Die Franse presidentskandidaat van die nasionalistiese Front National het gisteraand Suid-Afrikaanse tyd besoek gebring aan die Trump Tower in New York, hoofkwartier van mnr. Donald Trump. Sy is ook afgeneem in die geselskap van drie mans: haar metgesel en visepresident van die party, Louis Aliot, tesame met Guido “George” Lombardi en Le Pen se internasionale raadgewer, Ludovic De Danne.
Lombardi beskik volgens berigte oor bande met Europese patriotiese partye, maar is ook — volgens Politico — ‘n lid van die Trump-span. Hy woon self in die Trump-toring.
Marine Le Pen het haar besoek aan New York as “privaat” beskryf, maar tans gis heelwat media oor die besoek. Self wou sy nie sê of daar enige ontmoetings met Donald Trump sou plaasvind nie, terwyl die Trump-span volgens die BCC gesê het dat “daar geen vergaderings sou plaasvind nie”. ‘n Privaat of informele ontmoeting met Trump is dus nie uitgesluit nie.
Volgens die huidige meningsopnames in Frankryk behoort Madame Le Pen deur te dring tot die tweede en finale rondte van die presidentsverkiesing in dié land wat aan die begin van Mei gehou sal word. Haar grootste teenstanders tans is Manuel Valls van die Sosialistiese Party en François Fillon van die Republikeine. Die onafhanklike kandidaat Emanuel Macron geniet ook beduidende steun en dit is moontlik dat hy beter as Valls tydens die eerste rondte van die verkiesing einde April mag vaar.