PRAAG het so pas opgegradeer na die nuwe weergawe van die WordPress-stelsel, nommer 4.7, wat gister vrygestel is. Benewens enkele tegniese verbeteringe, word WordPress nou ook volledig in Afrikaans aangebied. Die beheerpaneel aan die agterkant van die webblad wat deur redaksielede en medewerkers gebruik word, is nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar (foto hier bo).
“Dis vir ons ‘n riem onder die hart dat WordPress nou volledig Afrikaans praat,” sê dr. Dan Roodt van PRAAG. “Ons het reeds lankal die Afrikaanse taallêer gelaai, maar om tegniese redes wou dit werk nie en was die administrasiepaneel tot dusver oorwegend in Engels. Daar is byvoorbeeld van “posts” in plaas van “artikels” gepraat. Nou is nie net die inhoud van PRAAG Afrikaans nie, maar ook bedryfstelsel sodat ‘n mens veel meer die indruk het dat jy in ‘n Afrikaanse taalwêreld verkeer.”
WordPress is ‘n oopbronprogram vir internetpublikasie wat in 2003 deur Matt Mullenweg en Mike Little vrygestel is. Teen Januarie 2015, het meer as 23,3% van die toptienmiljoen webblaaie ter wêreld dit as inhoudbestuurstelsel gebruik.
Ander groot internasionale webblaaie en stelsels wat volledig in Afrikaans beskikbaar is, is Google en Gmail, asook Facebook en Disqus. PRAAG het enkele jare gelede die voortou geneem om Disqus in Afrikaans te vertaal en vandag word dit deur ‘n hele aantal Afrikaanse webblaaie as kommentaarstelsel gebruik.
“Dit is ironies dat Afrikaans internasionaal as een van die belangrike internettale erken word, maar in ons eie land as akademiese en kultuurtaal deur die owerheid misken word,” sê Roodt. “Solank as wat Afrikaans egter op die internet en as tegnologietaal oorleef, kan ons seker wees dat die taalstryd ook in Suid-Afrika gewen sal word.”