Dak van kerk stort ineen in Nigerië

Deel op

Die dak van ‘n volgepakte kerk in die suide van Nigerië het Saterdag in duie gestort.

Minstens 60 mense is dood, het ooggetuies en amptenare aan AP gesê.

Die “Reigners Bible Church International” in Uyo, die hoofstad van die Akwa Ibom-staat, was nog onder konstruksie en werkers het gejaag om dit betyds klaar te maak vir Saterdag se seremonie om die kerk se stigter, Akan Weeks, as biskop in te huldig, het lede van die gemeente gesê.

Honderde mense, onder wie die goewerneur­ van die staat, Udom Emmanuel,­ was in die kerk toe die metaal­dwarsbalke op die aanbidders neergestort en die sinkplaatdak ingeval het. Emmanuel en Weeks, wat predik dat God sy aanhangers­ ryk sal maak, het ongedeerd ontsnap.

Die oorskot van 60 slagoffers is reeds uit die puin gehaal, maar die dodetal kan styg namate ‘n hyskraan meer rommel verwyder.

‘n Woordvoerder van die goewerneur, Ekerete Udoh, sê ‘n ondersoek is gelas om vas te stel of met die boustandaarde laat slaplê is. Geboue stort gereeld in Nigerië ineen as gevolg van endemiese korrupsie asook kontrakteurs wat onderstandaard-­boumateriaal gebruik en inspekteurs omkoop om swak werk of ‘n afwesigheid van boupermitte te ignoreer.

In 2014 is 116 mense dood toe ‘n multiverdieping-­gastehuis van ‘n kerk in Lagos, Nigerië se kommersiële hoofstad, ineengestort het. Die meeste slagoffers was Suid-Afrikaanse volgelinge van die kerk se invloedryke stigter, T.B. Joshua.

Twee strukturele ingenieurs, Joshua en trustees van die kerk is van strafregtelike nalatigheid en onopsetlike manslag aangekla nadat bevind is dat strukturele probleme, wat deur die ontwerp en foute met die bouproses meegebring is, daartoe gelei het dat die gebou ineengestort het.

Lagos se staatsaanklaers se pogings om hulle voor die hof te bring, het telkens misluk vanweë vele regsuitdagings wat die verhoor steeds vertraag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.