Geweerskote in DRK se hoofstad na Kabila se ampstermyn verstryk

Deel op

Werkers en skoolkinders het Maandag tuis gebly en soldate op patrollie was aansienlik meer as die burgerlikes in Kinshasa se strate, het AFP berig.

Geweervuur is Dinsdagoggend gehoor in verskeie dele van die Kongolese hoofstad, Kinshasa, met betogers in die strate wat eis vir die bedanking van die huidige president Joseph Kabila.

‘n Gespanne atmosfeer het in die hoofstad van die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) geheers, ‘n dag voor die Kongolese president se amptelike termyn vandag ten einde loop.

Kabila se tweede termyn moes op 20 Desember geëindig het, maar hy toon geen teken dat hy bereid is om die tuig neer te lê nie. Bemiddelingsgesprekke het misluk en dit het die vrees laat opvlam dat politieke geweld opnuut in die mineraalryke land kan uitbreek.

Openbare vervoerdienste het die minimum diens gelewer en winkels in die stad se

hoofplein was gesluit, met ‘n gepantserde polisievoertuig wat op die een straathoek gestaan het.

Kabila (45) kan grondwetlik nie vir ‘n derde termyn as staatshoof oorweeg word nie, maar hy het aangedui dat hy wil aanbly totdat sy opvolger gekies is. Geen verkiesings is egter beplan nie en sommige opposisieleiers wil hê Kabila moet die mag aan ‘n oorgangleierskap oorhandig totdat verkiesings gehou kan word.

Onderhandelinge om ‘n oplossing vir die dooie punt te vind, het die naweek skipbreuk gely. Dit sal na verwagting môre hervat word wanneer Katolieke biskoppe, wat as bemiddelaars optree, van ‘n beplande besoek aan Rome terugkeer.

Kabila is aan bewind sedert sy pa, Laurent Kabila, in 2001 in ‘n sluipmoordaanval doodgeskiet is. Hy is in 2006 en weer in 2011 as president verkies in ‘n verkiesing wat die opposisie beweer mee gekul is.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki Moon het sy medelye met die regering en die mense van Suid-Afrika betuig nadat ‘n Suid-Afrikaanse soldaat wat deel is van ‘n VN-vredesmag in ‘n rebelle-aanval in die Demokratiese Republiek die Kongo dood is.

Nog twee Suid-Afrikaanse soldate is gewond en ‘n Kongolese polisiebeampte is ook dood. Ban Ki Moon het die aanval deur Mayi Mayi-rebelle op die weermagbasis by Butembu in die Noord-Kivu provinsie, ten sterkste veroordeel.

Ban sê die veiligheid van VN-personeel, insluitend lede van die vredesmag, is ‘n groot prioriteit, maar meer as ‘n honderd vredesoldate is die afgelope jaar tydens die uitvoering van hul pligte dood.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.