Rusland sê hulle beskou die sluipmoord op die land se ambassadeur in Turkye, Andrei Karlov, as ‘n terreurdaad.
Karlov is gisteraand by ‘n kunsgallery in die Turkse hoofstad Ankara doodgeskiet. Beeldmateriaal toon hoe ‘n gewapende man in ‘n pak klere van agter op die ambassadeur losbrand, terwyl hy besig is om ‘n toespraak te lewer.
Nog mense is in die voorval gewond en die aanvaller is later doodgeskiet. Hy is geïdentifiseer as die 22-jarige Mevlut Mert Altintas, wat vir meer as twee jaar vir die onluste-polisie in Ankara gewerk het.
Die Turkse president, Tayyip Erdogan sê hy en die Russiese president, Wladimir Poetin het tydens ‘n telefoongesprek ooreengekom dat hulle samewerking en solidariteit in die stryd teen terreur na die voorval versterk moet word.
Erdogan sê die doel van die aanval was om betrekkinge tussen Turkye en Rusland te skaad.