Trump nooi Hongarye se anti-immigrasieleier na Washington

Deel op

Die gewilde leier van Hongarye wat deur die hoofstroommedia in Engeland en Europa as “verregs” uitgekryt word, is deur Donald Trump na Washington genooi. Viktor Orbán word veral buite sy land gehoon omdat hy ‘n heining opgerig het om migrante uit Hongarye te hou.

Volgens ‘n onderhoud met Orbán wat aanlyn deur die Hongaarse sakekoerant Világgazdaság gepubliseer is, het Trump dit aan hom duidelik gemaak dat hy “‘n hoë dunk van Hongarye het”.

Orbán, wat ‘n referendum uitgeroep het om Hongarye te verhoed om in Oktober ‘n EU-kwota vlugtelinge te aanvaar, het in Julie gesê dat Trump se anti-immigrasiebeleid beter vir Europa en Hongarye sou wees.

Die regse leier het verlede jaar ‘n heining op Hongarye se suidelike grens laat bou om die instroming van migrante na Wes-Europa te stuit.

In die somer van 2015 het Hongarye die 4m-hoë heining langs sy grens van 175 km met die naburige Serwië opgerig om duisende onwettige immigrante te verhoed om die Europese Unie te bereik.

Met die Hongaars-Serwiese grens gesluit, het migrante gepoog om deur Kroasië in te dring, maar toe Kroasië die migrante na die Hongaarse grens lei, het Hongarye op 18 September 2015 met die oprigting van ‘n tweede heining op sy grens met Kroasië begin.

Orbán het Trump se oorwinning geloof, en is aangehaal dat hy meen dat Hongarye se posisie “grootliks sou verbeter” sodra Trump in die Withuis is.

Orbán het gesê: “Hy het my Washington toe genooi, ek het vir hom gesê dat ek baie lank laas daar was aangesien ek soos ‘n swartskaap behandel is, waarop hy laggend geantwoord het: ‘Ek ook.'”

“Ek dink Amerika beskik nou oor ‘n president wat nie ideologies beperk is nie,” het Orban bygevoeg. “Hy is ‘n oop persoon wat meer in sukses, doeltreffendheid en resultate belangstel as in politieke teorieë.”

Orbán het Trump se oorwinning as “uitstekende nuus” verwelkom wat die Westerse beskawing sou toelaat om tot “ware demokrasie en reguit, eerlike gesprek” terug te keer, bevry van die “verlammende beperking van politieke korrektheid”.

Die Londense Telegraph het berig dat Orbán se seun hom om 5 vm. op die dag van die Amerikaanse verkiesing gebel het om hom die nuus te vertel dat Clinton beslis verloor het. “Ek het gesê, ‘jy speel!'” herinner Orbán hom, “Ek het gedink ‘Wat ‘n dag!'”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.