Hani-moord weer opgerakel

Deel op

‘n Boek deur politieke kommentator RW Johnson het destyds omstredenheid oor die sluipmoord op Chris Hani en die beweerde rol van Thabo Mbeki asook die voormalige minister van verdediging Joe Modise, veroorsaak.

Tydens die SAKP se 2007-kongres het die nuutverkose voorsitter Gwede Mantashe die liedjie “Thabo Mbeki, vertel ons wie het Chris Hani vermoor” gesing. Die Jong Kommunistiese Liga het herhaaldelik versoek dat die ondersoek na die dood van Hani heropen word.

Die boek is in 2009 vrygestel, waarin Johnson sê dat Modise, hoof van Umkhonto weSizwe in ballingskap, die meeste voordeel getrek het uit die uitskakeling van Hani en hy het waarskynlik die middele gehad om stilweg die regse aanslag teen Hani deur Janusz Walus en Clive Derby-Lewis in 1993 te steun.

Johnson sê dat Mbeki dalk nie regstreeks oor die Modise-plan ingelig is nie, maar dat hy Modise beskerm het met betrekking tot die wapentransaksie wat laasgenoemde verryk het. Modise was ‘n Mbeki-bondgenoot.

Johnson skryf dat in die 1950’s was Modise ‘n “township-boef”, ‘n leier van die gevreesde Spoilers-bende in Alexandralokasie. Hy het later Nelson Mandela se lyfwag geword en ‘n stigterslid van MK.

Voormalige MK-lid Sibusiso Madlala sê Modise was heeltemal genadeloos en dat hy oor massamarteling en teregstellings in MK se strafkampe soos Quatro toesig gehou het.

In 1968 het Hani ‘n bekende brief aan die ANC-leierskap gestuur om te kla dat, terwyl MK-soldate in die kampe ly, leiers soos Modise, wat hy by die naam genoem, steeds in weelde leef.

Modise was bekend vir sy uitspattige leefstyl in Zambië, deels deur gesteelde motors wat hy en die ANC se tesourier Tom Nkobi gefinansier het, skryf Johnson.

Modise wou Hani en sy mede-ondertekenaars glo gaan stilmaak na die brief. Hulle is net gered deur Oliver Tambo se ingryping.

Hani was Modise se direkte mededinger en aansienlik gewilder in MK. In Suid-Afrika is Hani beskou as Tambo se opvolger, eerder as Mbeki.

Johnson skryf dat Hani in 1993 vir Modise gekonfronteer het oor ‘n onderduimse wapentransaksie vir miljoene: “Twee weke later is Hani oodgeskiet.” Johnson sê hy is van mening dat die bewyse dat Modise ‘n dubbele agent was, is “oorweldigend”.

Johnson argumenteer dat die intelligensiedienste van die ANC en die Nasionale Party-regering, saamgewerk het om ‘n sluipmoordkomplot deur Walus en Derby-Lewis met onsigbare hulp aan te help.

Walus het “die skoot afgetrek in die teenwoordigheid van ‘n wit vrou, wat in staat was om ‘n beskrywing van hom, sy motor en sy registrasienommer te gee en nogtans het hy [Walus] self haar nie gesien nie.”

Die getuie het verdwyn en Walus is in hegtenis geneem 10 minute nadat hy van die toneel weggery het.

Die weduwee van die voormalige leier van die SAKP, Limpho Hani het gissings dat oudpresident Thabo Mbeki by haar man se moord betrokke kon wees, met minagting verwerp.

Hani het gepraat tydens ‘n geleentheid waar die Ekurhuleni Metroraad planne bekend gemaak het om die gesin se voormalige huis in Boksburg in ‘n museum te omskep.

Volgens berigte het wyle Clive Derby-Lewis toe hy deur senior ANC-leiers ondervra is, ontken dat Mbeki by die moordkomplot betrokke was.

Hani het gevra dat enigiemand met inligting die polisie of die Valke moet nader en nie ANC-leiers se name deur die modder probeer sleep nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.