‘n Swart woordvoerder van die studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand, David Manabile sê hulle sal wag tot die studente terugkeer ná die vakansie om tot oproer oor te gaan.
Die Universiteit het Maandag aangekondig dat studiegeld aanstaande jaar met agt persent verhoog word.
Manabile sê hulle verwag onrus en massaoptrede omdat die studente ontevrede sal wees oor die verhoging in universiteitsgeld, maar het nie kommentaar gelewer oor die openlike aanhitsing deur sekere partye nie.
Die sogenaamde massaoptrede by tersiêre instellings gaan byna sonder uitsondering gepaard met brandstigting, saakbeskadiging en geweld.
Hy sê hulle wag net vir ‘n mandaat om verdere ontwrigtende aksies teen die instelling van stapel te stuur.
Die Universiteit sê die verhoging is in ooreenstemming met die minister van hoër onderwys se riglyn en is noodsaaklik om finansiële volhoubaarheid te verseker.