Duitse diepsee-navorsingsboot ondersoek ‘opwelling’ aan Namibiese kus

Die Meteor, ‘n Duitse navorsingsboot wat onder meer in die diepsee langs die Namibies-Angolese kus watertoestande ondersoek, het Walvisbaai Maandag aangedoen.

Dr. Kerstin Jochumsen, hoofnavorser aan boord van die Meteor, het ‘n voorlegging gedoen oor die wetenskaplike sending waarmee die span tans besig is en besoekers die boot gewys by ‘n onthaal vir Namibiese regeringslui.

Die Duitse ambassade in Namibië sê in ‘n verklaring die Meteor is ‘n multidissiplinêre navorsingsboot wat hoofsaaklik in die diepsee werk.

Dit behoort aan die Duitse federale ministerie van onderwys en navorsing.

Die boot doen sedert 2013 baanbrekersnavorsing oor onder meer die verskynsel van “opwelling” langs die Namibies-Angolese kuslyn. Dit kom voor wanneer digter, kouer water deur die wind na die oppervlak van die oseaan gedruk word en dit die warmer oppervlakwater vervang. Die rol wat dit speel in die uitruiling van hitte tussen die water naby die kus en dié in die diepsee, word ook ondersoek. Luidens die verklaring word kapasiteit ook gebou onder Namibiese en Angolese wetenskaplikes, gegradueerdes en studente verbonde aan instellings wat navorsingsvennote in dié projek is.

Dit sluit in die Universiteit van Namibië, die Nasionale Mariene Inligting-en Navorsingsentrum en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.