Italiaanse establishment verloor referendum loshande: eerste minister bedank

Deel op

Die eerste minister van Italië, mnr. Matteo Renzi, het Sondagaand laat tydens ‘n perskonferensie sy referendumneerlaag teen die “populiste” van Links en Regs aanvaar deur te sê: “Ek het verloor en ek sê dit hard en duidelik, selfs al is dit met ‘n knop in die keel.”

Renzi se verpletterende neerlaag Sondag het hom gedwing om te bedank soos wat hy belowe het indien die Italiaanse kiesers sy plan sou verwerp om die magte van die Senaat, asook van streeksowerhede, te verminder.

Terwyl al die stemme Sondagaand reeds getel was, was daar steeds oorsese stembriewe wat ‘n klein persentasie wysiging in die finale aantal stemme kon teweegbring, dog sonder om die uitslag te beïnvloed. Met ‘n stempersentasie van 68,4 persent, het die “nee”-stem met ‘n aardskuddende 59,26 persent getriomfeer, terwyl die “ja”-stem ver agter was met 40,74 persent.

‘n Uitgangsopname deur die Piepoli-instituut vir die staatstelevisiekanaal RAI, het die aantal “ja”-stemmers op 42-46 persent geskat, vergeleke met 54-58 persent vir die “nee”. Twee ander meningsopnames deur Tecne’ vir die privaat TV-kanaal Mediaset, en deur EMG Acqua vir La 7 het ‘n soortgelyke oorwinning van ten minste 10 persentasiepunte voorspel.

“Môre-middag sal ek ‘n kabinetsvergadering byeenroep … dan sal ek na die Quirinale toe gaan, waar ek my bedanking aan die president sal oorhandig,” het Renzi gesê. Die Quirinale is die huidige ampswoning van die president van die Italiaanse Republiek, Sergio Mattarella.

Matteo Renzi se neerlaag het die Europese Unie ‘n gevoelige hou toegedien, ‘n unie wat reeds steier onder ‘n stortvloed migrante, terreuraanvalle, en die opkoms van anti-establishmentgroepe. Die uitkoms verteenwoordig ‘n klap in die gesig vir die oopgrens-, globalistiese establishment in Europa.

Italië word dus die volgende land ná Brittanje om die politieke status quo te verwerp, terwyl Oostenryk Sondag net-net teen die nasionalistiese kandidaat Norbert Höfer gestem het. Beide verkiesings is stip dopgehou.

Die opposisieleier Matteo Salvini, van die Noordelike Liga wat teen immigrasie gekant is, het gesê dat indien die uitgangsopnames bevestig word, die referendum die “oorwinning van die volk teen die sterk magte van driekwart van die wêreld” sal wees.

“Renzi gaan padgee en saam met hom sal die magtige drukgroepe ook oorwin wees,”  het Renato Brunetta, die parlementêre leier van die voormalige premier, Silvio Berlusconi se sentrumregse Forza Italia-party aan die Britse Telegraph gesê.

Die anti-immigrasieparty, die Noordelike Liga, wat ‘n bondgenoot van die Franse regse party die Front National is, het gevra vir ‘n vroeë algemene verkiesing in Italië.

Die eerste minister se bedanking sou wel vroeë verkiesings aanstaande jaar kon beteken en die moontlikheid die anti-europarty van Beppo Grillo se Vyfsterbeweging genoeg veld kan wen om ‘n opskudding te veroorsaak.

Renzi het erken dat die stem ‘n “duidelike” verwerping van die voorgenome grondwethervorming in die eurosone se derde grootste ekonomie (naas Duitsland en Frankryk) was. “Die ervaring van my regering eindig hier,” het hy aan die media gesê.

Europa se establishment vrees dat die oorwinning van die Italiaanse opposisie en die “nee”-groep hernieude chaos vir Italië se banke kan veroorsaak, wat die eurosone in ‘n nuwe krisis kan dompel en daardeur die establishment se greep op die mag kan bedreig.

Die land se banke beskik oor astronomiese skuldvlakke van ongeveer €280 miljard (R4,2 triljoen). Italië se grootste bank, Monte dei Paschi, benodig ‘n kapitaalinspuiting van €5 miljard en nou, danksy die referendum, gaan sy leenkostes verder styg, wat dit baie duur gaan maak om die bank vir die derde keer te probeer red.

Reuters het berig dat die Europese Sentrale Bank gereed staan om in te gryp indien nodig, maar markontleders het soortgelyke onstabiliteit ná Brexit voorspel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.