Nigel Farage: mediakrisis o.a. te wyte aan te veel homoseksuele by BBC

Deel op

“Die mediabedryf verkeer in ‘n baie erge krisis,” het die Britse politikus Nigel Farage onlangs gesê. Hy het ook in ‘n bedekte verwysing na homoseksuele laat val dat die BBC die verkeerde mense in diens neem, veral as hul “lewensstylkeuses in ag geneem word – en dis ‘n verwysing na oriëntasie, sal ons maar sê, en weereens is hulle nie verteenwoordigend van wat ‘n mens buite Londen sien nie. Dus, weereens, moet die bedryf sy indiensnemingsbeleid geheel en al verander.”

Nigel Farage is ‘n voormalige leier van die VK-onafhanklikheidsparty, UKIP, en word allerweë beskou as die man wat die stem ten gunste van “Brexit” geswaai het. Hy het die opmerkings gemaak tydens die NewsXchange-konferensie in Kopenhagen, Denemarke, waar hy ook met die invloedryke regse webblad Breitbart ‘n onderhoud gevoer het.Volgens hom was die media die “grootste verloorders” in 2016, ‘n jaar van “politieke revolusie”.Hy sê: “Dit was ‘n jaar van politieke revolusie, asook ‘n totale ramp vir die meningsopnamebedryf en die media-uitsaaibedryf. As hulle verkeerd was oor Brexit, was hulle dubbel verkeerd oor Trump.

Hy het veral die krisis in die Sweedse media uitgesonder, wat hy die “ergste ter wêreld” genoem het. “Ek dink die heel ergste uitsaai-organisasie ter wêreld is in Swede. Swede is heeltemal afgesny, want daar is geen dekking nie.

“Hulle word nie eens toegelaat om die nasionaliteit van iemand wat ‘n misdaad pleeg te vermeld nie. Dit is nou verbode vanweë ‘n onderlinge ooreenkoms tussen die uitsaaiers en die koerante.

“(In Swede) het jy die opkoms van ‘n politieke party — hulle kan dit nie hanteer nie. Ek was drie weke gelede in Stockholm. Ek en die vorige Tsjeggiese president Vaclav Klaus het ‘n groot konferensie toegespreek — honderde mense — en ek is nie gevra om ‘n enkele Sweedse onderhoud te doen nie. Hulle wil nie daaroor praat nie. Dis ongelooflik.”

Sedert 1999 ondersteun Farage ‘n groep genaamd News-watch wat duisende ure van die BBC se spitstydnuusdekking ontleed vir vooroordeel en tans openlike bangmaakstories. Hy het verduidelik dat die BBC selfs kosprogramme gebruik om oor die “ramp” vir Brittanje buite die EU te praat, asook in Farming Today waar die staatsuitsaaier na die “katastrofe” verwys wat binnekort die Britse landbou (agv Brexit) gaan tref.

Trump se oorwinning, Brexit en nou Italië se referendum waartydens die globalistiese rigting verwerp is, het groot kommer by die hoofstroommedia veroorsaak, maar hulle hou aan om die verhaal van die verkiesing en openbare kommentaar oor dié politieke grondverskuiwings te sensureer.

“Wat ek sou sê, is dat dié bedryf in ‘n diepgaande krisis verkeer,” gaan Farage voort. “Dis so verwyder van die manier waarop gewone mense toenemend dink dat dit ‘n enorme gaping in die mark gelaat het wat deur die internet gevul word.”

Farage noem dat die stedelike elites in hul nuuskantore bydra tot die probleem van hoe hulle die nuus aanbied. “Een van die dinge wat ek vandag gaan sê, is dat hul indiensnemingsbeleid geheel en al behoort te verander,” meen Farage. “By die BBC is daar ‘n eng gedeelte van die samelewing — baie stedelik, baie metropolitaans, finansieel baie elite, met ‘n obsessie oor etniese vermenging en geslagsbalans.

“Ek sou vir seker nooit vir UKIP gekry waar dit tans is sonder YouTube en die nuwe webblaaie wat te voorskyn gekom het nie,” sê hy.

“Maar hoeveel nie-graduandi werk daar by die BBC? Wel, geen. En net so het jy die lewensstylkeuses van die mense wat by die BBC werk, wat betref hoe hulle leef — en dis ‘n verwysing na oriëntasie, sal ons maar sê, en weereens is dit nie verteenwoordigend van wat mens buite Londen sien nie. Dus, weereens, sal die bedryf sy indiensnemingsbeleid heeltemal moet verander.”

Farage meen dat die Europese media die beriggewing oor die EU en radikale Islam in oënskou sal moet neem, en die manier waarop hulle oor immigrasie verslag doen, geheel en al moet verander. En hy het ook klem gelê op die Westerse media se blatante vooroordeel as dit by klimaatsverandering kom, asook hul grootskaalse steun vir windenergie.
“Dis asof die groot sake nie net die politieke klas besit nie, maar ook die mediaklas. Tensy hulle realisties raak oor dié vier kwessies, gaan ‘n konferensie soos dié oor vyf jaar veel minder mense trek.”

Gedurende sy toespraak by die News Xchange-konferensie, wat jaarliks plaasvind, het Farage sy kommentaar oor die media se tekortkominge herhaal: “Daar is ‘n paar groot kwessies waaroor julle ouens hard sal moet dink.

“Die Europese kwessie is een van hulle — ons het met Brexit getoon dat dit moontlik is, en nou is daar vele lande in die Europese Unie wat ersntig or hul toekoms in dié projek besin. Ek dink die dekking oor radikale Islam is nog ‘n veld waar u heeltemal tred verloor.

“Betreffende immigrasie, dink ek daar is baie van u wat die onderwerp dek op ‘n manier wat enigeen wat die kwessie ter sprake stel, verdag maak asof hy kwaadwillige bedoelings sou hê — wat in die meerderheid gevalle gewoon nie waar is nie.

“Ek dink die dekking van radikale Islam is ‘n ander veld waar u heeltemal uit voeling is met groot dele van u eie bevolking. Trouens, dit gebeur ook in die politiek. Geagte Hillary (Clinton) kon nie eens sover kom om radikale Islam te sê nie —sy kon nie eens die term gebruik nie.

Farage stem met Trump saam dat CNN sedert Hillary Clinton se neerlaag agteruitgegaan het. “Hulle het ‘n vinnige skulderkenning gedoen en toe weer die gewone ding begin doen,” sê Farage. Volgens hom gaan hulle die huidige krisis wat hulle in die gesig staar, oorkom nie. “Ek is net nie oortuig dat dié groep mense daartoe in staat is nie.”

Farage het verder opgemerk dat die mediabedryf veral in Amerika enorme uitdagings in die gesig staar sover dit korporatiewe amalgamering van nuuskantore betref. Die media-oligopolieë bestaan op ‘n groter skaal in die VSA, maar wesentlik staar alle lande ‘n soortgelyke probleem in die gesig.

Om mediavooroodeel teen te werk, is maklik, verduidelik Farage. Al wat mense behoort te doen, is om die nuus af te skakel en hul inligting van alternatiewe bronne te verkry wat nie ten gunste van die establishment of die status quo bevooroordeeld is nie. “Hou net op kyk. Dit gaan oor ‘n verbruikerskeuse,” sê Farage.

Hy het ook met McClatchy News by die konferensie gepraat waar hy burgers aangemoedig het om hul eie keuses te maak. “Dis die gewone mense wat heeltemal moed opgegee het… As jy daardie mense kan inspireer om uit te gaan en te stem, kan jy die wêreld verander,” het hy gesê.

Teenoor Steve “Buzz” Thomma, McClatchy se politieke redakteur, het hy gesê: “Die enigste manier waarop jy van jou land beheer kan neem, is deur die EU te verlaat en van jou grense beheer te neem.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.