Die ad hoc-komitee oor die SABC beveel in ‘n werksdokument aan dat die transaksie met die betaaltelevisiemaatskappy Multichoice aan ‘n forensiese oudit onderwerp word, het RSG berig.
Dit is een van die aanbevelings wat vervat is in ‘n dokument wat in die besit van SABC-nuus is. Die werksdokument is aan die lede van die komitee versprei.
Luidens die verslag was die transaksie van meet af aan omstrede en word dit in die verslag as ‘n verdagte transaksie aangedui.
Die transaksie het onder meer daartoe gelei dat groot hoeveelhede argiefmateriaal aan Multichoice oorgedra is. Die komitee beveel aan dat die forensiese ondersoek die moontlikheid moet insluit dat die transaksie nietig verklaar kan word indien bewyse van ongerymdhede gevind word.
Die ad hoc-komitee het ook aanbeveel dat die ontbinding van die Raad dringend gefinaliseer word. Die komitee wil voorts hê die tussentydse raad moet alle onregmatige besteding en verkwisting by die uitsaaier ondersoek.
Die tussentydse raad moet ook stappe doen om geld wat verkwis of wanbestee is, terug te kry.
Die komitee beveel aan dat die rekenpligtige amptenaar moet toesien dat alle kritieke vakante poste in die finansiële departement en in menslike hulpbonne gevul moet word.
Meer as 40 aanbevelings word gemaak in die dokument van 38 bladsye.