NWU se klasgelde styg

Deel op

’n Besluit om klas- en koshuisgelde by die Noordwes-Universiteit (NWU) met 8% in 2017 te verhoog is na aanleiding van ’n diepgaande analise van die universiteit se finansiële posisie geneem.

Die woordvoerder Louis Jacobs sê verder die besluit is verlede week Donderdag tydens ’n raadsvergadering geneem.

Die verhoging sal egter nie vir studente wat vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer geld nie. Studente wie se huishoudelike inkomste meer as die NSFAS-drempel, maar minder as R600 000 per jaar is, word ook nie deur die verhoging geraak nie.

Volgens Jacobs sal die goedgekeurde verhoging deur die regering in die vorm van ’n toelaag – die sogenaamde “gapingsbefondsing” – aan die universiteit betaal word.

“Studente met beurse wat alle uitgawes dek sowel as studente wie se huishoudelike inkomste meer as R600 000 per jaar is sal nie vir die gapingsbefondsing kwalifiseer nie. Soos in die verlede sal alle studente tydens registrasie hulle registrasie- en minimum betaalbare gelde moet betaal. Slegs NSFAS-goedgekeurde studente en studente wat deur ander goedgekeurde borge befonds word sal van hierdie betalings vrygestel word en sal tydens registrasie stawende dokumentasie in hierdie verband moet toon”, voeg Jacobs by.

Luidens die NWU se webtuiste sal studente wat om watter finansiële rede ook al nie kon registreer nie, individueel op elk van die drie kampusse in Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng gëevalueer word. Daar sal op meriete besluit word hoe dié studente gehelp kan word met beskikbare geld, sodat soveel moontlik akademies verdienstelike, maar behoeftige studente wel kan registreer.

Bron: OFM

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.