Media24 kruip laag oor ‘wit gemors’-uitlating deur Landbouweekbladbestuurder

Albertus van Wyk

Die erg snobistiese mediagroep Media24 wat dikwels neerhalende opmerkings oor Afrikaners, Steve Hofmeyr en hul kleredrag maak, is besig om terug te krabbel oor die opmerking dat volgelinge van Steve Hofmeyr op Twitter “wit gemors” verteenwoordig.

Albertus van Wyk, die outeur van die gewraakte opmerking —hy het die Engelse term “white trash” gebruik —het intussen daarvoor om verskoning gevra. Omdat hy die besturende direkteur is van die Landbouweekblad, ‘n Media24-publikasie, het lesers van die tydskrif tot ‘n boikot oorgegaan. ‘n Facebook-video deur Johan Frederik Lee wat vra dat mense die tydskrif moet boikot, het tot dusver 77 000 kyke behaal.

Lees ook Redakteur van Landbouweekblad kruip weg na hy Afrikaners skel

In ‘n deursigtige poging om die tydskrif se lesers te paai, het die Landbouweekblad egter aangekondig dat sy besturende direkteur aan ‘n “ondersoek” onderwerp sou word. So pas is aangekondig dat die ondersoek sogenaamde “afgehandel is” —klaarblykblik sonder enige gevolge vir Albertus van Wyk.

In ‘n berig op die Media24-webblad, Netwerk24 word vermeld:

Die tydskrif Landbouweekblad het die ondersoek na klagtes teen Albertus van Wyk, sy besturende redakteur, afgehandel.

Van Wyk het sosiale media aan die gons gehad nadat hy ondersteuners van die sanger Steve Hofmeyr “white trash” genoem het.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het vroeër gesê dit is jammer dat die tydskrif by die twis betrek is.
Mensehulpbronbestuur het dit ondersoek en die proses is nou afgehandel.

Hy het vroeër vandeesmaand ’n verklaring uitgereik waarin hy om verskoning gevra het vir sy aanmerkings.

Wat Van Wyk se “wit gemors”-opmerking nog erger maak, is dat hy dit gemaak het ter ondersteuning van EFF-ondersteuners en ander radikale groepe wat Oom Paul se standbeeld op Kerkplein beskadig het.

Dr. Dan Roodt van PRAAG het kommentaar gelewer deur te sê:

“Die kontras tussen die Albertus van Wyk-geval en die soort behandeling wat ‘n Penny Sparrow of ‘n Chris Hart vroeër vanjaar ontvang het, kan nie groter nie. Dit is duidelik dat die media in Suid-Afrika witmense en dan spesifiek Afrikaners as vrye wild beskou wat na willekeur beledig kan word en waarteen selfs gewild sonder enige gevolge aangehits kan word. Die soort geweld en vernielsug wat Albertus van Wyk en ander Media24-joernaliste teen die Kruger-standbeeld aanhits, is ook teen ons Afrikaners self gemik. Dit is laakbaar.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.