DA en ANC takel mekaar oor Taiwan

Deel op

Die DA en ANC het mekaar oor en weer beskuldig nadat die ANC het ‘n oproep gedoen het om beslaglegging op amptelike en diplomatieke paspoorte van DA amptenare wat doelbewus Suid-Afrika se buitelandse beleid ondermyn.

Die regerende party het die burgermeester van Tshwane, Solly Msimanga, se besoek aan Taiwan skerp veroordeel. Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, sê Msimanga se gedrag toon dat die DA nie die land se grondwet eerbiedig nie.

Vermoedelik ervaar die ANC tans groot druk van China om die afvalliges te straf.

Kodwa sê buitelandse beleid is konsekwent en as dit behoorlik uitgevoer word, sal dit nie enige handelsooreenkomste of diplomatieke bande met enige land oortree nie.

Kodwa het ‘n beroep gedoen op die Department van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en ook op provinsiale handelsdepartemente om nuutverkose raadslede behoorlik oor buitelandse beleid in te lig.

Maar die DA het teruggekap en gesê die ANC vergeet gerieflikheidshalwe dat Suid-Afrika ‘n skakelkantoor in die Taiwanese hoofstad Taipei het.

Die DA se skaduminister van Internasionale Betrekkinge, Steven Mokgalapa sê die ANC kan nie aan DA burgemeesters voorskryf met wie hulle kan samesprekings voer oor beleggingsmoontlikhede wat tot werkskepping kan lei nie. Hy sê die ANC is skynheilig oor die kwessie.

Mokgalapa sê die Tshwane metropool is ‘n onafhanklike vlak van regering wat daarop geregtig is om buitelandse belegginsmoontlikhede te ondersoek.

Maar volgens Kodwa is die Tshwane metropool is nie ‘n outonome staat wat regeringsbeleid kan negeer nie. Kodwa sê Suid-Afrika is ‘n eenheidstaat wat China erken en nie Taiwan nie. China bestempel Taiwan as ‘n renegaat-provinsie.

Kodwa sê Msimanga se optrede stel Suid-Afrika in die verleentheid.

Verlede maand het die regering van São Tomé en Principe diplomatieke bande met Taiwan verbreek, ‘n stap wat deur China verwelkom is.

China sê die besluit van die Afrika-eilandnasie is die korrekte pad terug na die ‘Een-China’-doelwit.

São Tomé het in 1997 sy bande met China verbreek nadat hy besluit het om Taiwan amptelik te erken. Volgens die ‘Een-China’-doelwit is daar net een China en Taiwan is deel daarvan.

Taiwan se departement van buitelandse sake het die stap veroordeel en beweer dat São Tomé op ‘n aansienlike hoeveelheid finansiële hulp aangedring het.

Die stap beteken dat slegs 21 lande en regerings, insluitende Swaziland en Guatemala, amptelik bande met Taiwan het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.