Suidpunt: Red Afrikaans, verlos ons van die neerslagtige fiksie!

Van die giftigste resensies sal jy nie tussen die datagrepe van Netwerk24, “Literator”, “LitNet”, “Tydskrif vir Letterkunde” of selfs jou dorpskoerant vind nie. Ook nie die Suid-Afrikaanse Engelse pers nie. Hoe kan iets giftig wees as dit nie van die rede gebruik maak nie? Dit noem ons gekyf. As jy genoeg durf het, of ‘n voyeuristiese sadis is, besoek gerus die Belgiese biblioteekdiens (www.bibliotheek.be) aanlyn, kies ‘n boek en geniet die doodeerlike, nugter resensie. Die webwerf gaan ongelukkig maar saggies met Afrikaanse tekste om, maar klim soms behoorlik met die knuppel onder van die Nederlandse tekste in. Met berekende martelmetodes word rasionaliteit benut om die boeke heeltemal te ontsiel tot ‘n woordekraam van lettertjies en syfertjies – of onsamehangende inkspatsels op papier. Na omtrent een uur van martelvertoning, besef jy gou watter sagte weekdiere die Suid-Afrikaanse akademici is, wat heeltyd middelmatige werke aanprys, vergeleke met die hondsdol helhonde uit die Lae Lande wat alle mooi skeppings voor die voet tot repe verskeur. So het ek geleidelik my boekesmaak aangeleer, aan die voete van die Vlaminge.

Wat ek van www.bibliotheek.be hou is onder meer sy uitwys van byvoorbeeld Deon Meyer se “Feniks”: “Het is geheel in de hedendaagse Engelse traditie geschreven.” Nou toe nou – sou ons akademici dit opgemerk het? Wat mens dan opnuut laat wonder wat “Afrikaanse tradisie” sou beteken…

Maar is sulke uiterstes aan weerskante van die ewenaar werklik opbouend? Van hoeveel Hollanders en Vlaminge weet jy wat die Nobelprys ingepalm het? En van hoeveel werke weet jy wat uit Afrikaans vertaal is?

Soos ek op die internet rondtoer tussen Amazon.com, Goodreads en kommentaar op Facebook, wissel die resensies vanaf ‘n lakonieke “Regtig kak” (verbatim aangehaal by Goodreads oor “Aliens en engele” deur Leon de Villiers ] ), tot ‘n ewe niksseggende “hierdie verhaal was mooi”, tot ‘n breedvoerige, gekunstelde opstel waarin die leser elke fout en voordeel met groot diskresie oordra.

Hoe jy ook al hierdie resensies deurkyk, die kleinste gemene deler van fiksiewerke is “tydmors”. Laat ons nou sommer baie nugter en eerlik met mekaar wees. Want onthou, fiksie bly leuens. Om iemand se tyd te mors moet jy die leuens of ten minste halwe waarhede die moeite werd maak. Meestal gebruik mense fiksie om ‘n onderliggende boodskap oor te dra. Maar met fiksie en esoteriese boeke kan jy ‘n wye Kaapse draai maak om die loodswaar bedrukte persoon in ‘n vlinderligte gees om te tower. Jy kan ‘n woestynlandskap in ‘n paradys verander, ‘n sandbank in ‘n blommeland. Iets positiefs. Iets opbouends. Amper soos ‘n foto van ‘n tropiese tuin, wat jou laat in ‘n rustiger luim.

Wanneer jy ‘n resensie lewer, is jy geregtig om jou lewenservaring en leeservaring uit die verlede te gebruik om ‘n leesboek te benader. Dit is jou opinie. Soos jy meer soortgelyke boeke of genre lees, begin ‘n patroon in jou kop geleidelik gestalte aanneem; dalk hou jy daarvan (soos Sondagmiddagmelktert wat presies om 17:00 met koffie en dieselfde geselskap bedien word), dalk begin die herhalende intrige jou geweldig verveel en irriteer.

Jy kan fokus op wat geskryf word, maar jy kan ook fokus op wat nie eksplisiet in die teks gesê word nie, maar tog herhaaldelik hom afspeel.

Ek is nou vireers klaar met Weerwolfverhale. Ek is uitgekuier. Hoekom? Want ek het die kode ontsyfer. Dis ‘n gejaag na wind. Dit maak nou nie saak of jy “The Abused Werewolf Rescue Group” van Catherine Jinks, “The Wolf Gift” en “The Wolves of Midwinter” deur Anne Rice, die “Changeling”-reeks deur Steve Feasey, “Der Werwolf van Köln” deur Myriane Angelowski, “Die Werwölfe” deur Christoph Hardebusch, ens. lees nie, één ding staan soos ‘n paal bo water. Wanneer die mens eers dier word, of soos diere optree en dink, deur drange gedryf word, kan jy soveel stambome by MyHeritage.com tot by die dae van Adam (vir die kreasionis) of die eerste alge (vir die evolusionis) optrek om die bloedlinie te bepaal, ja, soveel bloedige veldslae tussen weerwolf en vampier/mens aanteken… of soveel mites wat daar omtrent hierdie gedrog ook mag bestaan… die feit bly soos ‘n trop beeste op ‘n Oos-Kaapse pad staan: hul doen en late het absoluut niks opbouend vir die geskiedenis of toekoms beteken nie.

Ek praat ook van mensekarakters wat soos diere en weerwolwe “in die oomblik leef”, nooit dink aan ewige nalatenskap nie, impulsiewe besluite maak, deurbringers is van tyd, geld en bloed, woestaards, nooit van die rede gehoor het nie. En eintlik leef hierdie vervloekte mensdiere maar jaar in en jaar uit soos diere in die wildernis: sonder ‘n doel en sonder ‘n toekoms. Na drie geslagte is hulle vir die geskiedenis vergete. Verskriklik. Hierdie “taal” vind ek ook in “Wolf’s Rain”, die Japannese animasiereeks: ‘n klomp weerwolwe besluit om die mensdom vaarwel te roep, op soek na die paradys. Uit die staanspoor weet jy dit is ‘n mislukte ekspedisie, want niemand weet waar dit is nie. Vir tientalle episodes moet jy maar deursit waar berge, dale, gevegte, vriendskap en vyandskap tydens die swerftog uitgebeeld word. Elkeen van hulle sterf helaas ‘n gewelddadige gruweldood, maar bereik nietemin tog die verlore paradys op die een of ander onverklaarbare metafisiese wyse. Hoe hartroerend ook al – hul impak op aarde was nul. Alles tevergeefs. Die reeks is myns insiens ‘n ramp.

Miskien is die diereryk juis daar om ons ‘n ewige teenbeeld van die mens te skets. Om ons konstant te herinner wat ons nie moet wees nie (sê dit vir die ekobeheptes…). In “Panther in Argyll” deur Lisa Tuttle ontmoet ons ‘n weerluiperdin in die mitiese Skotlandse platteland. Hoewel die hoofkarakter “vry” voel elke keer wanneer sy in die Skotse Hooglande haar menswees agterlaat en van die gebonde menswette weghardloop, weg van die skool, weg van haar voogde, weg van haar ouers wat op die punt staan om te skei, kom sy gou agter hierdie ontvlugting help nie. Jy word net aan ‘n ander stelsel uitgelewer – die Natuurwet. Onder die genadelose Natuurwet is jy voëlvry vir elke boer en jagter om geskiet of besitting te word; jou drange beheer jou onwillekeurig. Jy word uitgelewer aan die oneindige dwingelandystelsel (soos ook in “Die Jagd der Wölfin” deur Annette Bredendick verwoord) van geboorte, gebiedsafbakening, inwendige en uitwendige parasiete, tandbederf en vrot asem, vreet, veg en terugbaklei, emosielose paring, welpies grootmaak en afsterwe – alles volgens klokvaste natuurlike reëlmaat – sonder ‘n enkele werklik beduidende verandering wat jy in jou leeftyd nagelaat het. ‘n Skoolrapport waarop staan: “Hy was hier”. Punt. Behalwe miskien die bessiesaadjies wat jy deur bemesting saai elke keer wanneer jy jou knieë knak. Of die dieregetalle wat jy suksesvol kontroleer het sodra jy dikgevreet van die karkas wegstap. Of self later karkas word. Die ergste is: as dier is jy hoegenaamd nie eens hiervan bewus nie! Miskien vermy ek juis daarom onbewustelik die wildparke en dieretuine: hierdie eksistensialisme wat betref bokke, luiperds en hoenders maak my net neerslagtig. Dit is soos om ‘n gestig te besoek.

Oor ander boeke kan jy ook soortgelyke ontwikkelingleemtes uitvoerig bespreek, soos by die bekroonde “Wonderboom” deur Lien Botha. Die boek, sover ek weet, is geskryf ter voltooiing van haar meestersgraad in skeppende stelwerk (“kreatiewe skryfkuns” proe soos ‘n Anglisisme vir “creative writing”).

Was ek nou hoogs teleurgesteld in hierdie boek! Nee, ek het hierdie boek gelees nog lank voor die adjektiefoorlaaide en uiters vae Commendatio vir die  2016 KykNet-Jan Rabie-Rapportprys , omdat die Wes-Kaapse biblioteekdiens die boek as “wetenskapsfiksie” gekategoriseer het. Allermins! Daar is geen sprake van hoe die wetenskap die intrige beïnvloed nie. Ek besef mens moet elke boek op eie meriete beoordeel, en dit probeer ek ook. Maar wat moet ek maak met ‘n musikantkarakter, Magriet Vos, wat binne ‘n distopiese albinoregering haarself soos ‘n invalide gedra? Sy kla steen en been oor hongerte (en vreet spreeus), sy kla oor haar kêrel, sy mor oor verspeelde kanse, sy kla oor die toestand van die land, sy kla oor die Grensoorlog en die invloed daarvan op haar kinderjare, sy kla oor haar eensaamheid (hel, daar moet seker ‘n rede hiervoor wees?!), sy kla oor Apartheid wat tot hierdie toestande noodwendig aanleiding gegee het, sy kla oor rassisme, sy boemel op ‘n reistog voort na wie weet waar, sy verroer nie ‘n vinger wanneer die reisgeselskap aangeval word nie, en presies soos in “Horrelpoot” en “Wolf-Wolf” (deur Eben Venter) en al die ander distopiese romans eindig die karakter heeltemal met niks – kaalvoet op geboortegrond. As karakter het sy geen ontwikkeling getoon nie; die selfgesentreerde babatjie het nie ‘n snars moeite gedoen om die lewe vir haar medemens in hierdie moeilike omstandighede makliker te maak nie.

Kyk, ek is nie ‘n voorstander van gesinsgeweld nie, maar jy sal my seker nie kwalik neem as ek so taks hierdie prêm met baba en al die afgrond afstoot nie? Dat die gesanik net kan ophou…

Maar wag ‘n bietjie. Kan hierdie boek miskien as ‘n ironiese taai klap in die liberales se gesigte geïnterpreteer word (interpretasies is vry, onthou!), deur die uitbeelding van hul kinderagtige vloermoere wat geen uitwerking het op die werklikheid nie? Indien wel, aanvaar dan onmiddellik my plegtige verskoning, hartlike applous en dank. In daardie geval is hierdie boek voorwaar “’n merkwaardige toevoeging tot ons opbloeiende romanliteratuur in Afrikaans”… om nou Henning Snyman se woorde van LitNet te steel. My 0-ster op GoodReads word ‘n skitterende 5! En KykNET en Rapport het die boek ‘n prys gegee, sê jy? Ek kort Borstol Cough Remedy, ek het nou skoon ‘n hoesbui van die lag.

Maar wat het in die wêreld skeefgeloop dat daar voortdurend na die ondermaanse geneig en daar troosteloos in die modder rondgeploeter word? Kan dit wees omdat ons nie meer pioniers is wat permanent boontoe kyk en ‘n optimistiese gees moet hê ten spyte van die swaar tye nie, maar inderdaad Westerse verbruikers geword het wat veronderstel is om skuldig of ontevrede te voel oor alles? Cyberpunk doen byvoorbeeld presies dieselfde: “high tech, low life” – in wese inderdaad ook distopies. Slaan maar oor. Ook boeke soos “Die ryk van die rawe” eindig waar Ratkas kort na sy hellevaart (wat in ‘n hedonistiese orgie ontaard) in Londen voor die millenniumwending selfmoord pleeg deur in die Teems te spring. Om juis die teendeel te doen wat hy vir ander preek: hy ontduik sy eie verantwoordelikheid. Volgende, asseblief. Ek het nie sulke literatuur nodig nie.

Wanneer ek deur die biblioteek stap, word ek net bedruk soos ek na die klomp prosaïese Afrikaanse titels kyk. Kontreikuns is seker goed (soos landskapskilderye seker ook); bietjie seks herinner jou seker dat jy nog mens is van vlees, bloed, drange en hidroulika; bietjie Grensoorlogverhale herinner wat in die verlede in stof en sand gebeur het; bietjie speurverhale beeld elke misdaad in Suid-Afrika uit… maar… dis net te aards na my sin. Te plat op die aarde. Te banaal. Te selftevrede. Te ek-probeer-die-grootste-hoeveelheid-lesers-betrek-want-die-uitgewers-soek-geld. Te besmetlik. Te veel kommin kroeggrappies. Te gematig. Te gemiddeld. Hoe eksplisiet of ironies hierdie boeke ook al bedoel is – dit voel asof ek ‘n toekomsgerigte ruimteskip beman met ‘n toereteller in die rooi, dit skud, dit ruk, maar dit wil net nie opstyg nie. ‘n Helikopter waarvan die lemme al in die rondte draai en draai en draai, maar net nie van die grond af wil kom nie. Waarom moet ons met sulke neerslagtige, neerdrukkende en nivellerende boeke opgeskeep sit wat oortollige ballas is? Van waar hierdie probleemboeke wat kitsoplossings vir elke liewe sosio-ekonomiese probleem uitbeeld (asof ons nie Google ken nie)? Of beskuldigings links en regs uitdeel? Is hierdie maar net boeke wat simptome behandel? Waarom nie dan meer radikaal (uit Latyn: radix, die wortel) te werk gaan nie?

Party sal die Sestigers verwyt vir die groot skade wat hulle die Afrikaanse letterkunde aangedoen het deur hul politieke en maatskaplike betrokkenheid en die eksperimentering met die marxisme en die eksistensialisme in die Afrikaanse letterkunde. Julien Benda het dit reeds in sy Franse opstel “La trahison des clercs” (1927) gewaarsku: die Franse literatuur is besig om te ontspoor. Toenemende nadruk is in die tekste geplaas op nasionalisme, xenofobie, rassisme, marxisme en militarisme, teenoor die temas wat eintlik behandel moes word: redelikheid, rasionalisme en internasionalisme of die universele gees wat opwaarts gestu word. Hoe om die gees te stig, met ander woorde. Ander, soos Jan Rabie, verwyt in “Buidel” die 1980’ers in die Afrikaanse letterkunde wat hul van die internasionale wêreld weggeskeur het en obsessief met Suider-Afrikaanse (politiese) belange bemoei en “herwaardeer” het. Rabie wat geglo het in die pionierskap van die Afrikaner in die ruimte-eeu (vandaar die etlike wetenskapsfiksie wat hy vertaal en self geskryf het). Rabie wat geglo het: Culture for export is culture no longer (uit: “Buidel” 1989. bl. 68 ). Die vernietigende golf het uiteindelik op die strand van die 1990’s gebreek, maar nog nie teen die 2010’s besluit om terug te trek nie. Nogal jammer.

Ek hoop uit die diepte van my hart daar verskyn binnekort boeke wat hierdie distopiese en “weerwolfromans” (lees: nihilistiese romans!) sal parodieer. Ek hoop om ‘n stralende sterk karakter in daardie verhaal te vind, met matige testosteroonvlakke en harigheid, maar oorgenoeg dryfkrag, wat nie meer ‘n voorspelbare anti-held is nie, maar die spreekwoord “altiora semper” (streef altyd na hoër) of “per aspera ad astra” (deur die moeisame weg na die sterre; deur die nag na die lig), of “Non est ad astra mollis e terris via” (daar is geen gemaklike weg vanaf die aarde na die sterre toe nie) of “noli volentibus arduum” (niks is te moeilik vir hulle wat wil nie) in aller yl in sy bloedrooi habyt wil najaag. En die intrige na nuwe hoogtes voer. Hierdie ster is egter geen blinde doel of gier nie, maar ‘n middel tot ‘n doel. Met genoeg versoekings op sy pad. Moeilike versoekings. Listige versoekings. Mag dit ‘n wolf wees wat nolens volens mens wil word en sy verstandelike en geestelike vermoëns probeer oorskry, maar telkens deur die mens bedrieg word. En ten spyte daarvan tog in sy doel slaag: die wolf word mens, en streef nou na intellektuele bomenslikheid en beskaafdheid. Of verhale wat bo die materiële en stoflike welvaart uitstyg na die geestelike en intellektuele. Of wat van ‘n mens wat kyk hoeveel trappe hy tot bo kan opklim na die sware en ryp sterbehangende hemel? En die sterre van sukses een vir een afpluk? En ‘n paar in die vrugtemandjie oorhou vir ander om verder te benut? Hei, waarom die reistog alleen aanpak? Daarvoor is daar mos maats om jou te help en in die vreugde te deel, dan nie? Kom ons breek tog weg van die voorspelbare individualistiese isolasie en outsiderskap. Dis so 1950’s. 67 jaar te laat. Pioniers het mekaar nodig.

‘n Boek wat myns insiens dit amper-amper regkry is “Loeloeraai”, deur C.J. Langenhoven, in 1923. Hoewel die boek baie vermanend didakties, humanisties-humoristies (“ons sal slegs Eden bereik as ons hand in eie boesem steek”), antroposentries (mensgesentreerd) en opsigtelik sterk nasionalisties gekleur is (veral die reis na die maanparadys wat leierloos aan die kwyn is: neem leiding en beskerm dit wat joune is), was die ruimtewese op besoek, Loeloeraai, ‘n “voorbeeld” hoe die mensdom met bietjie meer verligting kan optree. Hierdie sjarmante heer (met sy beskaafde Franse diplomatiese humorsin) het o.a. oor telekinese beskik en ‘n fyn waarnemings- en beredeneringsvermoë. Loeloeraai versinnebeeld die entelechie, ‘n Aristoteliaanse begrip om na die “einddoel” of “eindproduk” van die mensdom te verwys as die strewe lank genoeg volgehou word – amper soos ‘n rusper wat skoenlapper word. Die hele mensdom baat by die vooruitgang.

Daar was natuurlik boeke soos Paulo Coelho se veelbeduidende Jungiaanse titel, “Die alchemis”, wat hierdie tema egter gekaap het: die skaapwagter wat sy skat (individuasie) gaan soek. Die probleem met hierdie Jungiaans-besielde boeke is die ewe selfgesentreerde as selfsugtige neigings, met dieselfde herhalende Gnostiese leuen: jy moet eers jouself soek en ken, voordat jy van nut tot ander kan wees. Wel, dan gaan jy lank soek… en geen antwoord kry nie: want Carl Jung se werke is ook nie op die rede of logika gegrond nie, hoor. Sterkte, in elk geval.

Net so het Sheila Cussons se spreker in haar digkuns ‘n mistieke eenwording met God gehad (soos etlike monnike en nonne glo al reggekry het), en in die proses van die heerlike omgang haar vingers verbrand as deel van die transformasieproses. Maar wat daarvan – wat het jy nou eintlik daarmee bereik? Nee wat, dit het absoluut niks vir die mense rondom jou gebaat nie. Ek beskou dit as persoonlike verwikkeling, maar geen ontwikkeling nie.

Ek ken ongelukkig te min Frans om die beskeie  Quebecse letterkunde hier te bespreek, behalwe dat ons ook hier met ‘n groep te make het wat lyk my nog pionier-denkend is in hul wetenskapsfiksie/fantasie en hul eie taal en kultuur op hul taaleiland daardeur probeer beskerm; heelwat anders as hul meer dekadente metropoolgenote in Frankryk. Dit mag dalk later tot interessante artikels hier by Praag aanleiding gee. Ons weet eintlik maar min wat in daardie deel van Kanada aangaan.

Die doodnormale sterflinge en pioniers soos ons plant maar saadjies (klein begin, aanhou win), ander mense maak die boomplantjies nat, ander bemes die bome, ander oes die vrugte van die bome vyf dekades of eeue later. Jy sien duidelike, geleidelike vordering; geen beeldestormlope, vloermoere of kamikaze-aanvalle bloot om ‘n niksseggende stelling te maak nie. Dit klink vir my heel billik en redelik genoeg. En die onbetrokke res staan eendag in verwondering en vervoering oor die digte, hemelhoë woud met talle kristalhelder kalm stroompies wat ongesiens op die onvrugbare woestyngrond van weleer aangegroei het. Maar êrens moet mens seker begin met die plantwerk. Konstruktiewe pogings werk nogal aansteeklik.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.