Universiteite word oorval deur onderpresterende matrieks

Beurse gee jou vlerke om amok te kom maak
Deel op

Suid-Afrikaanse universiteite word oorval deur voornemende studente met duisende hoopvolle aansoekers wat reeds lang rye vorm by die verskillende kampusse in die land. Kommer heers dat die oorlading weer na geweld gaan lei.

Die oorvloed studente is die gevolg van aangepaste matriekslaagsyfers asook ‘n belofte van studiebeurse en hulle is waarskynlik nie goeie universiteitsmateriaal nie, gemeet aan die matriekuitslae.

Saam kan die 17 universiteite net sowat 60 000 eerstejaar-studente aanvaar, terwyl meer as 150 000 matrieks met universiteitstoelating geslaag het.

Die meer as 70 persent van kandidate wat Wiskundige Geletterdheid geslaag het, se gemiddeld was slegs 37 persent vir 2015. Vir die meeste ander vakke lyk die gemiddeldes ewe sleg.

Volgens die Economist kom Suid-Afrika se onderwysstelsel tweedelaaste uit 76 lande op die ranglys van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling ten spyte daarvan dat miljarde in die onderwys gestort word.

Suid-Afrika bestee baie meer geld aan onderwys as ander lande, te wete 6,4 persent van die land se BBP terwyl die EU se gemiddeld slegs 4,8 persent is.

By die Noordwes Universiteit se Mafikeng-kampus bou kommer op oor oorlading nadat die aanvanklike teiken van drieduisend reeds oorskry is.

‘n Woordvoerder van die studenteraad, Bongani Mahlangu, sê gewoonlik word 2800 nuwe studente aanvaar, maar die inname staan reeds op 3100. Mahlangu sê die kampus het 14 000 aansoeke ontvang.

Die universiteit het intussen studente verseker dat die registrasieproses Maandag glad sal verloop, het RSG berig.

Die Nelson Mandela Universiteit werk dag en nag om die invloei van studente-aansoeke vir toelating in 2017 te hanteer.

Die universiteit se kommunikasiebestuurder, Zandile Mbabela, sê die instelling het vanjaar reeds meer as 110 000 aansoeke ontvang teenoor die sowat 80 000 wat verlede jaar verwerk is.

Die universiteit kan slegs 6 500 eerstejaar-studente hanteer. Mbabela sê laat aansoeke word tot die einde van die werksdag aanvaar en word verwerk soos dit ontvang word.

Hy sê voornemende studente moet kennis neem daarvan dat sekere van die kursusse reeds vol is en kan op die universiteit se webtuiste gaan vasstel watter programme reeds gevul is.

Gefrustreerde studente wat Donderdag probeer het om by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein te registreer, sal vandag moet terugkeer weens die stadige registrasieproses.

Hulle sê sommige studente moes weens tegniese probleme met die registrasie huis toe gaan. Sommige het gekla dat hulle ver gereis het en nie verblyf het nie, en ook nie geld het om terug te kom nie.

Die sentrale universiteitsbestuur het intussen gesê dat hoewel die nasionale studentehulpfondsskema nie klasgelde vir eerstejaars betaal nie, studente aanvaar word wat deur die skema goedgekeur is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.