Tanzanië dank krag-hoof af na verhogings

Deel op

Tanzanië se pres. John Magufuli het die hoof van die staat se elektrisiteitsmaatskappy Sondag afgedank nadat die maatskappy tariewe verhoog het, ‘n stap wat die president sê sy planne in die wiele sal ry om die Oos-Afrikaland te industrialiseer.

Waarskynlik sal dit ook sy politieke loopbaan help.

Tanzanië se elektrisiteitsreguleerder het Donderdag planne goedgekeur om elektrisiteitstariewe van Tan­zanië se elektrisiteitsvoorsieningsmaat­skappy (Tanesco) met 8,53 persent te verhoog, minder as die helfte van wat die nutsmaat­skappy sê nodig is om verliese te verminder.

Pres. Magufuli se kantoor het die afdanking­ van Tanesco se besturende direkteur, Felchesmi Mramba, in ‘n verklaring aangekondig, het Reuters berig.

Ure voor die aankondiging van die afdanking het die president die prysverhogings gekanseleer.

“Dit is onaanvaarbaar terwyl ons planne maak om ‘n vervaardigingsbedryf te bou en te verseker dat meer burgers toegang tot elektrisiteit het,” het Magufuli in ‘n verklaring gesê.

Ongeveer 40 persent van Tanzanië se bevolking van ongeveer 50 miljoen mense het toegang tot elektrisiteit en die regering hoop om dit tot 75 persent teen 2025 te vermeerder.

Sedert hy ‘n jaar gelede aan bewind gekom het, het Magufuli dosyne staatsamptenare afgedank as deel van ‘n teenkorrupsieveldtog en om nuwe stukrag vir doeltreffende regering mee te bring.

Hy het ‘n dosent aan die staatsuniversiteit van Dar es Salaam, Tito Esau Mwinuka, as waarnemende besturende direkteur van Tanesco aangestel.

Die elektrisiteitsmaatskappy wou aanvanklik ‘n tariefverhoging van 18,19 persent instel om ‘n verliesmakende tendens uit te wis en skuld aan onafhanklike kragprodusente en brandstofvoorsieners te betaal.

Die tariefverhoging sou op 1 Januarie in werking getree het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.