E-boeke – seën of vloek?

Deur die loop van die jare, selfs hierdie afgelope Dinsdag (15 November 2016, toe nóg ‘n pakkie by die poskantoor op my wag), het my gedrukte boekhandelaars gewissel van vlooimarkte, hospieswinkels, dierewelsynwinkels, winkels vir kerklike welsyn, antikwariate, hoofstroomboekwinkels – die meeste te vinde in Hermanus of Montagu. Asook die boekmark by ons dorpsbiblioteek (die geld in die blikkie word dan aangewend om skryfbehoeftes vir tema-uitstallings in die biblioteek aan te koop). Ek vertrou nie sommer webwerwe met my kredietkaartbesonderhede of woonadres ens. toe nie. Ek verkies kontant, EFT of regstreekse betalings met ‘n enkele goue kaartsleep.

Maar laat ek geen geheim daarvan maak nie: ek soek altyd eers op die Wes-Kaapse biblioteekwebwerf of die boek by my naaste biblioteke beskikbaar is. Ek koop nie boeke links en regs nie.

Die heel eerste boek wat ek in my lewe gekoop het was seker die Russiese tweegesprekboekie met die twee kolomme weerskant in Engels en Russies afsonderlik deur A.R. Thompson. Die boekie is in 1882 uitgegee. Ek dink ek het dit iewers in Hermanus gekoop by ‘n winkel bekend as Papillon (“skoenlapper” in die Frans, verneem ek). Dit was nog R10,00 (in 2002?), omtrent twee weke se sakgeld. Die taal in die boek is, nodeloos om te sê, so verouderd, slegs ‘n Slawis sal om taalkundige redes daarin belangstel. Maar ons almal weet ek het die gedrukte boek oor die jaartal gekoop. Wat mens laat wonder oor die verouderingswaarde van die e-boek…

My eerste tydskrifkopie verloop anders. In 1999 het my klasmaatjie tydskrifte saamgebring wat sy ouma vir hom gekoop het: “The Lion King: A Nature Fun and Learn Series” uit die jaar 1994 en verder. Die tydskrifte het ‘n groot Britse pondteken op die voorblad gehad, duidelik nie van hier rond nie. Teen die vierde uitgawe staan daar “South Africa: R7,95”. Kan ons dit Africana noem? Ek kon my verkyk aan die prentjies, veral die vervolgverhale met Simba, Timon en Pumbaa se oerwoudavonture. Daar was ook pretaktiwiteite vir kinders. Ek onthou nou nog hoe ek hierdie tydskrifte (alles in die geheim!) by my klasmaat oorgekoop het (met sy ouers se goedkeuring!), solank die ander skoolmaats dit net nie sien nie (om diefstal te voorkom, en miskien omdat ‘n 13-jarige in 2003 eerder met meer volwasse leesstof vereenselwig moet word…). Seker so tien uitgawes, ek wil nou nie lieg nie. Teen R30,00 vir almal. Die transaksie is in die afgeleë afrolkamer by die skool beklink. Toe my ouers my op heter daad betrap waar ek iets skelm onder my bed inskuif, was hulle maar net te bly hul ergste bekommernisse is verkeerd bewys: dis darem nie dwelms nie. Ouers darem.

Sedert 30 November 2015 is die volledige reeks (van 80!) tydskrifte by archive.org te vinde, hoewel ek al die verhale reeds by lionking.wikia.com gaan aflaai het. ‘n Mens lag vandag vir die strooiligte intriges van hierdie verskynsel in die 1990’s – maar die heel laaste verhaal bly my by: die sonsverduistering kan sprekend wees van die millenniumangs. Angs vir die onbekende is van verbygaande aard. Dalk sprekend van my eie verbygaande angs vir die e-boekbedryf?

Toe e-boeke al hoe meer die hoofstroom begin binnekom, het ek ook aanvanklik vas geglo dit is die oplossing vir almal se probleme. Geen bome wat afgekap word nie, petrol wat bespaar word, ruimer en stoflose kamers wat makliker skoonmaak, ideaal vir stralerjakkers, onmiddellike beskikbaarheid, geen vergeelde of muwwe bladsye wat stink nie, woorde wat jy vinniger in die boek kan naslaan (tyd wat bespaar word), veerligte bronne wat jy duisend maal duisend keer kan kopieer en berg (beter as om uitgelewer te word aan mot, roes, vismotte, diefstal en brandstigting, of skerpioene en spinnekoppe te herberg) en spotgoedkoop pryse. Boeke uit elke uithoek van die wêreld wat jy sonder probleme kan koop. En dis tog so modern! Bietjie vir bietjie is ek ontnugter.

Met van my prysgeld wat ek deur die universiteit vir verdienstelikheid toegeken is, het ek besluit om vir my ‘n piepklein tabletrekenaartjie te koop. Vir kragonderbrekings, jy weet. Sommer die goedkoopste een, so R999,00. As dit sou breek, is dit ten minste nie R10 000 wat in die water gegooi word nie. ‘n Skootrekenaar kan so ‘n lomp ding wees, laat staan nog jou toring (die een waar ek die meestal voor twee vloeikristalskerms deurbring). R1 van die prysgeld het oorgebly.

Wat ‘n teleurstelling: die tablet(jie) was te stadig na my sin. Jy kan nie die boek gemaklik op die skerm rondskuif soos dit jou pas nie (veral nie as die .pdf afgetas (scanned) is nie). Jy kon nie die Android-weergawe 2.2 verder op bywerk of verbeter nie. Jy kon die skrif hoogstens 400% vergroot (dit beteken: 4 maal), die battery het skaars 2½ uur gehou, die lys gratis boeke waarvan jy kon aflaai by manybooks.net wou nie verder afblaai in die alfabet nie. Om die waarheid te sê het ek die tablet later net gebruik om YouTube-musiekvideo’s mee te kyk. Ek kon darem die volledige “Dracula” van Bram Stoker met plesier klaar lees. Om ‘n lang storie kort te maak: my knie het eendag per ongeluk die skerm getref – en dit was klaar met kees. Nou juis in daardie maand toe ek toeps (apps) begin ontdek het. Nou juis die enigste dag in my lewe wat ek nie die blikbrein by die huis gelos het nie. Vreemd genoeg het die hele tragedie my net Siberies koud gelaat. Ek wil nooit weer ‘n tablet hê nie.

In my voorgraadse universiteitsjare was Google Play eintlik nog nie in Suid-Afrika bekend nie. Van Amazon het ek min geweet, behalwe dat skelms vir jou e-posse stuur om geld uit jou te melk. My pa-hulle het ‘n Kalahari.net- en later Kalahari.com-rekening gehad. Desember 2014 was die laaste keer wat ek daar ‘n e-boek laat aankoop het. Eers het ons van die Kalahari eReader gebruik gemaak, maar later word die reëls deur die maatskappy herskryf. Sodra die boek aangekoop is, het ek onmiddellik my pa se rekening op my rekenaar oopgemaak, die wagwoord laat intik, en die boek se .acsm is afgelaai. Daarna word die boek volledig op jou Adobe Digital Editions 1.7.1 afgelaai. Sonder probleme. Ook die ouer boeke op die eReader kon op Adobe Digital Editions 1.7.1 gelees word. Ek het nooit nodig gehad om my naam te registreer nie.

Google Play het ek voor Amazon probeer baasraak. By ons is ‘n Checkers, waar ek my Google-kaart by die betaalpunt koop, oorloop na Money Market (langs die kiosk) en dit daar laat aktiveer. Amper soos selfoonlugtyd. So dom soos mens is, weet jy mos nie jy moenie die krapkaart se silwer aftrek nie, maar met ‘n pendoppie oopskrap, soos krapkaarte. Amper het ek ‘n paar nommers weggeskeur. Nog ‘n probleem is die H wat soos M lyk, of die syfer 0 wat soos die letter O lyk. Verder volg jy maar net die aanwysings op die kaart self. Soos ek reeds geskryf het in DisQus: Dan Roodt se boek, Raiders of the Lost Empire , was my heel eerste boek wat ek daar gekoop het. Daarna sou heelwat musieksnitte van Enya en nog meer boeke volg.

Oor Appleprodukte en iBooks weet ek absoluut, gans en al, heeltemal niks. Hic sunt dracones. Ek sien ook net die kaarte by Checkers se betaalpunte hang. Sover ek weet werk hierdie produkte net op Apple-produkte.

Vir Amazon is ek nou nog so bang soos ‘n Bolander vir donderweer. Ek besluit eers om by Amazon.de aan te sluit, omdat ek my kan indink hoe Amazon.com outomaties sou regionaliseer na boeke in die mees waarskynlike taal wat in jou land gelees sal word, naamlik Engels. Duitse en selfs Nederlandse boeke word vir die een of ander rede in Suid-Afrika gesper (terwyl Google Play slegs sekere boeke sper, en ander weer nie*), en dit het ek juis probeer keer.

Ongelukkig het Amazon onmiddellik gesien my IP-adres kom uit Suid-Afrika en geen van die gratis boeke op die Duitse Amazon kan afgelaai of aangekoop word nie. Ook nie deur die Franse, Spaanse, Italiaanse, Nederlandse of Indiese Amazon nie. Hoe presies ek die Kindle for PC geïnstalleer het, kan ek nou nog nie onthou nie. Net dat dit soos ‘n droom werk. Alle boeke wat jy vir $0,00 aankoop, gaan summier soontoe. Jy hoef dus nie soos by Google Play via webleser die boek te lees nie. Daar sal egter nog heelwat water in die see moet loop voordat ek Amazon met my bankkaart vertrou… [*Daar is ‘n wet in Duitsland wat die Duitse boekkleinhandelaars op hierdie manier probeer beskerm.] Om boeke dus vryelik van regoor die wêreld te koop en te lees? Wensdromery. Nog ‘n mite van e-boeke weerlê.

Tot Dinsdagaand, 15 November 2016, het ek geen idee gehad hoe om Google e-boeke op jou PC (Windows 7+) te kry nie. Ek het maar aangeneem dit is slegs vir mense met Android-toestelle (want daar word mos voortdurend gepraat van Toeps/”Apps”, wat uiters verwarrend is: is dit nou vir Windows 8+ of vir Android en OS bedoel? Of is dit Applications (Toepassingsprogramme) vir alle rekenaars?). Die volgende stappe vind ek toe uit moet gevolg word:
1. Laai Adobe Digital Editions 4.5 af.
2. Skep vir jou ‘n Adobe-rekening op die Internet, met jou e-posadres en wagwoord (ek het sommer my Google-een gebruik).
3. Soek in jou profiel rond vir “verify” sodra jou rekening gestig is. Klik daarop.
4. Aktiveer jou Adobe-rekening deur die boodskap wat jy via e-pos (in my geval GMail) ontvang.
5. Gaan terug na Adobe Digital Editions, gaan na die werkbalk bo, klik op Help, en klik Erase Authority (amper soos mens ‘n outydse “stiffie” of slapskyf sou formateer, of skoonmaak, voordat jy iets daarop kan laai)
6. Nou gaan jy na Help en klik: °Authorize Computer°. En vul jou Adobe naam en wagwoord in. Maak seker die blokkie onder is oop.
7. En herbegin ADE (Adobe Digital Editions).
8. Gaan na Google Play, gaan na jou gekoopte boeke toe, klik op die stippeltjies op die duimnael van elke boek afsonderlik en klik op Download .epub of Download .pdf.
9. Die tipiese .ascm-lêer word afgelaai.
10. Klik op die .ascm-lêer en siedaar! Die boek word voor jou oë afgelaai.

Die Google Boeke kon met gemak begin aflaai.

Min het ek geweet wat sou volg… Skielik kon ek geen van my ou Kalahariboeke meer lees nie.

Ek het absoluut alles probeer:
1. Probeer die ou “geslote” Kalahari eReader. Niks gebeur nie, want die ou webwerf bestaan nie meer om die produkte uit die “wolk” aan te vra en af te laai nie. Ek kan ook nie ou .epub’s en .pdf’s met hierdie program lees nie.
2. Probeer die ou .acsm’s uit 2014 met ADE. Niks gebeur nie, want die ou webwerfadres is lankal dood.
3. Probeer die nuwe .acsm’s op Takealot.com van my pa se rekening. Die program weier om elke .acsm te aanvaar, want dit was vir iemand anders (‘n ander ID) bestem. Oeps.
3. Probeer die ou .epub’s en .pdf’s lees. Die program weier, want dit was vir iemand anders (‘n ander ID) bestem.
4. Probeer die ou .epub’s en .pdf’s met ‘n ander leserprogram lees. Dit kan nie, want die boeke het DRM (Digital Rights Management).
5. Ek stroop die program van sy gesag (“erase authority”), en probeer die ou .epub’s en .pdf’s lees: jammer, maar die “Vendor ID” moet toestemming gee. Die ou .ascm’s werk ook nie. En die “nuwes” ook nie.
6. Op die skootrekenaar begin ek ‘n oeroue program oplaai (Adobe Digital Editions 2) om die ou .epub’s en pdf’s te lees. Dit werk nie – die “Vendor ID” moet toestemming gee. Ook die .ascm’s wou nie vat nie.
7. Ek het elke keer ook op my rekenaar Adobe Digital Editions 1.7.1 probeer – maar op onverklaarbare wyse het ook hierdie programweergawe sonder my medewete my naam registreer en gesinkroniseer met Adobe Digital Editions 4.5!
8. Ek kon seker die DRM verwyder, maar grens dit nie aan misdaad nie? En watter program sal nogal hiermee werk?
Sou dit nou beteken ek moet vir my spesiaal ‘n Androidtablet gaan koop om die “nuutste” Kalahari-e-leser af te laai (as dit ooit nog bestaan en werk!)?

Gelukkig herinner Pa my toe aan Windows se Restore Point. Ek laat loop die program terwyl ek my onder die stortkop reinig van die dag se sondesweet. Nadat ek van die stort vars teruggekeer het en die rekenaar herbegin het, is alles weer doodnormaal soos voorheen: ADE 4.5 is uitgevee, die wysiging van die register (“registry”) het nooit plaasgevind nie, en ek kan my ou Kalahariboeke weer lees. Ek slaak ‘n sug van verligting. Die probleem is opgelos.
As ek geweet het wat ek vandag weet, sou ek slegs my skootrekenaar die ADE 4.5 oplaai, dan die “Authority” of gesag gee, en dan al my Google Boeke slegs op my skootrekenaar aflaai. Op my tafelrekenaar bly slegs my ou Kalahariboeke.

As ’t ware Apartheid tussen die onversoenbare boeke. Juis waarmee ek Woensdagaand mee besig was. Net jammer my skootrekenaar sukkel om .NET 4 Framework af te laai om Adobe 4.0+ te aanvaar. Donderdag hang hy nou 8 ure lank rond by presies dieselfde venster in Windows Updates: “Checking for Updates”… geduld, Suidpunt, geduld. Vanaf 07:00 (of 08:00) tot omstreeks 19:00 het die rekenaar geloop. Toe word ek triomfantelik meegedeel: 483 MG (megagreep) se bywerkings wag op jou. Kies net die noodsaaklikste en ja, daar gaan hy. Teen 21:15 is die meeste van my boeke nou veilig op my skootrekenaar. Ek voel tevrede.

Net daar en dan het ek besluit: kry vir jou ‘n afsonderlike los hardeskyf en maak ‘n deeglike .bak-lêer met Windows Backup: as enigiets nou met jou liewe hardeskyf op jou hoofrekenaar (die toring) moet gebeur, is daardie ou Kalahariboeke vir ewig vir die nageslag verlore.

Hierdie is een van die gevolge van e-boeke wat ek dink onvoorsien was. Soos die maatskappye se neiging verander om aan te pas, eers deur ‘n e-leser soortgelyk aan Kindle te maak, maar dan later na ‘n stelsel soortgelyk aan Google oor te skakel, wissel ook die leesbaarheid van ou produkte met die nuwes wat aangekoop word.

Reeds nou met Google Play kan ek steeds Raiders of the Lost Empire aanlyn lees, maar ek sukkel om hom (en Panther in Argyll deur Lisa Tuttle) af te laai op my skootrekenaar, bloot omrede dit twee van my oudste kopies met ‘n Google-kaart was. Die teks verskyn: E_GOOGLE_DEVICE_LIMIT_REACHED. Ek kan nie verklaar hoekom nie: my tablet het tog gebreek in Maart/April 2015, lank voor ek Google-kaarte ontdek het in Desember 2015. Op watter toestel kon ek die boeke dan installeer het? As iemand anders vandag dieselfde boeke sou koop en aflaai, glo ek daar sal geen probleme wees nie.

Dus, jy kan nie een boek soveel keer kopieer soos jy wil nie. Nog ‘n mite daarmee heen. Maar my probleem is tans geensins onoorkomelik nie: ek skryf net vir Google ‘n briefie en die saak word uitsorteer. Maar veronderstel Google sou ophou bestaan soos dit met Kalahari.net en Kalahari.com die geval was (al word die maatskappy ook oorgeneem of saamgesmelt, verander die reëls, webadresse, ensomeer). Dieselfde wat met gebruikers oorgekom het wat leesboekies op MXit aangekoop het: MXit het gesluit – en jou boeke is saam met die bedieners afgeskakel. Dink ook maar aan boeke wat jy spesifiek vir jou selfoon aankoop wat nie na ‘n ander oorgedra kan word nie: vrek jou foon, vrek alles saam (as dit nie op ‘n geheuekaart geplaas kan word nie). Of wat as die Internet vir weke lank af is? Ons moet hipoteties daaraan dink.

Iets wat my sedert gisteroggend (18 November 2016) hinder is die wetlike aspekte van Afrikaanse letterkunde as e-boeke. Ek praat van die openbare besit. Volgens die Suid-Afrikaanse wet is boeke in die openbare besit sodra die skrywer 50 jaar en langer oorlede is. Ander werke, soos dié van oorlede Ingrid Jonker, is weer deur Jack Cope oorgeneem, wat my nou laat wonder of haar werke nou in die publieke domein is, of nie. Sy is tog langer as 50 jaar dood, is sy nie? Dan is daar diegene soos oorlede J.C. Kannemeyer wat lyk my al sy werke aan die Hollandse databasis dbnl.nl bemaak het, wat eintlik heel bedagsaam van hom is (maar waarskynlik minder bedagsaam vir sy naasbestaandes en uitgewers, ek praat onder korreksie) – want nou is selfs sy jongste werk oor Jan Rabie byvoorbeeld vryelik toeganklik vir die wêreld. Maar hoe nou gemaak om boeke te ont-DRM wat jy reeds by ‘n maatskappy gekoop het? Gaan die maatskappye DRMs skep wat vanself in jaar X sal verval (net sodat mense hul horlosies vorentoe kan stel op die rekenaar om die boek onmiddellik te begin rondversprei)? Of gaan jou e-boeke enigsins nog leesbaar wees na afloop van 10, 20 of 30 jaar soos die programmatuur heeltyd aangepas word?

Vandag, 19 November 2016, het ek weer die keersy beleef (ja, in my lewe gebeur alles in één week): watter wonderwerk e-boeke werklik is vir die gewete. Ek het maande uitgestel om my gedrukte (papier)boeke in drie hopies te sorteer: boeke wat ek gereeld gebruik, skoolboeke (Aardrykskunde, ens.: iemand kan dit nog gebruik) en boeke wat ek selde of nooit sal gebruik nie. Die boeke op die laasgenoemde hopie raak nogal baie: tweedehandse woordeboeke en taalboeke van Afrikatale, Frans, Italiaans en Russies, Sweeds, Noors, tweedehandse fiksie wat klaar gelees en op Goodreads resenseer is, en boeke wat ek impulsief gekoop het en nooit sal lees nie (ou sielkundeboeke, gevorderde, horingou mediese boeke en andere). Party pakke tydskrifte weeg tot 10,5 kg.

Sien, sedert 2012 tot 2016 het ek ook ‘n kompulsiewe tweedehandse boekkoper geword: jy moet alles weet; jy moet vergoed wat jy nie op hoërskool geleer is nie; jy moet meer weet as ander; jy moet jou portuurs (en seniors!) altyd een voor wees; jy moet inligting bekom wat vir ander onverstaanbaar is; die lewe draai om kodering en dekodering; jy moet boeke koop wat jy onmiddellik byderhand kan hê – want jou universiteit is 1 000 km+ van jou af. Hoe ouer die bron, hoe beter. Jy sal mos eendag daarvoor tyd kry, nie waar nie? En nou sit jy met ‘n lompe, loodsware en stowwerige probleem.

Iewers moet jy eenvoudig besef: minder is meer. Om te kyk hoe ver jy jouself kan druk en dryf is geen probleem nie – dit is trouens baie gesond, dit baat die hele samelewing in die proses. Dit is egter die grootheidswaansin wat wel ‘n probleem raak. Ja, een taal is seker nooit genoeg nie (en ek sou ook dolgraag Le Loup-garou (1843) deur Élie Berthet op Google Books wou lees, want ek vrek oor weerwolfverhale ), maar daar bestaan ook iets soos gehalte bo hoeveelheid. “Hoe goed ken ek my eie taalakker?”, byvoorbeeld. Ek is vandag gedwing om my eie perke te erken: ek het nie genoeg selfdissipline of tyd om selfs vier tale behoorlik baas te raak nie. As jy in 1600’s geleef het, het die gesprekke hoofsaaklik oor melkpryse en die gesteldheid van Bontlies die koei gehandel. Jy kon die taal binne een maand leer. Die woordeskat was maar min, maar het sy doel gedien. Maar vandag is die aantal woordeskat soveel meer om by die moderne en tegnologiese era aan te pas: in die toekoms selfs méér! En die nuanses en betekenisse verander en wissel soos die mense se giere, groepsdinamiek en tydsgees hul pas. Dis net soveel méér nuwe en verouderde woorde, clichés en spreekwoorde om aan te leer. In formele en informele hoedanigheid. Op die ou end moet jy jou maar toespits op twee, drie, hoogstens vier vreemde tale waarin jy regtig belangstel. Nie agt of vyf-en-twintig nie.

Ondertussen bly die pakplek maar knap soos ek werskaf. Na alles wat ek in die vorige paragraaf beleef het, tref ‘n skuldgevoel my nou teen middagete: gestel mens koop ‘n gedrukte boek (uit druk) wat jy nooit sal gebruik nie, maar iemand anders nodig het, maar jy laat dit aan die vergetelheid oor… is dit nie sonde in die ergste graad nie? Sou Calvyn ooit so iets op skrif beredeneer het? Ek was vreeslik ontsteld oor ‘n Latyn-Hollandse woordeboek uit die 1920’s wat nooit gebruik is nie: toe ek die boek gekoop het (vir R45,00), was die vilt-omslag al geblaas, die eerste paar bladsye het vismothappe weg. Solank die boeke op die nuwe, tweedehandse of biblioteekrak is, is dit die publiek se eie onnoselheid as hulle nie die produk koop nie. Maar bewaar die een se siel wat die skaars bron wel koop en nooit nuttig aanwend nie… En nou pleeg ook ek hierdie einste sonde! Alle bibliomane pleeg hierdie sonde.

Jy sien, met e-boeke is jou gewete, ironies genoeg, skielik engelrein: jy kan e-boeke nie uitleen nie, jy kan dit nie uitruil nie, jy kan dit nie oordra aan ander tensy jou testament dit so bepaal nie, jy kan dit nie weer verkoop nie, jy kan dit nie verhuur nie, jy kan dit nie laat opmuf nie… En koop jy die e-boek ontneem jy niemand die reg om hul eie aan te koop nie. E-boeke sus die gewete. Geen haan sal oor die 1 500 ongeleeste boeke in jou Kindle-versameling kraai nie…

Suidpunt

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Betzie van Rensburg

    Suidpunt, jy skryf heerlik .

    Gedrukte boeke wat innig in mens se geheue-hart anker , het potloodwoorde en lyne in , omvou-oortjies wat atmosfeer sinne uitlig, geparste blom en blaar, sagte veertjies wat met herinnering resoneer en ouderdomsgeure wat jou binneste kan omdop.

  • Rooikop

    Ek hou nie van e-boeke nie. (Al is ek al van 1981 met blikbreine deurmekaar). Ek sukkel steeds om boeke en lang dokumente op die rekenaar te lees (selfs met my GROOT skerm wat ‘n hele bladsy op ‘n slag wys).
    Ek het die redes hiervoor al ontleed. Ek verloor konteks op die rekenaar. As jy wil terugblaai is dit grotendeels ‘n linieêre proses, nie ‘n vinnige omblaai van ‘n klomp blaaie nie. Dit is ook moeiliker om aantekeninge te maak – of selfs net die hoekie om te vou as jy vinnig weer by iets wil uitkom (Hierdie doen mens natuurlik net met goedkoop slapband boeke).
    Tweedens vind ek dat my leesspoed op elektroniesemedia aansienlik laer is as met gedrukte media – selfs soveel as ‘n twee derdes minder.

    • Kalium_Chloraat

      Ek stem met alles wat jy hier sê saam.

      • Rooikop

        Dankie ek sal gaan kyk – net jammer ek kom so min in daardie geweste.

        • Kalium_Chloraat

          Wil kyk of ek nie in Desember daar kan uitkom nie.

  • Ciska

    Heerlik, heerlik, heerlik! Ek stem half saam met jou oor die blikbreine, maar vat vandag net ‘n kind (30 jaar en jonger) se selfoon weg, en daardie arme mense is verlore. Nee kyk, ek is nog van die ou garde; daar is niks soos die reuk van ‘n boek nie! Nie die houterige reuk van ‘n nuwe boek, of die verdwaalde “ietse” tussen die blaaie, of ene wat al uitmekaar val nie, boeke is wonderlik. Ek loop liewer vir ure in ‘n tweedehandse boekwinkel en snuffel ietsie uit voor ek my tyd met ‘n selfoon of rekenaar of tv verwyl. Soms wonder ek wat gaan word van dei amper 2000 wat ek op my rakke het!

  • leonlemmer

    Suidfpunt, ek hou van die soort lewe van die gees wat jy lei en van jou skryfstyl. Die meeste boeke wat ek lees, is e-boeke van Amazon omdat ek so ‘n boek binne ‘n minuut kan aflaai, hulle meesal nie in die plaaslike boekwinkels beskikbaar is nie en hulle nie pakplek verg nie. Die sowat drie duisend rand belegging wat ‘n Amazon Kindle-leesmasjien aanvanklik verg, is oor en oor die moeite werd. Dit het my lewenskwaliteit ‘n hupstoot gegee.

  • Kalium_Chloraat

    Ek hou van boeke se gevoel en reuk. Ek hou van die reuk van 2dehandse boekwinkels. Ek hou daarvan dat ek papierboeke kan gee vir wie ek wil. Ek hou van om in hulle te blaai. Ek hou daarvan dat die diagramme daarin eintlik werk. Hulle breek nie, hulle batterye raak nie pap nie. Al voordeel vir my van die e-boeke is dat ek ‘n hele vrag kan saamry wanneer ek met my motorfiets toer of saamtrekke toe gaan. Ek vind ook dat ek baie langer papierboeke kan lees as die elektroniese soort. Papierboeke, dis die lewe vir my.

  • G

    Ironies is dit net aanlyn waar ‘n mens mense raakloop wat dieselfde voel oor papier.