Nee vir COPE

Deel op

As ek dit ooit oorweeg het om vir COPE te stem in die komende verkiesing is ek tans in ‘n proses van selfbesinning. Alhoewel ek steeds van mening is dat die koms van COPE een van die beste goed is wat met ons politieke situasie kon gebeur, wonder ek of dit wel ons probleme gaan aanspreek en of hulle die sogenaamde "reënboognasie" gaan verenig. Dat hulle ‘n wig in ANC-geledere vorm en die spreekwoordelike doring in hulle vlees is, betwyfel ek nie. Meeste COPE-lede het egter die ANC-wa goed gery totdat die wiele afgeval het en hulle besluit het om verder te ryloop in die vorm van ‘n nuutgestigte party.

Deel op

Mnr. Lekota se onlangse uitlatings oor die herinstelling van die kommando's om uiters noodsaaklike dienste te lewer laat mens wonder oor sy ware bedoelings. Hy sê dat tydens sy deelname aan die proses om die kommando's af te stel, het hy dit teensinnig gedoen want hyself wou dit eintlik geleidelik uitfasseer. So hy was ten gunste daarvan, maar hy wou dit op sy manier doen. 'n Absolute gespeel met woorde waarmee hy homself maar net meer skuldig maak. Hy is steeds van mening dat slegs die SAPS na burgerlikes moet omsien aangesien dit so tydens Kodesa bespreek is. Waar hy egter die pot sleg mis sit, is dat hy voel dat ons landsgrense deur die polisie verdedig moet word in die vorm van grensbeheer. Sedert die weermag van ons landsgrense verwyder is, het duisende vrylik oor ons grense gestroom en die effek daarvan is tans oral te sien.

Van die meeste misdade teen ons burgerlikes word deur misdadigers vanuit Mosambiek en Zimbabwe gepleeg waarna hulle vrylik met hulle buit na hulle land padgee. Van die grootste dwelmhandelaars kom uit Nigerië en het ons bure geword in die townships en ook Bishops Court. Die Polisie wat hy wil hê om al dié kwessies aan te spreek is duidelik onbevoeg as mens slegs kyk na die toename in misdaad en spesifiek dwelmhandel. Ons het nou al so baie dwelms in die land dat ons dit deur ons nasionale lugredery na Engeland kan uitvoer. Wat duidelik van onbevoegdheid spreek, is die feit dat ons nooit die dwelms van hier af kan keer nie en dat die Britte dit elke slag namens ons moet doen. Dis geen wonder hulle vereis nou visums van elke persoon wat hulle eiland vanaf SA wil besoek nie. Met ons swak paspoortbeheer en bedrog kan enige onwettige immigrant hiervandaan maklik na enige land as Suid-Afrikaner reis.

Die kommando's het vir jare landelike gebiede beveilig teen normale misdaad en ook aanvalle van oorkant ons grense. Die weermag en kommando's het hand aan hand gewerk en ‘n gedugte span gevorm. Spesifiek op ons plase is beveiliging deur die boere self gedoen en was plaasmoorde ongehoord. Nie net is blankes beskerm nie, maar mense van alle kleure. Nou is al hierdie mense wat deur 'n hoogs doeltreffende diens beskerm is die slagoffers van gewetenlose misdadigers met die polisie om hulle te beskerm. Die afstelling van die kommando's was juis uit vrees vanaf ANC-kant en presies om die verpolitisering van die polisie en weermag te bespoedig. COPE ry tans ook maar net in die spore van die ANC op ‘n voosgeryde pad en as mens mooi kyk, is daar min verskille in hul beleid. Mnr. Lekota waarsku teen die verpolitisering van ons polisie en die weermag en soos hy dit stel is dit een van die ANC se doelwitte. Hy vertel ons dan mos iets wat  ons weet, want hy was self minister van  verdediging en het gehelp om voetsoldate van Umkhonto in te lyf. Selebi se doen en late en die hantering van sy saak spreek mos ook boekdele. So Terror moenie dink hy kan vir baba bangmaak met sulke voorverkiesingsmenings nie. Die polisie en weermag is lankal verpolitiseer; dink eerder aan iets nuuts om jou volgelinge te beïndruk. Ons gaan nie almal na jou nuutgevonde "hawe" hardloop nie. Deur Boesak weereens 'n kans te gee, het julle baie van jul ou identiteit maar net weer laat deurskemer. Hy verwys na die onlangse toesmeerdery van Carl Niehaus deur die ANC wat baie goed vergelyk met Boesak se aanstelling. Hulle smeer daardeur ook maar net toe, deur Boesak as die nuwe kandidaat voor te stel wat ons onder sy leiding verder gaan voer.

Sy uitsprake teenoor die landbou en grondhervorming is maar net soos afgeroomde melk en het min om die lyf. Hy is blykbaar onbewus van opleiding en leiding wat aan mense gegee word wat plase en grond ontvang het. Hy stel voor as deel van sy meesterplan dat hulle eers opleiding sal ontvang voor enige grond oorgedra sal word aan diegene wat daarvoor kwalifiseer. Briljante plan, mnr. Lekota, as mens dit net kan laat werk. As hy maar net realisties sal wees en sy trots in sy sak steek, sal hy besef dat die blanke boer die een is wat hierdie ekonomie dra en van kos voorsien. Hoekom hulle nie kry om hierdie opleiding, waarmee hulle in elk geval al jare lank besig is, te doen en swart boere sodoende te bemagtig nie?

Ek dink die aantwoord daarop is voor die hand liggend of is dit net ‘n geval van: "Hy dink nie"?

COPE het 'n reusetaak voor die deur om uit die skoene van die ANC te kom en sal met unieke idees moet kom om die kieser, vernaam die een op die draad, te oortuig. Deur bloot die "julle-het-dit-gedoen-en-ons-doen-dat"-politiek te wil beoefen, is nie goed genoeg nie.

slots win real money no depositОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.