Amerika verwag rentekoersverhoging vandag met Dow naby 20 000 ondanks/danksy Trump

Die Dow Jones-nywerheidsindeks oor die afgelope jaar tot en met gister 13 Desember 2016.

Nie net het die wêreld se links-liberale hoofstroommedia voorspel dat Donald Trump loshande die Amerikaanse presidentsverkiesing sou verloor nie, maar ook dat daar ‘n finansiële ineenstorting sou plaasvind indien so ‘n hoogs onwaarskynlike gebeurtenis ooit sou plaasvind. Wel, die onwaarskynlike — volgens hulle — het toe op 8 November plaasgevind. Erger: pleks van ‘n ineenstorting op Amerikaanse finansiële markte, het die beurse tot gister vir 17 dae agtereenvolgens nuwe rekords opgestel en  het die Dow Jones-indeks van die grootste 30 nywerheidsaandele gisteraand ‘n nuwe rekord net onder die towervlak van 20 000 behaal.

Janet Yellen

Van gister af vergader die Amerikaanse Federale Reserwebank se FOMC (Federal Open Market Committee) onder voorsitterskap van mev. Janet Yellen egter. Na alle verwagting gaan die FOMC vandag aankondig dat Amerikaanse rentekoerse van hul huidige vlak van 0,5% tot 0,75% verhoog word. Dit verwys na die vlak van lenings tussen banke oftewel die sogenaamde “Fed Funds”-koers, wat weer die ander koerse soos die primakoers bepaal. Dit klink nie na veel nie, maar aangesien sommige ontwikkelde lande soos Switserland en Swede tans met negatiewe rentekoerse en deflasie worstel, asook 0% in die eurogebied, kan dit die Amerikaanse dollar ‘n verdere hupstoot gee.

Die aandelemarkte in die VSA kan selfs verdere rekordhoogtepunte bereik aangesien die markte reeds die rentekoersverhoging verdiskonteer het en daar uitgesien word na verdere ekonomiese groei in die VSA.

Uitwerking op Suid-Afrika

Oor die algemeen is ‘n styging in Amerikaanse rentekoerse en ‘n sterk dollar nie goed vir Suid-Afrika nie. Die rand mag dalk van hier af aan teen die dollar verswak wat ingevoerde goedere waarvan die pryse meesal in dollar bepaal word — soos ru-olie — duurder sal maak. Dit mag ook ‘n negatiewe uitwerking op plaaslike kapitaalmarkte hê soos wat internasionale beleggers hul fondse eerder in die VSA belê en uit Suid-Afrika onttrek. ‘n Groot aantrekkingskrag tot dusver vir buitelandse beleggers was die relatief hoë opbrengste wat Suid-Afrikaanse staatseffekte betaal, teenoor hul Amerikaanse en Europese eweknieë.

Die sterker dollar sal Suid-Afrika tref op dieselfde tydstip as wat die land reeds sukkel met ‘n dreigende verlaging van sy skuldgradering deur Moody en Standard & Poor. Dit kan die land verder in ‘n toestand van “stagflasie” laat, met min vraag in die ekonomie, maar stygende pryse weens ‘n swak geldeenheid.

Ontleders sal egter mev. Yellen se perskonferensie na afloop van die vergadering fyn dophou vir enige wenke oor die verdere verloop van Amerika se siklus van rentekoersverhogings wat hiermee aanbreek. Afhangend van haar kommentaar, kan beurse verder styg of skielik afwaarts korrigeer, en kan die dollar sy lopie teen die euro, Britse pond, jen en ander geldeenhede voortsit, aldan nie.

Tot dusver het mnr. Donald Trump se verkiesing ‘n positiewe uitwerking op die markte gehad, in weerwil van al die swartgallige praatjies deur die media. Sommige sê dat die markte styg, danksy Trump want hy het immers meer poste en die beskerming van Amerika se handelsbelange belowe. Mev. Yellen is egter ‘n vyand van mnr. Trump en ‘n Clinton-ondersteuner en mag dalk haar mag by die Federale Reserwe begin gebruik om sy kaarte deurmekaar te krap.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Karel Combrinck

    ??

  • Karel Combrinck

    Aangesien my twee vraagtekentjies onder die paal gehaal het, kom ek probeer sommer weer die kommentaartjie ook. Wie weet, miskien werk dit hierdie keer.
    Ons is saam verheug dat die hoofstroommedia en ander doemprofete so sleg op die neus gekyk het met mnr Trump se verkiesing. Die goeie vertoning van die markte is ‘n direkte uitvloeiisel van die nuwe gees van hoop en optimisme wat mnr Trump met hom saamgebring het. Wat betref die “hoofstroommedia”: Miskien is hulle rol as sulks uitgespeel en kan ons na hulle begin verwys as “die voormalige hoofstroommedia” of die “ou konvensionele media” of “die irrelevante en fatsoenlike media.” Hoe ons hulle ookal wil noem, hulle tjank is afgetrap.

  • Mattewis Kat

    Die nee-seggers vertel my dat dit bloot ‘n herstel was nadat die markte getuimel het in aanloop tot die verkiesing. Dit was egter nie moeilik om ‘n grafiek te vind om hulle wensdenkery te weerlê nie. Die Dow Jones het in die afgelope jaar beswaarlik die 18000-kerf deurgedring en was selfs op ‘n kol onder 16000. Nou reik dit na 20000. Dis verder ook nie moeilik om af te lei dat die president van ‘n land wat keelvol is vir leeglêers, vir Suid-Afrika niks goeds inhou in sy huidige mondering nie. Die oorgrote meerderheid van die regerende party en hul elektoraat hier, is nie bloot slegs leeglêers nie maar parasiete by uitstek, en hierin is Jabob Zuma ook ‘n ware leier.