ANC-jeugliga wil Kaapse wynplase beset

Collen Maine

As ‘n daling in die rand die prys is wat die ANC moet betaal om beheer van die ekonomie oor te neem, dan moet dit maar so wees, sê Collen Maine, die president van die ANC-jeugliga.

Maine het gister ‘n toespraak gelewer by ‘n lesing oor ekonomiese vryheid wat deur die Jeugliga in Durban georganiseer is. Volgens Maine is die geldeenheid “problematies” en verteenwoord die Nasionale Tesourie “die ANC se grootste probleem”.

“Ons word aanmekaar met rommelstatus gedreig. Ons moet optree. Indien die rand moet daal, moet hy maar daal. As hy styg, moet dit ons wees wat in beheer is,” het hy gesê. “Die rand is problematies. Gedurende die verkiesings, toe daar gesê is dat die ANC nie goed doen in die metro’s nie, het die rand versterk. Waarom is ons banger vir die graderingsagentskappe en markte as vir die mense van Suid-Afrika?”

Betreffende Des van Rooyen wat deur Jacob Zuma as minister van finansies aangestel is, maar agterna weer afgedank is, het hy aan Zuma op die verhoog gevra: “Waarom het aan die druk toegegee?”

Nasionale Demokratiese Revolusie

Volgens Maine is dit moeilik om te sê of die nasionale demokratiese revolusie steeds op koers is. “Ek sê vir mense ‘ja en nee’. ‘Ja’ omdat ons baie bereik het, maar ‘nee’ omdat die ANC deur leiers geïnfiltreer is wat aan iemand anders verslag doen.”

“Suid-Afrikaners se geduld raak op,” het Maine aan die 1500 lede van die gehoor gesê.

Hy het voortgegaan deur te sê dat die ANC hom van “beskermers van kapitaal” moet suiwer.

“Daar is diegene binne die ANC-leierskap wat ná 1994 gemaklik geraak het. Hulle ry Duitse motors en het die revolusie uitgestel,” meen hy. “Ons wil ons grond terughê, ons wil ons mineral terughê. Ons wil nasionalisering van die Reserwebank hê.”

Geslaagde revolusies

Slegs die jeug kan geslaagde revolusie lei, het hy gesê. Daar was diegene in die uitvoerende strukture van die party wat ‘n beroep gedoen het om openbare maatskappye te privatiseer, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens. “Openbare maatskappye moet nie geprivatiseer word nie. Die probleem is weereens die Tesourie,” het hy gesê, terwyl hy dit gekwalifiseer het deur by te voeg dat hy nie noodwendig na die minister van finansies, Pravin Gordhan, verwys nie, maar die hele departement.

Weereens het hy hom tot Zuma gerig en gesê: “Meneer die president, ons praat van radikale ekonomiese transformasie, maar —met respek — daar word slegs lippediens (aan die revolusie) bewys.

Die ANC het nie die vryheidstryd gevoer om kospakkies aan die armes uit te deel nie, het hy gesê. “Ek haat kospakkies. Ons mense wil die eienaars van die produksiemiddele wees, hulle kan hul eie voedsel produseer.”

Die sleutelpilaar tot die verwesenliking van ekonomiese vryheid was opvoeding, het hy gesê. Teenoor Zuma het gesê: Meneer die president, u het aan ons BRICS gebring; as deel van u nalatenskap, gee vir ons gratis opvoeding vir die armes.”

Besetting van wynplase

“As ons nie die ekonomiese kwessies aanpak nie, sal die jeug in opstand moet kom,” het hy verder gesê. “Ons moet dinge vir die ANC-leierskap ongemaklik maak. Die lewe is nie maanskyn en rose nie.

“Ons, die werkloses, die dakloses, die grondlose jeug, sal op ‘n punt gedwing word om (grond) te beset, en ons sal met die wynplase in Kaapstad begin.”

Dudu Miyeni

Ook op die verhoog was die ANC se nasionale uitvoerende komitee, asook ‘n lid van die nasionale dagbestuur, Nathi Mthethwa, wat ook minister van kuns en kultuur is, die burgemeester van Durban (eThekwini), Zandile Gumede, die ANC se provinsiale sekretaris in Kwazulu-Natal, Super Zuma, en ander.

Die voorsitster van SAL, Dudu Miyeni en Mzwanele (Jimmy) Manyi, president van die Progressiewe Beroepsluiforum, het vir die duur van die lesing in die voorste ry gesit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.