Telkom gee nie om vir kli?nte nie

ImageWelkom by Telkom, waar ons niks meer kan regmaak nie.

Gaan soek asseblief vir jou 'n ander diensverskaffer, want ons weet nie wat ons doen nie, en eintlik het ons jou as kliënt nie nodig nie.

Verlede week het ek teen Donderdagmiddag so nou en dan begin sukkel om met die internet te verbind, maar soos dit met baie elektroniese foute gaan, het dit gekom en gegaan, sonder dat daar iets gedoen is.

Teen Vrydag was die probleem van standhoudende aard. Die oggend kon ek nog op die internet kom, maar teen later die middag was dit verniet of mens probeer het om op die net te kom. Geen sukses nie.

Teen Vrydagaand (13.02.2009) het ek die inskakelsentrum gekontak en 'n fout gerapporteer, wat ná so 'n paar toetse aangedui het dat dit nie net my verbinding is nie, maar die hele Clarens blyk daardeur geraak te gewees het. Ek het met 'n ene Warren gesels wat die fout aangemeld het en 'n verwysingsnommer geskep het.

In 'n wanhopige poging het ek Saterdagoggend weer geskakel, maar daar was nie veel hulp nie, net verdere toetse en geen resultate nie, maar beloftes dat die fout se status geëskaleer sal word na dringend toe. (Vir wat dit werd was – geen tegnikus was naby my plek nie). Saterdagmiddag was selfs die tolvrye inbelsentrum nie beskikbaar nie, aangesien die nommer "beset" gelui het. Nou vra ek maar net: hoe de hoenders kan die nommer van 'n inbelsentrum beset wees? Tensy daar skielik daarmee ook fout gegaan het.

Teen Sondagoggend het ek weer geskakel, waarna ons 'n baie swak verbinding kon kry wat geensins stabiel was nie en alle aanduidings getoon het dat dit nie op die modem by my huis is nie, maar dat die fout aan die sentrale se kant lê. Ons het wel vasgestel dat die modem vervang moet word, maar dat dit nie die primêre probleem is nie, aangesien die verbinding nie konstant kon aanbly nie.

Wat my egter vies gemaak het, is dat die konsultant met wie ek gepraat het die fout van die stelsel afgehaal het en as herstel aangedui het. Dit was nie naastenby herstel nie!

Maandagoggend was ek weer eerste ding op die foon om uit te vind wat die status van die fout is en het weer teen die gewone klipmuur vasgepraat.

By 'n persoon genaamd Makish het ek gehoor die "fout" van Vrydag is afgehaal en aangedui as "herstel". Hoewel ek steeds nie kan verbind op die internet nie. Dis seker onnodig om te sê dat ek effens ongelukkig was, maar 'n nuwe fout is darem aangemeld en ek het weer 'n verwysing vir hom gekry.

Later het ek weer geskakel om te hoor of daar al iemand ontwaak het wat iets kan doen om die fout reg te maak en by ene Darryl uitgekom, wat my laat aanhou het tot vervelens toe, waarna iemand anders weer opgetel het en die hele stelsel verder omgekrap het.

Nog 'n ruk later was ek vinnig in die dorp en het met verskeie mense gesels wat almal ADSL gebruik, óf by die huis óf by die kantoor, en tot die gevolgtrekking gekom dat daar ten minste 8 plekke of mense is wat almal sonder diens sit op dié stadium, of op die beste 'n baie swak en wisselvallige diens het.

Daarna het ek weer by die huis Telkom se inskakelsentrum geskakel en dié keer was dit ene Kim met wie ek gesels het, wat weereens toetse gedoen het en die verslag aangeheg het na die tegniese departement. Wat volgens haar baie vinnig op die saak sou wees, aangesien dit die groter deel van die dorpie se ADSL is wat af is.

Ek begin redelik sterk oortuig raak dat Telkom besig is om dieselfde roete te volg as Eskom, wat vanweë onbeholpenheid nie in staat is om diens te lewer soos wat verwag word en op die standaard wat mens wil hê nie.

Ek wil hiermee die voorstel maak dat indien mense enigsins van iemand anders as Telkom kan gebruikmaak as 'n internetdiensverskaffer, dat hulle dit moet doen, aangesien Telkom met dié daad om 'n hele dorpie wat baie sterk van die internet afhanklik is, net te los sodat dinge daar maar kan uitmekaar val, hulle minagting toon vir die mense wat hulle ondersteun.

Daar is hordes ander diensverskaffers wat maar alte gretig sal wees om Telkom se kliente te kan afrokkel en soos dinge tans loop, sal dit nie te moeilik wees nie. Siende dat Telkom nie in staat is om diens te kan lewer nie en ook nie belangstel om hulle huidige kliënte te behou nie. Selfs 'n koordlose datakaart is meer effektief, al is die verbinding soms stadiger op die platteland waar daar nie HSDPA of 3G is nie. En indien mens sukkel om met een netwerk te verbind is daar altyd ander netwerke wat beter werk op party plekke.

Sterkte met die soektog, maar vermy Telkom indien dit enigsins moontlik is, aangesien die beste waarop jy kan staatmaak, swak (lees: geen) diens is.

универсальный набор инструментов

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.