Leon Lemmer: William Buckley, die grondlegger van Amerikaanse konserwatisme

William F. Buckley
Deel op

In die Amerikaanse politiek is daar tradisioneel twee politieke partye. Die Demokratiese Party (DP) is in 1828 deur Andrew Jackson gestig, word met die kleur blou geassosieer en ‘n donkie word gebruik om die party te simboliseer. Die Republikeinse Party (RP) is in 1854 gestig met Abraham Lincoln wat van vroeg af die leiding geneem het. Die RP, ook bekend as die GOP (Grand Old Party), word met die kleur rooi geassosieer en met ‘n olifant gesimboliseer. Die DP se steun was aanvanklik in die suidelike state, maar deesdae is die party vir sy liberalisme (nou progressiwiteit genoem) en sy neiging tot sosialisme bekend. Die RP was die anti-slawerny-party, met sy steunbasis in die noordelike state. Deesdae is die RP egter vanweë sy konserwatisme en tradisionalisme bekend. Daaruit blyk dat politieke partye met verloop van tyd radikaal kan verander. Dink bv aan die Nasionale Party in Suid-Afrika wat ‘n pleitbesorger vir die blankes en by uitstek vir Afrikaners en apartheid was en in die ANC opgeneem is om op hierdie manier roemloos tot sy einde te kom.

Eintlik het die DP en RP rolle omgeruil. Hierdie fundamentele verandering word deur Dinesh D’Souza beskryf. Hy haal die historikus Eric Foner aan wat die Ku Klux Klan “the domestic terrorist arm of the Democratic Party” noem” (Dinesh D’Souza, Hillary’s America: The secret history of the Democratic Party, Washington: Regnery Publishing, 2016, 256p; Amazon Kindle $19,94, 241). “Blacks, who once voted overwhelmingly Republican, now vote overwhelmingly Democratic” (319). Vir blanke kiesers geld die teenoorgestelde. Deesdae is die middestede die nuwe plantasies waar swartes aangetref word.

“Under slavery, blacks had to work; today’s blacks don’t have to work to inhabit the progressive plantation” (366).

Stedelike kiesers is geneig om vir die DP te stem en plattelandse kiesers vir die RP. DP -ondersteuners gee voorkeur aan gesentraliseerde sentrale regering terwyl RP-ondersteuners politieke mag eerder na die individuele state probeer afwentel.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika as die leidende wêreldmoondheid op die voorgrond getree. Hy wou sy invloed dwarsoor die aardbol laat geld en het daarom genoodsaak gevoel om internasionaal ‘n navolgingswaardige voorbeeld te stel. Dit het beteken dat sommige tradisionele Amerikaanse waardes versaak en internasionale waardes buitelands en al hoe meer binnelands aangehang is. Amerikaanse swartes en ander nie-blanke soldate het as gelykes (maar apart) saam met blankes in die oorlog geveg. Na hulle terugkeer na Amerika het veral die swartes militant op gelyke regte met blankes aangedring. Betogings, oproer, vandalisme en terreur, hoofsaaklik deur swartes gepleeg, het gevolg. Eufemisties word dit die Burgerregtebeweging genoem. Die gewelddadige taktiek wat aldaar in die jare vyftig en sestig asook sedertdien gebruik is, is spoedig plaaslik deur die ANC en PAC nagevolg.

Die DP het ontpop as by uitstek die liberalistiese, pro-burgerregte party. Baie RP-lede, daarenteen, het konserwatief geneig en weerstand teen gelyke regte vir swartes gebied. Uit swart en blanke liberalistiese geledere is gepoog om by blankes skuldgevoelens oor veral slawerny en rassediskriminasie te wek. Dit het verdeeldheid in RP-geledere veroorsaak en sommige RP-lede moreel verplig laat voel om burgerregte vir swartes te ondersteun. Daarby het dit nie gebly nie. Hoe meer steun swartes ontvang het, des te meer het hulle met nuwe eise vorendag gekom. Algemene stemreg, kleurblindheid, geen rassediskriminasie, gelyke geleenthede, ens, was volgens die swartes nie goed genoeg nie. Daar is uitgegaan van die veronderstelling, soos vervat in die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring van 1776, dat alle mense gelyk gebore word, wat Jean -Jacques Rousseau (1712-1778) se idee was; dat daar geneties geen verskil is nie; dat swartes dieselfde talente as wittes het. In die praktyk was swartes en wittes egter nie gelyk nie. Blankes het die skuld vir hierdie ongelykheid gekry. Dit is nie genoeg as die “speelveld” diskriminasieloos gelyk gemaak word nie, want die swartes kon weens beweerde historiese benadeling (slawerny, rassediskriminasie) nie met die blankes meeding nie. Geregtigheid sou glo eers bewerkstellig word as swartes bo blankes bevoordeel word; as die speelveld ten gunste van swartes ongelyk gemaak word; dus as blankes benadeel word.

Dit is hier waar baie RP-lede ‘n streep getrek het. Gelyke regte vir swartes was vir hulle aanvaarbaar, maar nie oorkompensasie waarvolgens swartes bo blankes bevoordeel word nie. Die situasie is vererger deurdat ander Amerikaanse minderheidsgroepe (Indiane, Hispaniste, Asiate) op die rug van swart bevoordeling mettertyd ook daarin geslaag het om soortgelyke superieure menseregte, minderheidsregte genoem, te verwerf. Vroue het soortgelyke superieure regte verwerf, hoewel hulle glad nie ‘n minderheids- of etniese groep is nie, maar omdat hulle glo ook histories benadeel is. In al hierdie gevalle is blanke mans as die sondaars uitgewys. Die skurkstatus van blanke mans in die nuwe Suid-Afrika is aan die Amerikaanse voorbeeld te wyte. In Amerika het bevoordeling van almal behalwe wit mans sulke buitensporige afmetings aangeneem dat Hispaniste, waarvan baie blank is, verkies om hulle eerder op hulle minderheidsregte te beroep as om deel van die blanke meerderheid te wees.

Hoewel swartes in Suid-Afrika die verswelgende meerderheidsgroep is en nooit slawe was nie, is die Amerikaanse model van nie-blanke en veral swart bevoordeling sonder meer plaaslik toepaslik gemaak. In die propaganda van die ANC en ander terreurgroepe is rassediskriminasie as dié groot euwel in die ou Suid-Afrika uitgewys. In die nuwe Suid-Afrika is daar egter geen sprake van ‘n nie-rassige samelewing soos die ANC graag in sy propaganda beweer nie. Kleurbewustheid word ingevolge die ideologie van swart mag aangemoedig. Die ANC se bevoordelingsbeleid vir nie-wittes, veral swartes, bv transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, is by implikasie doelbewuste pogings om wittes sover moontlik te benadeel en sou glad nie sonder die apartheidsbeleid se rasseklassifikasie (blankes, bruines, swartes en Asiate) toegepas kon word nie. Dus, van owerheidsweë word etnisiteit en kleurbewustheid deesdae plaaslik vooropgestel. Dit is ironies en vals as die sogenaamde nie-rassigheid van die nuwe politieke bedeling aangeprys word.

Die politieke opset in die nuwe Suid-Afrika, in teenstelling met die ou Suid-Afrika, word in ANC- en liberalistiese propaganda geregtigheid (“justice”) genoem. Vir my lyk die doelbewuste benadeling van en diskriminasie jeens blankes nie net na ongeregtigheid nie, maar ook na dwaasheid omdat (moontlik) die talentvolste burgers aan bande gelê word in hulle bewese vermoë om die land te ontwikkel en voorspoediger te maak. In die stelsel van algemene stemreg is insgelyks grootskaalse ongeregtigheid en dwaasheid ingebou. Dit is absurd dat die stem van ‘n werklose, armlastige, ongeletterde plakker of van ‘n veroordeelde tronkvoël dieselfde gewig as dié van bv ‘n nyweraar of sakeleier dra. Net diegene wat ‘n bate vir die land is en inkomstebelasting betaal, behoort myns insiens stemreg te hê. In so ‘n opset sal blankes in groter mate tot hulle reg kom. Juis daarom is dit taboe, al sou die land dan ongetwyfeld voorspoediger wees en doeltreffender regeer word.

Dit was en is dikwels moeilik om duidelik tussen die DP en die RP te onderskei. Die mate waarin die RP ‘n konserwatiewe party geword het, word veral aan die invloed van ‘n enkele tydskrif, National Review (NR), gestig in 1955, en die stigter daarvan, William F Buckley (1925-2008), toegeskryf. Buckley se pa was ‘n oliebaron wat sy seun finansieel ondersteun het deur bv die publikasie van sy eerste boek en die stigting van NR moontlik te maak. Buckley het slegs nominale vergoeding vir sy jare lange NR-redakteurskap (1955-1990) ontvang. Hy het Amerika dekades lank deurreis om byeenkomste ter bevordering van konserwatisme toe te spreek sonder om optree- of reis- en verblyfgeld te ontvang. Vergelyk dit met bv Sarah Palin (Praag 6.03.2016) wat ‘n buitensporige bedrag betaal word as sy ‘n byeenkoms van bv die Tea Party toespreek.

Die Buckleys is van Ierse oorsprong en Rooms-Katoliek. Anders as bv John (Jack), Robert (Bobby) en Edward (Ted) Kennedy is baie Rooms-Katolieke tradisievas en konserwatief, bv oor egskeiding, geboortebeperking en aborsie. In navolging van sy pa was Buckley sedert sy prille jeug godsdienstig en polities konserwatief gesind. As kind was sy eerste taal Spaans toe hulle in Mexiko gewoon het en Frans toe hulle in Frankryk gebly het. Daarna was hy in Engeland en Amerika op skool. Aan Yale University het hy staatsleer, geskiedenis en ekonomie bestudeer. As redakteur van die Yale Daily News het hy die standpunt gehuldig dat Yale as private inrigting die reg het om “minorities” as studente uit te sluit: “discrimination of sorts [is] indispensable to the free society” (Lee Edwards, bron hier onder, Kindle 243).

Buckley het baie artikels en boeke gepubliseer. Die boeke sluit speurverhale en misdaadromans in. Van sy invloedrykste ondernemings was ‘n televisiebesprekingsprogram, Firing Line (1966-1999). Op 4 Oktober is die volgende boek oor hierdie program gepubliseer: Heather Hendershot, Open to debate: How William F Buckley put liberal America on the Firing Line (Broadside e-books: 432p, 2016; Amazon Kindle $14,81). Onlangs het daar ook ‘n omvattende boek verskyn oor Buckley se huldeblyke van belangrike persone waarmee hy eerstehands kennis gemaak het: A torch kept lit: Great lives of the twentieth century (New York: Crown Publishing, 2016, 338p; Amazon Kindle $13,67). Daarin skryf hy oor bv vyf Amerikaanse presidente: Eisenhower, Kennedy, Johnson, Nixon en Reagan. Ook oor Winston Churchill, Barry Goldwater, Ayn Rand, prinses Diana, John Lennon, Elvis Presley, ens.

Buckley se boek, Happy days were here again: Reflections of a libertarian journalist (New York: Basic Books, 2008, 496p; Amazon Kindle $14,81) is ‘n versameling van sy tydskrifartikels. Miles gone by: A literary autobiography (Washington: Regnery Publishing, 2004/2012, 594p; Amazon Kindle $11,39) is ongelukkig nie ‘n egte outobiografie nie maar weer eens bloot ‘n versameling van gepubliseerde artikels: “There would be no point in contriving an autobiography from scratch. Why? I have already written about the events and the people that have shaped my life; any new account would simply paraphrase these” (Kindle 71). Sedertdien is Carl T Bogus se volwaardige biografie gepubliseer: Buckley: William F Buckley Jr and the rise of American conservatism (New York: Bloomsbury Press, 2011, 417p; Amazon Kindle $11,39).

Uit ‘n politieke oogpunt is van Buckley se lesenswaardigste boeke seker die laaste twee wat hy voltooi het: Flying high: Remembering Barry Goldwater (New York: Basic Books, 2008, 226p; Amazon Kindle $13,67) en The Reagan I knew (New York: Basic Books, 2008, 308p; Amazon Kindle $11,39). Ek wil my egter toespits op Buckley se rol in die bevordering van konserwatisme in Amerika en beperk my aandag dus in die res van hierdie rubriek tot Lee Edwards se boek, William F Buckley Jr: The maker of a movement (Wilmington: Intercollegiate Studies Institute, 2014, 208p; Amazon Kindle $11,39), wat ook die voordeel het dat die teks na Bogus se biografie voltooi is.

Michael Barone het na Buckley se dood sy nalatenskap as “a coherent and respectable conservatism” beskryf (53). William Kristol het geskryf: “Before Buckley there was no American conservative movement … Buckley created conservatism as a political and intellectual movement” (73). Michael Kinsley het oor Buckley geskryf: “He united the fragments of American conservatism and paved the way for Goldwater and then Reagan” (73). Die aartsliberalis Christopher Hitchens het opgehaal dat Buckley enersyds Joseph MacCarthy gesteun en Francisco Franco geprys het, dat hy gekant teen die Civil Rights Act van 1964 was en ten gunste van die Viëtnamese oorlog. Andersyds was Buckley teen die John Birch Society, verregses en anti-semitisme (82). Hy het ekstremisme vermy en “respectable conservatism” voorgestaan (962). Buckley het Patrick Buchanan as ‘n “paleoconservative” beskou en sy anti-Israel-standpunt was vir Buckley onaanvaarbaar (962). As Rooms-Katoliek was Buckley ook teen Ayn Rand gekant.

“He saw it necessary to dissociate the conservative movement from the irresponsible Right” (892); soortgelyk aan die wyse waarop Donald Trump hom van die Ku Klux Klan distansieer. Edwards skryf: “There were disconnects between New Right leaders and Buckley” (1455). “Kevin Phillips … coined the phrase ‘The New Right'” (1466). Richard Viguerie het egter geskryf: “The New Right owes much of what we believe in and are fighting for to such outstanding men [ie Russell Kirk] and the catalyst who brought them together, William F Buckley” (1479). Soos sy konserwatief geworde mede-Rooms-Katoliek, Evelyn Waugh (1903-1966), was Buckley sterk teen die modernisering van die Rooms-Katolieke Kerk, The Second Vatican Ecumenical Council (1962-1965), gekant.

Uit die twee voorafgaande paragrawe is dit duidelik dat daar in Amerika, soos in Suid-Afrika, talle faksies en aksentverskille in tradisionalistiese en konserwatiewe geledere bestaan. Buckley se grootste strategiese probleem was om sommige van hierdie elemente saam te snoer maar in hierdie proses ook sekere elemente uit te sluit. “His synthesis of the disparate elements of conservatism … came to be called fusionism (a word coined by … Brent Bozell,* who did not think that any lasting correlation of freedom and virtue was possible)” (1020). Frank Meyer, daarenteen, het geargumenteer: “Freedom … was the indispensable condition for the pursuit of virtue” (1020); dus, gedwonge deug is nie werklik deug nie. Vryheid verwys hier na die libertyne wat individualisme voorgestaan en die minimum inperking van vryheid verlang het. Deug word met moraliteit geassosieer. Buckley het geskryf: “The United Nations is the most concentrated assault on moral reality in the history of free institutions” (1409).

[* Bozell is die eintlike outeur (“ghostwriter”) van Barry Goldwater se manifes, The conscience of a conservative (1960), ‘n teks wat my teleurgestel het. “Not everyone at National Review, however, welcomed the Goldwater candidacy. James Burnham had doubts about the senator’s intellectual capacity and regarded his ‘why not victory?’ policy to end the Cold War as simplistic” (1138). In die Goldwater-manifes word tereg genoem sommige soorte staatstoelae “reward people for not producing … I cannot conceive of a more absurd and self-defeating policy than one which subsidizes non-production” (Consience of a conservative, First Start Publishing, 2012, 88p; Amazon Kindle $1.13, 327). Ook: “We are all equal in the eyes of God but we are equal in no other respect” (530). Vir kommuniste “negotiations are simply an instrument of political warfare” (902); iets wat FW de Klerk blykbaar nooit begryp het nie.]

“Striving as ever for consensus, Buckley suggested in an essay titled ‘Notes toward an empirical definition of conservatism’ that what National Review had striven to do from the beginning was to achieve ‘a general consensus on the proper balance between freedom, order, justice and tradition'” (Edwards 1032). “Buckley admitted to himself that he was not a political philosopher but a popularizer of ideas … He concentrated on acting ‘as a broker and analyst of ideas, rather than as an originator of them'” (1115).

Naas godsdiens is Buckley se idees deur verskeie mense beïnvloed. Albert Jay Nock (1870-1945), “the ultimate individualist” (194), was teen die idee van ‘n welsynstaat gekant (181). Aanvanklik het Buckley homself eerder ‘n individualis as ‘n konserwatis beskou (451). Een van Nock se “wette” was: “Man tends always to satisfy his needs with the least possible exertion” (182). Dink bv aan die ANC-parlementslede wat buitensporige vergoeding ontvang maar dikwels nie eens aanwesig is wanneer daar gestem moet word nie. Buckley het Nock se “antistatism” onderskryf (182); dus dat die owerhede klein en nie-almagtig moet wees; dat die regering so min moontlik in die sake van individue moet inmeng. Buckley was van mening dat Amerika uit die Tweede Wêreldoorlog moet bly. Sy idee van “America First” word deesdae deur Donald Trump beaam. Dit herinner aan Barry Hertzog se “Suid-Afrika Eerste” wat in die ANC-kraal ontaard het in eiebelang, swart belange en Afrika-belange as hoogtste voorkeure.

Willmoore Hendall (1909-1967), ‘n politieke wetenskaplike aan Yale University, het Buckley beïnvloed toe hy daar ‘n student was. Hendall was sterk elitisties en anti-kommunisties (347) en teen die “open society” gekant. “All polities … have an orthodoxy they have a right to defend against anyone who would fundamentally change it” (323). Amerikaanse universiteitsdosente het toe al uitgemunt in hulle linksgesindheid. Hendall het gesê “he would rather be governed by the first two thousand names in the Boston telephone directory than the Harvard faculty” (347).

Die derde persoon wat Buckley beïnvloed het, was James Burnham (1905-1987), die “first among equals of the senior editors” (626) van die National Review, oor wie ek voorheen geskryf het (Praag 1 Oktober).* ‘n Ander invloed was Russell Kirk (1918-1994), wat die “assembly-line civilization” (626) of Amerikaanse “melting-pot” verwerp het. Buckley het ook “nation-building” afgewys (2165, 2212). Desnieteenstaande is nasiebou een van die pligte van Suid-Afrikaanse sportmanne. Kirk is die outeur van The conservative mind (1953), “a work that transformed public understanding of American conservatism” (636). “Kirk’s book gave the conservative movement its name” (705). Soos Burnham en andere aangetoon het, is “secular liberalism, the dominant ism in America … a watered-down version of Communist ideology” (684).

george-orwell
George Orwell

[* Burnham se boek, Suicide of the West (1964) bied ‘n uitstekende ontleding van liberalisme. Dit is ‘n toonbeeld van sy rype denke. In die praktiese politiek kon hy egter steeds ernstige oordeelsfoute begaan, bv “Burnham suggested Jimmy Carter as worthy of NR’s support” (1632). George Orwell het ‘n briljante opstel oor Burnham se twee vroeëre boeke gepubliseer: “James Burnham and the managerial revolution” (1946). Orwell toon aan dat Burnham in daardie tekste die elementêre fout begaan om sy standpunt deurlopend ooreenkomstig die huidige situasie aan te pas en daarby te veronderstel dat die huidige neiging sou voortduur. Die helderheid en insig waarmee Orwell skryf en sy ingeligtheid is treffend. In sy huldeblyk aan Orwell het Arthur Koestler geskryf: “His uncompromising intellectual honesty made him appear almost inhuman at times” (Frank S Pepper, Contemporary biographical quotations, London: Sphere Books, 1986, p 222). Ek volstaan met drie van die pêrels in Orwell se 1946-opstel. (1) “It is difficult to think of any politician who has lived to be eighty and still been regarded as a success. What we call a ‘great’ statesman normally means one who dies before his policy has had time to take effect.” (2) Orwell verwys na “the American tendency to admire size for its own sake and to feel that success constitutes justification.” (3) “Humanity is divided into two classes: the self-seeking, hypocritical minority, and the brainless mob whose destiny is always to be led or driven, as one gets a pig back to the sty by kicking it on the bottom or by rattling a stick inside a swill-bucket, according to the needs of the moment. And this beautiful pattern is to continue for ever … the division of humanity into rulers and ruled is unalterable. In their capabilities, as in their desires and needs, men are not equal. There is an “iron law of oligarchy.” David Lebedoff, wat soos ek ‘n bewonderaar van Orwell se skryfwerk is, het ‘n interessante boek geskryf: The same man: George Orwell and Evelyn Waugh in love and war (New York: Random House, 2008 288p; Amazon Kindle $15,95). Daarin is daar bv een van Orwell se beroemde stellings, wat ek graag met verwysing na bv Nelson Mandela onderskryf: “Saints should always be judged guilty until they are proved innocent” (Kindle 1652).]

“NR and its editor did not acquit themselves as well on the issue of civil rights in the 1950s and early 1960s, taking a states’ right position that equaled, in the eyes of most liberals and almost all black Americans, a stand in favor of segregation and therefore[?] racism.* In his articles, Buckley clearly rejected the politics of southern racists like Ross Barnett of Mississippi and George Wallace of Alabama, but he also argued that the federal enforcement of integration was worse than the temporary continuation of segregation. Consistent with conservative principles, he favored volutary gradual change” (986). Buckley se politiek was dus meer soos dié van Ian Smith in Rhodesië as FW de Klerk se revolusionêre dwaasheid dat alles meteens verander moet word. [* Outeur Edwards se politiek is links van Buckley s’n.]

Buckley het hom nie om die bos laat lei deur Martin Luther King jr se praatjies nie. Hy het geweet “two of King’s closest associates, Stanley Levinson and Hunter Pitts (Jack) O’Dell, were ranking members of the Communist Party” (1009). O’Dell het ook aktief met Jesse Jackson saamgewerk.

In 1965 het Buckley ‘n onsuksesvolle poging aangewend om die burgemeester van New York City te word en daaroor ‘n boek gepubliseer: The unmaking of a mayor (1966). “He proposed, several years before Governor Reagan offered his hard-nosed welfare-reform program in California, that all welfare recipients be required to do ‘street cleaning and general prettification work’ for the city. Here was the first conservative enunciation of the workfare principle, or as Buckley put it rather crudely, ‘No workee, no dolee'” (1249). Wat myns insiens hier bygevoeg moet word, is dat nie-betalers nie toegelaat moet word om te betoog en buurte op horings te neem as dienste onbevredigend of glad nie gelewer word nie. Geen betaling behoort eintlik vanselfsprekend geen dienste te beteken. Dit is immers wat in die geval van diensbetalers gedoen word. As ek nie vir my water of elektrisiteit betaal nie word dit afgesny.

Buckley het Bill Clinton se intreerede as president Orwelliaanse “doublespeak” genoem. “‘Tricky Dick [Nixon] would have been run out of town with wet towels’ … if he had been as deceitful as Clinton” (789). Metapolitiek is deur Buckley beoefen: “National Review was not founded to make practical politics. Our job is to think, and write” (846). Van George W Bush het Buckley gesê: “He’s conservative, but not a conservative” (2087).

Barry Goldwater
Barry Goldwater

Barry Goldwater, die Republikeinse Party se presidensiële kandidaat in 1964, was “the most influential loser in modern presidential politics” (2033), die wegbereider vir Ronald Reagan se presidentskap (1981-1989). “Buckley’s role in building the conservative movement was essential to Reagan’s success” (1929). Donald Trump as president is eintlik die bekroning van Buckley se lewenstaak, want die eerste keer in die geskiedenis word gesê dat die meerderheid lede van die Republikeinse Party hulle as konserwatief identifiseer. Buckley se “vision of ordered liberty shaped and molded and guided American conservatism from its infancy to its maturity” (2406).

Trump se oorwinning gee wêreldwyd stukrag aan konserwatiewe en regse groepe; ook in Suid-Afrika. Die vraag is of daar plaaslik iemand is wat soos Buckley hierdie groepe tot ‘n kragtige beweging kan saamsnoer.

“Buckley argued that if conservatives in politics wanted to be successful they had to steer a middle course between the ideal and the prudential” (1182). “Conservatism implies a certain submission to reality” (2225).

Sedert sy verkiesingsoorwinning is daar by Trump reeds heelwat tekens van hierdie goue middeweg, wat egter sy konserwatisme en mate van regsheid verwater.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.