, hulle kwansuis bekommer oor Christenskap en die Boere-Afrikaner se voortbestaan nie? Dis mos hoog-misleidende huigelary! n Groot deel van die Volksverval is die erosie van binne weens ‘n gebrek aan kennis en onderskeiding.

  • sussie se vissie

    Gee nuwe betekenis aan die woord ‘oorlams’ – supra.
    Dki heer Lemmer.

  • Suidpunt

    Mooi artikel.
    Ek kry die volgende hoogs interessante grafiek getiteld The dominance of English in the
    international scientific periodical literature and the future of
    language use in science, Rainer Enriche Hamel
    by vulgarisation-scientifique(punt)com. Dit toon hoe Engels as vaktydskrifartikeltaal vanaf 1880 toegeneem het tot 1980. Interessant hier is die opkoms van Russies, die konstante daling van bydraes in die Frans, die konstante opkoms in Duits tot die 1920’s (selfs meer as in Engels) en daarna die konstante afwaartse neiging. In die jare voor 1880 is dit baie duidelik: Frans was een van die belangrikste wetenskapstale ter wêreld – Frans het vandag, so lyk dit my, presies dieselfde waarde as Latyn – slegs goed vir die wetenskap en staatkunde uit die verlede. Maar nou kom die vraag weer: waar is die taalgetrouheid van die Franse? Of, het die Franse wel taalgetrou gebly, maar die res wêreld (soos bv. die hoogs bevolkte Indië, die Skandinawiese lande, Nederland, ens., Suid-Afrika, Anglo-Afrika, Suidoos-Asië) het in hul menigte eenvormig op Engels besluit? https://uploads.disquscdn.com/images/521a441c582000b5198fc4390366a12ec99b74136672a038a85b50a246757df0.png