‘Vrees’ oor lys van linkse professore in Amerika

Deel op

‘n Konserwatiewe organisasie, Turning Point USA, het ‘n webblad geskep waarop ‘n lys van meer as 200 professore aan universiteite regoor Amerika verskyn wat “teen konserwatiewe studente diskrimineer en linkse propaganda in die klaskamer bevorder”.

Die webblad, professorwatchlist.org, plaas nie sommer die naam van enige professor nie —bewyse word vereis.

“This watchlist is an aggregated list of pre-existing news stories that were published by a variety of news organizations,” verklaar die webblad. “While we accept tips for new additions on our website, we only publish profiles on incidents that have already been reported by a credible source.”

TPUSA poog nie om die professore op die lys stil te maak nie, maar stel wel “spesifieke voorvalle en name van professore wat ‘n radikale agenda in die lesingsaal bevorder,” aan die kaak.

Die reaksie van Links was voorspelbaar histeries, met sommige wat dit as “grotesk” uitkryt en ander wat sê dat dit “‘n voorraadagentskap vir foto’s van selftevrede witmense is”.

Die linkse webblad Slate beskou die lys as “deel van die vreesaanjaende nuwe politieke status quo” in Amerika:

“Of dit só bedoel is of nie, belyn die professorale naamlys hom met die vreesaanjaende nuwe politieke status quo. Dit is inderdaad ‘n keerpunt in ons land, ‘n vreesagtige tyd wat ongekend in die geskiedenis is sedert die tweede wêreldoorlog. Vrees om op ‘n lys geplaas te word, om as ongewens geteiken te word, en onderwerp te word aan wat ook al volgende gaan gebeur.”

Die TPUSA-lede en -organisasie word met ‘n woedende, gewelddadige gepeupel vergelyk, berig The Daily Caller, wat vermeld dat “die lys oor ons waak tydens ons land se donkerste keerpunt, op die punt om die kurkdroë, petroldeurweekte hooivurke van ‘n gepeupel aan die brand te steek wat onbeskaamd in die lig na vore getree het”.

Julio C. Pino, ‘n mede-professor van geskiedenis by Kent State wat op die lys ingesluit is, glo dat dit “die vervolging, beskaming en belastering van professore verteenwoordig”.

Robert Jensen, ‘n professor aan die Universiteit van Texas te Austin, het ook sy gevoelens gelug oor die feit dat hy op die lys ingesluit is omdat hy studente leer dat “ons nie mans se geweld jeens vroue sal beëindig indien ons nie die giftige begrippe aangaande manlikheid in die patriargie verwyder… wat in beheer, verowering en aggressie gewortel is nie”.

“Dit sou makliker gewees het om dié ligsinnige projek te verwerp indien die Verenigde State nie so pas ‘n president verkies het wat pogings tot rasionele gesprek doodskree, asook reaksionêre meerderhede in beide huise van die Kongres nie,” skryf Jensen. “Ek is ‘n permanent aangestelde professor (en blank, manlik, asook ‘n VS-burger van geboorte) en is nie bekommerd nie. Maar, hoewel die groep agter die lys oor geen formele magte oor my of my universiteit beskik nie, mag die poging om professore te boelie – hoe swak dit ook al ondersteun mag wees – professore sonder my sekuriteit en bevoordeling wel inhibeer.”

Ondanks die kritiek wat die lys ontvang het, het die stigter en HUB van TPUSA, Charlie Kirk, Dinsdagaand die lys hartstogtelik verdedig op Fox News-kanaal se “O’Reilly Factor”.

“As die professore so bang is dat bekendgemaak word wat in hul lesingsale aangaan, dan is die probleem hulle s’n, nie ons s’n nie,” sê Kirk. “Ons probeer nie die dosente verhoed om enigiets te sê nie. Al wat ons hier wil hê, is om ‘n lig te skyn op wat in ons universiteite aangaan en die reaksie is ongelooflik gunstig.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.