Twee bomontploffings ruk Istanboel

Deel op

Die dodetal ná twee bomontplof­fings kort na mekaar naby die Istanboelse sokkerstadion het tot 38 gestyg, met 166 mense wat beseer is, het die Turkse minister van binnelandse sake, Suleyman Soylu, gister gesê.

Onder die slagoffers was minstens 30 polisiebeamptes.

Turkye het gister as nasionale roudag afgekondig ná die aanvalle in die hart van Istanboel na aan die tuisveld van die sokkerspan Besiktas.

Die aanval kom ure nadat WikiLeaks eposse uitgelek het van Erdogan se skoonseun Berat Albayrak se bande met ISIS se onwettige oliehandel.

‘n Motorbom het buite die Vodafone Arena-voetbalstadion op die oewers van die Bosporusrivier ontplof ná ‘n wed­stryd in die superliga-toernooi tussen Besiktas en Bursaspor. Minder as ‘n minuut later het ‘n selfmoordbomaanvaller in ‘n nabygeleë park toegeslaan.

Die owerhede het nie ‘n aanduiding gegee wie vir die bomaanvalle verantwoordelik is nie. Istanboel en ander stede het vanjaar ‘n reeks aanvalle beleef waarvoor die Islamitiese Staat(ISIS) en Koerdiese militante die skuld gegee word.

Turkye se eerste minister, Binali Yildirim, het die opdrag gegee dat die landsvlag halfmas wapper en pres. Recep Tayyip Erdogan het ”n beplande besoek aan Kazakstan afgestel, het die staatsnuusagentskap, Anadolu, berig.

Volgens Soylu is tien verdagtes in hegtenis geneem.

‘n Forensiese span het die stadion reeds geïnspekteer om bewyse in te samel en munisipale voertuie was besig om die puin op te ruim.

Erdogan het ná die aanvalle in ‘n verklaring gesê “’n daad van terrorisme het ons veiligheidsmagte en burgers by Besiktas vanaand geteiken”. Hy sê die tydsberekening van die ontploffings was sodanig dat dit daarop gemik was om die maksimum lewensverlies te veroorsaak.

Die polisie het die gebied rondom die stadion afgekordon wat naby die Dolmabahce-­paleis van die Ottomaanse era is waar die kantore van die eerste minister gehuisves word.

Die toneel is ongeveer ‘n kilometer van die besige Taksim-plein, ‘n groot toeriste-­trekpleister.

Die regering het kort ná die aanval ‘n verbod op die uitsending van beeld­materiaal van die aanval geplaas, iets wat deesdae telkens gebeur in die nadraai van geweldpleging in die land.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.