Tenkwa ontplof in Mosambiek toe diewe brandstof steel

Deel op

Die Mosambiekse owerheid het ‘n ondersoekspan na die Tete-provinsie naby die Malawiese grens gestuur, waar minstens 73 mense dood is toe ‘n brandstoftenkwa ontplof het. Meer as 100 mense is beseer.

Talle verkoolde lyke het versprei gelê na die ontploffing in die dorp van Caphiridzange, en regeringsamptenare glo meer liggame kan in die omliggende woude wees, het Radio Mosambiek berig.

Sommige erg verbrande mense het probeer in ‘n nabygeleë rivier lafenis te soek, het die radiostasie gesê.

Volgens media in dié land het die tenkwa omgeslaan waarna mense brandstof daaruit probeer tap het.

Die vrag het toe aan die brand geslaan.

Volgens regeringsamptenare bestaan die moontlikheid dat daar brandstofverkope plaasgevind het toe die ontploffing gebeur het.

Die tenkwa was van die hawestad Beira na Malawi onderweg, maar het van die pad afgedraai, vermoedelik om van die brandstof te steel en op die swartmark te smous.

Mediese spanne het na die ongelukstoneel gehaas, en die beseerde in ambulanse en ander voertuie weggevoer.

Die oorsaak van die ontploffing was nie onmiddellik duidelik nie. Die Portugese nuusagentskap Lusa het gesê een teorie was dat ‘n brand naby die tenkwa die ontploffing veroorsaak het, terwyl ‘n ander teorie wys na ‘n weerligstraal wat die diewe geslaan het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.