Motors: Intreevlakbuksies: kampioene of pampoene?

Die Mini One, 'n intreevlakmotor wat nogtans diep sakke verg

In die wêreld van motors verander dinge bykans net so vinnig soos in die wêreld van tegnologie; die twee segmente is mos eintlik verwant. Ons het ‘n paar intreevlak- (of laat ons dit anders stel) onder-R200 000-motortjies bestuur.

Nou sal baie mense sê; sjoe, R200 000 is erg baie vir ‘n klein motortjie. Maar volgens Wesbank wat een van die land se grootste motorfinansierings banke is, was die gemiddelde verkoopprys van ‘n tweedehandse motor in Suid-Afrika verlede maand R190 000. Nuwe motors het ‘n gemiddelde prys van R290 000 gehaal. En sou jy dink dat motors ‘n luukse is, dan sal die syfer van R1 miljard per maand aan motorfinansiering jou sekerlik skok. Ja, dit is in geldwaarde wat elke maand in Suid-Afrika aan passasiersmotors gefinansier word. En dit is maar net een instansie se syfers.

Dus, nou vra ons: hoekom ‘n tweedehandse motor koop met geen waarborg of ‘n baie kort oorblywende waarborg wanneer jy ‘n splinternuwe vir dieselfde geld kan aanskaf? Die motors waarna ons kyk, is die volgende: Mahindra se KUV100, Fiat se 500, Smart se Forfour asook Mini se goedkoopste model, die Mini One.

Uit Indië

Die Mahindra KUV100 K8

Mahindra is seker een van die mees onderskatte motorvervaardigers ter wêreld. Naas Tata Motors is Mahindra & Mahindra die tweede grootste vervaardiger uit Indië. Mahindra fokus ook meer op die leefstylmark as Tata wat hom meer by die werkesels en klein stadsmotortjies bepaal. Die KUV100 is juis ‘n piepklein leefstylvoertuig wat byna soos ‘n speelgoedkarretjie voorkom. Mooi was geen Mahindra tot duver nie, maar dis funksioneel en taai; wat dié twee aspekte betref, is die Indiërs jare voor die Sjinese. Ons toetsmodel is die KUV100 K8. Die reeks is beskikbaar vanf ‘n K4+model, K6+ en K8. Die K6 en K8 is in beide petrol- en dieselenjins verkrygbaar. Ons kon die petrol weergawe van die K8+ bestuur.

Wat die voorkoms aanbetref, is die klein Mahindra slegs 3,6 meter lank met ‘n asafstand van byna 2,4 meter. Die motortjie lyk snaaks want hy staan hoog op sy wiele en die wiele is redelik klein in vergelyking met die res van die motor. Jy sal beslis nie misgekyk word in die KUV100 nie. Daar is vyf deure met die vyfde deur wat ‘n luikrugdeur is. Kort oorhange voor en agter help ‘n bietjie om die motor meer Europees te laat voorkom, maar die hoë daklyn is onmiskenbaar Indies.

Binneruim van die Mahindra

Binne in die KUV100 is daar genoeg ruimte vir vier volwassenes solank die agterste passasiers net nie langer as 1,7m is nie, met ander woorde kinders sal gemaklik agter in die motortjie kan ry. Bagasieruimte is ook nogal heel ruim vir so ‘n klein rydingetjie, met 243 liter se pakplek wanneer die agterste sitbank opgeslaan is en 473 met die bank plat gevou. Die instrumentepaneel is netjies uiteengesit met alle kontroles maklik leesbaar en byderhand. Die rathefboom wat in die paneel net links van die stuurwiel gemonteer is, vat bietjie tyd om aan gewoond te raak, maar ratskakelings is gemaklik en sekuur. Die materiaal wat in die binneruim ingespan word, is ook ‘n goeie gehalte, met doekstof vir die sitplekke en ‘n ligte grys plastiek vir die deure en middelpaneel. Die K8-model verskil van die K6 en K4 in spesifikasie en hier is nogal goeie standaardtoerusting wat insluit: lugversorging, asook kragstuur wat vir reikafstand sowel as hoogte verstelbaar is. Daar is ook ‘n aanboordrekenaar en Bluetoothkoppeling vir jou slimfoon, afstandbeheerde sluiting, asook ISOFIX-hegpunte vir kinderstoeltjies op die agtersitplekke. Buitelangs is daar LED-dagryligte tesame met noodflikkerligte wanneer daar hard gerem word. Ander veiligheidseienskappe sluit ABS-remme en EBD-remdrukverspreiding in, asook STOP/START-tegnologie om die klein Indiërtjie nog meer ekonomies te help maak. Daar is “Volg my huistoe”-ligte wat vir tot 30 sekondes aan bly nadat jy die motor afgeskakel het sodat jy die donker stappie uit jou motorhuis of oprit veilig kan aanpak. Spoedsensitiewe deurslotte is ook standaard waar die deure tydens ‘n botsing outomaties ontsluit. In Suid-Afrika kan dit nogal ‘n problem wees want jy weet nie wanneer jy beroof of gekaap word tydens ‘n botsing nie.Twee voorste lugsakke is ook standaardtoerusting.

Branddstofverbruik word deur Mahindra aangegee as 5,9l/100km met ‘n reikafstand van 593km uit die 35-literpetroltenk. Al die KUV-modelle word deur ‘n 3-silinderturbomeuletjie met ‘n verplasing van 1,2 liter aangedryf, die 5-spoed handratkatkas. Die klein KUV100 K8 kan joune wees teen R179 900 en dit sluit ‘n 3jaar- 100 000km-waarborg asook ‘n 3-jaar- 50 000km-diensplan in. As jy ‘n eerlike motortjie soek, sal die KUV100 jou pas, die motor doen alles goed genoeg om nie ‘n beslommernis te wees nie. Na ons mening ‘n kampioen.

Mahindra KUV100 K8

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 35 uit 40

Uit Italië

Die Fiat 500 van voor

Italiaanse kos en klere, asook koffie en leer, is regoor die wêreld gesog. Wat hul motors aanbetref, was die Italianers nog altyd óf die een of die ander. Hul eksotiese plat sportmotors is van die beste en hul mikrostadsmotors aan die ander kant van die spektrum is legendaries vir stadsverkeer en eenvoud. Dan kry ‘n mens die paar middelkinders wat altyd in die moeilikheid is en nog nooit twee agtereenvolgende suksesvolle modelle die lig kon laat sien het nie. Dit is nou Alfa Romeo en Lancia.

Net soos Mini en VW se Kewer is die Fiat 500 ‘n wêreldmotor met ikoniese status, maar om die een of ander rede kon die klein Fiatjie nooit die mas opkom in Suid-Afrika nie. Die Italianers is bekend vir ingenieurswese en daarom die vlymskerp Ferrari’s, Lamborghini’s en Maserati’s, so van enjin bou weet die ouens nogal ‘n ding of twee. Ferrari behoort mos aan Fiat en dus was dit net ‘n kwessie van tyd voor die Fiats ook die voordeel van enjintegnologie sou geniet twat die manne van Marinello toepas.

Ons het die nuwe Fiat 500 met sy Twinair-enjin onder hande geneem. Ons toetsmodel was die Fiat 500 Popstar outomaties. Wat die nuwe 500 so uniek maak, is die 2-silinderturboenjin wat in sy neus skuil. Die enjin het ‘n piepklein verplasing van slegs 900 cc. Die turbo help die enjin om 63 Kw en 145 Nm se wringkrag te ontwikkel. Ons toetsmotor was die outomatiese weergawe wat toegerus is met ‘n 5-spoedoutomatieseratkas. Die motortjie vertoon klasiek en stylvol en dit is moeilik om die gevoel van die motor te beskryf. Daar is net ietsie spesiaals en tydloos aan die ontwerp. Anders as die VW Kewer en die Mini lyk die Fiat 500 die naaste aan die oorspronklike Fiat 500 van die sestigs. Die motortjie het nie veel gegroei nie, net beter geword. Sy totale bakafstand is net so onder die 3,6 met ‘n asafstand van 2,3 meter. Die Fiat 500 is slegs ‘n driedeurmotortjie met twee deure en ‘n luikrugdeur.

Binneruim van die Fiat 500

Binne is daar plek vir vier mense waarvan twee eintlik maar kinders moet wees want been- en kopruimte agter is maar werklik baie beperk tot kort mensies. Die motor lyk binne en buite eerder soos ‘n Italiaanse leerbaadjie as ‘n kortbroek met ‘n T-hemp. Die hele binneruim is ook gemaklik uitgelê met deure wat wyd oopmaak en sitplekke wat seker van die gemaklikste is in hierdie klas. Hy laat my nogal baie aan die oorspronklike VW Kewer se binneruim dink wat spasie aanbetref.

Die materiaal is ook van ‘n goeie gehalte met net hier en daar ietsie wat jou herinner aan die feit dat hierdie ’n Italianer is: die ronde luginlate asook tipiese Fiat-stuurwiel wat oor ‘n effens platter bo- en onderkant beskik, asook die 500-kenteken op die instrumentepaneel. Die bakkleurinsetsels op die instrumentepaneel en die kort ratkierie met die ronde bal wat gemaklik in jou hand sit.

Bagasieruimte is ook maar beperk en daar is slegs 185 liter se ruimte met die sitplekke in die normale posisie. Vou die agterste sitplekke plat, en die bagasieruim vergroot tot 688 liter.

Bagasieruim van die Fiat 500

Wat vir ons regtig die motor belemmer het, was die ratkas. Omdat hierdie slegs ‘n tweesilinderenjin is en daar ‘n turbo aan gekoppel is, voel dit werklik of die motor net wil ry tot die eerste ratskakeling. Hy steek net eenvoudig vas soos ‘n donkie, daarna skakel die ratte met ‘n gepluk oor en dan wil die Fiattjie net weer hol tot die volgende ratskakeling. Ek glo die outomaties is gemakliker in stadige verkeer, maar in alledaagse stadsverkeer wou ek naderhand nie meer met hom ry nie, so steurend en ongemaklik is die ratskakelings. Raak ‘n mens haastig, raak dinge net nog soveel erger want nou brom die 2-silinder diep soos ‘n dier wat losgelaat wil word, net om deur die dempeffek van die ratskakelings teruggehou te word.

Fiat gee die brandstofverbruik aan as 3,8l/100km, maar ons kon nie minder as 5,7l/100km haal nie; dit is werklik nog uitstekend vir ‘n outomatiese motor. Ek moet ook net bysê :dit het ons verkry deur werklik waar baie mooi stadig te ry, juis as gevolg van die ratskakelings. Een ding van die Fiat 500 is dat hy propvol veiligheidstoerusting is met sewe lugsakke, ABS-remme, remdrukverspreiding, glybeheer. Dan is daar baie mooi allooiwiele, lugversorging, sentralesluiting, afstandbeheerde knoppies op die stuurwiel vir radio asook foon, Bluetooth en ‘n vaste glassondak.

Alle Fiats word verkoop met n 3-jaarwaarborg, asook ‘n 3-jaar- 100 000km-onderhoudsplan. Ons toetsmotor sal jou R210 900 uit die sak jaag.

As dit nie vir die ratkas was nie, was hierdie Fiat 500 ook ‘n kampioen!

Fiat 500 Twinair PopStar Outo

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 3 uit 5
Op die pad 3 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 31 uit 40

 

Uit Duitsland

Die Smart Forfour van voor

Ons derde klein motortjie word deur Mercedes verkoop maar is eintlik afkomstig uit Switserland. Die Smart Forfour is in sy tweede generasie en alhoewel die motortjie oorspronklik uit die Swatch-horlosiemaatskappy ontwikkel het en onder lisensie deur Mercedes AG internasionaal bemark word, is die huidige generasie meer Frans. Dit klink nou erg deurmekaar, maar sien, hierdie is eintlik maar dieselfde motor as die nuutste Renault Twingo wat in Europa bemark word.

Met ‘n totale bakafstand van net onder die 3,5m is die Forfour ook maar ‘n buksie. Maar van al die klein motortjies voel ons hierdie een is in die beste verpakking. Die motortjie is glad nie so sag op die oog soos die Fiat 500 nie, maar darem heelwat mooier as die KUV100. Alhoewel daar slegs vier sitplekke in die Smart is, is die been- en kopruimte agter heelwat gemakliker as in die Fiat. Met ‘n asafstand van 2495mm is hy byna 10cm langer as die Fiat wat meer beenruimte beteken. Wat anders is aan die Smart, is dat die enjin agter gemonteer is. Dus is bagasieruimte taamlik beperk. Die Smart Forfour is beskikbaar in vyf spesifikasievlakke: Base, Passion, Prime, Proxy en die Brabus-modelle. Ons toetsmotor was die Smart Forfour Passion; die motortjie is toegerus met ‘n 1,0-literdriesilinderenjin sonder die hulp van ‘n turbo wat 52 Kw en 91 Nm se wringkrag lewer. Dit klink erg min, maar die motortjie is relatief lig en kom heel gemaklik reg met die minder krag. Die Brabus-weergawe van die Forfour is met die turboenjin toegerus en daarvoor betaal jy ‘n ekstra R120 000. Rygerief en padhouvermoë is tipies wat ‘n mens van ‘n stadsmotortjie verwag en die 3-silinderenjin van die Smart klink soos ‘n V6 wanneer hy opgewen word.

Instrumentepaneel van die Smart Forfour

Die binneruim van die Smart is prakties maar stylvol, veel meer as die buitekant wat baie gewoon voorkom. Daar is materiaalinsetsels op die instrumentepaneel en oral klein laaitjies en plekkies waar goedjies gebêre kan word. Daar is ‘n toereteller wat alleen eenkant op die instrumentepaneel staan en alles lyk en voel tien jaar jonger binne in die Smart as buitelangs. Veiligheid is een van die Forfour se sterk punte en daar is ABS-remme met remdrukverspreiding asook glybeheer en stabaliteitsbeheer, tesame met vyf lugsakke. Vir ‘n klein motortjie is die Forfour ook uiters goed toegerus met lugversorging, multifunksionele stuurwiel met beheerknoppies vir die togbeheer en radio, asook jou foon wat deur middel van Bluetooth gekoppel kan word. Voeg daarby ‘n aanboordrekenaar wat brandstofverbruik en gemiddelde spoed kan meet. asook kragstuur en klimaatbeheer.

Hierdie is werklik een van die juwele van mikromotors in Suid-Afrika. Elke Smart word met ‘n 2-jaarwaarborg en onbeperktekilometerwaarborg verkoop. Daar is ook ‘n 3-jaar- 60 000km-diensplan ingesluit.

Daarom, in ons boekie is die Smart Forfour ‘n besliste kampioen.

Smart Forfour Passion

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 3 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 31 uit 40

 

Uit Brittanje

Die Mini One van agter gesien

As daar nou een motortjie is wat “klein” meer as enige ander motor in die geskiedenis gedefinieer het, was dit die Mini. Almal het een of ander tyd in hul lewens met ‘n Mini te doen gekry en almal wat ooit een besit het, was versot op die klein rydingetjie.

Mini is deesdae glad nie meer so piepklein as wat hy eens was nie en selfs die huidige reeks het meer verskillende modelle as wat daar in die hele geskiedenis van Mini-modelle was. Mini het nou “groot” geword. Ons het na die heel goedkoopste intreevlak-Mini gaan kyk. Die Mini One soos hy bekendstaan, is die intreevlak-Mini in die huidige reeks. Met ‘n baklengte van 3,8m is hy glad nie meer so mini nie, en langer en breër as enige van die ander buksies waaroor ons hier berig. Sy asafstand is 5mm kort van 2,5m, dus is die binneruim van die Mini heelwat ruimer as die ougenerasie-Mini’s. Hierdie Mini One is die 3-deurluikrugweergawe: die deure is lank en maak wyd oop vir maklike toegang tot die agtersitplekke. In tipiese Mini-styl is alles aan die binnekant van die Mini van uitstaande gehalte en uitstekende materiaal is orals gebruik. Groot ronde instrumentskerms en aluminiumknoppies wat lyk asof dit netso uit ‘n vliegtuig kom, is orals te bespeur. Dit is asof die retrogevoel van die ou Mini’s byna volmaak vermeng is met die moderne tegnologie van vandag se BMW’s. BMW is die eienaars van Mini en dit word duidelik in die gehalte en dan ook pryse weerspieël.

Instrumentepaneel van die Mini One

Die Mini Ons is nou wel die goedkoopste model in die reeks, maar standaardtoerusting asook veiligheidskenmerke is uit die boonste rakke. Met ABS-remme en remverspreiding, asook glybeheer en stabaliteitsbeheer en ses lugsakke, is die Mini een van die veiligste klein primamotortjies op die pad. Die lys van standaardtoerusting lees ook soos volg, met kragstuur, lugversorging, radio en Bluetooth, asook satellietbeheerknoppies op die stuurwiel, allooiwiele en ‘n glassondak. Die enjin is ‘n 1,2-liter-driesilinderturboeenheid wat 75 Kw en 180 Nm se wringkrag ontwikkel, Brandstofverbruik word deur Mini aangegee as 4,9 l/100km. Die motor is redelik swaar teen 1570kg, dus moet die enjin hard werk om alles aan die gang te kry. Ons kon slegs ‘n syfer van 6,3l/100km behaal. Wat verrigting aanbetref, is die Mini egter in ‘n klas van sy eie in hierdie geselskap met syfers wat meer soos ‘n bitsbuks lees as ‘n stadsrakkerjie. Die Mini One kan in slegs 9,9 sekondes die 100km/u merk haal en sal eers by 195km/u uitasem raak.

Die teenkant van hierdie argument is egter die prys. Hier is nou waar dit moeilik raak om so baie geld vir so ‘n klein motortjie te regverdig. Teen R279 000 is hierdie die intreevlak-Mini en heelwat duurder as alles waarmee hy meeding, maar aan die ander kant as jy ‘n egte Mini-aanhanger is dan sal jy seker dink dit is nie te sleg nie.

Ons hou die Mini One versigtig voor as ‘n kampioen vir slegs ‘n paar mense met diep sakke.

Mini One 3-Deur

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 35 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Dave

    As ek kyk na wat jy kry vir kort duskant ‘n R¼m en selfs meer in die geval van die Mini, dan bly ‘n goeie laatmodel 2dehandse koop steeds ‘n oorweegbare opsie. Ek het ‘n Toyota Corolla GLi nuut gekoop in 2001 en dit het nou na sowat 1½ dekades 90 000 kilos op die klok. Slegs 5 keer gediens tot dusver en wat ‘n betroubare kar..! Maar wanneer gekyk word na hedendaagse pryse vir dieselfde klas en dan te wik en weeg tussen 3 silinder nuut (of selfs 2 silinders in soos in die geval van die Fiat) of ‘n groter gemakliker kar met ‘n klompie kilos op die klok en ‘n diens of twee in die diensjoernaal, dan bly ‘n goeie laatmodel met min kilos op die klok ‘n oorweegbare opsie.

  • Antonie Geyser

    dit is baie om te betaal, maar terwyl mens die geld het (hulle gaan ons meer belas, bankheffings gaan op, die swakte van die rand ens.)-hoekom nie een koop nie